Om verlief te raak, is so maklik soos om uit ’n boom te val. Om vir ewig vir mekaar lief te bly, verg dikwels méér as net hare op die tande. Dit lyk in baie gevalle selfs onmoontlik…
In die DVD-reeks Staying in Love deur die gewilde leraar en spreker Andy Stanley, vertel hy dat jy ’n plan (maak liefde ’n werkwoord) nodig het om lief te bly vir jou maat en dat jy God se liefde vir jou as voorbeeld moet gebruik van hoe om onvoorwaardelik lief te hê. Maar waar kom al die gevoelens vandaan wat jou maat se woorde en dade in jou ontroer?
Hoe is dit moontlik dat twee mense voor ’n preekstoel kan staan en belowe dat hulle mekaar vir altyd sal liefhê, en beloof dat hul maat die “enigste een” vir hulle is tot die dood hulle skei, en dan . . . dat hulle mekaar vyf of tien jaar later háát? Om die waarheid te sê, hulle haat mekaar meer as wat hulle enige ander individu op aarde haat. Dit is vreemd, maar dit gebeur. Die mens vir wie jy eens jou diepste belofte gegee het, is die mens wat jy nou die meeste verag.
Waarom is dit só dat wanneer jy twee mense ontmoet wat gaan skei, hulle sal sê dat hulle net nie meer lief is vir mekaar nie? En dat baie van hulle oop is vir die gedagte om weer op iemand anders verlief te raak?
Raak weer verlief op mekaar
Andy skerts dat hy ’n baie slim plan het. Waarom raak dié twee persone nie weer op mekáár verlief nie? Dis makliker en goedkoper! Dit sou makliker gewees het as mense in verhoudings ingegaan het met ’n vol en gesonde hart. As daar in jou verlede net wonderlike verhoudings was, sou jy mos geen bagasie gehad het nie. As dit só was, was al wat julle moes doen, om mekaar eerste te stel. Maar paartjies gaan gewoonlik nie in verhoudings in met daardie tipe verlede nie. Ons noem dit bagasie. Ons almal is eintlik effens verrinneweer.
Meneer en mevrou Beker
’n Mens kan dit vergelyk met die beeld van twee koffiebekers: Meneer en mevrou Beker. Meneer Beker is vol blou kraletjies en mevrou Beker is vol pienk kraletjies. Toe hulle mekaar aanvanklik ontmoet het, was hulle baie versigtig rondom mekaar. Hy wou haar hart wen en sy wou sy toegeneentheid wen.
Net ’n maand na hul troue stamp hulle skielik teen mekaar en daar val van beide se kraletjies uit. Daar het nou skielik goed uitgekom wat hulle nog nooit voorheen by mekaar gesien het nie en elkeen wonder: Waar kom dít nou skielik vandaan? “Ek het nie geweet jy het woedeprobleme nie,” sê die een. “Ek het dit nie gehad totdat jy aan my gestamp het nie,” sê die ander.
Meneer Beker dink die rede waarom blou kraletjies uit hom spat, is omdat sy vrou heeltyd aan hom stamp. Mevrou Beker dink dieselfde. Die eintlike rede waarom dit gebeur, is omdat al daardie goed binne-in elkeen van hulle is. Jy weet net nie wat alles binne-in jou is totdat jy gestamp word nie. Daardie kraletjies kom uit, want dit is binne-in jou. Jy blameer egter altyd die een vir wie jy die liefste is.
Kyk na wat binne-in jou is
Julle sal moet leer om aandag te gee aan dit wat binne-in elkeen van julle is. Spreuke 4:23 sê: “Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.” Pas dit op wat vir jou waardevol is. Al hierdie dinge kom gewoonlik uit in die verhouding wat vir jou die belangrikste is. Wanneer jy in ’n volgende verhouding beland, sal die kraletjies wéér uitkom. Jy gaan later dink: Ek was nou al in ’n verhouding met vier mense wat dieselfde probleem oor en oor het.
As jy net met goeie herinneringe in die huwelik gekom het, was die toestand van jou hart waarskynlik gesond. Maar as jy nog nooit gewaardeerd gevoel het nie, is dit moeiliker vir jou. Dit maak nie saak met wie jy in ’n verhouding is nie, jy gaan nooit goed genoeg voel nie.
Die probleem is dat jy jou maat se gedrag met ’n arendsoog monitor, maar nie die toestand van jou eie hart nie. Hierdie goed wat binne-in elkeen is, gaan altyd uitkom. ’n Mens sê altyd dat jy moet dink voordat jy praat, probeer om te stop en te dink oor hoe jy voel, voordat jy praat. Vir vroue is dit dalk makliker as vir mans.
Sê duidelik dit voel vir jou asof jou maat jou nie lief het nie, jy voel soos ’n mislukking, jy voel oud, simpel, eensaam, verstoot, buite beheer, bang, verkul, dit voel asof daar op jou gepik word, jy voel jaloers, onseker, asof jy nie met respek behandel word nie. Sê dit hardop, al is dit aanvanklik net eers vir jouself. Dink daaroor. Waarom laat voel ’n ander persoon se sukses jou soos ’n mislukking? Onderskei tussen dit wat jou maat sê en dit wat jy voel, want dit dryf ’n wig tussen julle in.
Laastens is dit belangriker om daadwerklik te werk aan die verhouding wat jy het. Elke nuwe verhouding word “ingekleur” met verliefde gevoelens, maar om daardie gevoelens te behou, het jy nodig om oop-oë daarna te kyk en met ’n oop hart daaraan te werk.
Dr Elmari Mulder-Craig, seksuoloog, verhoudings- en huweliksterapeut, gee die volgende wenke:
- Evalueer die verhouding: Vra jouself af wat julle die graagste in julle verhouding wil verander, en hoe. Laat jou maat dieselfde doen. Skryf julle doelwitte neer. Sorg dat dit prakties en uitvoerbaar is. Kry ’n saamdoen-aktiwiteit wat vir julle albei lekker is. Veral mans kla dikwels dat hulle nie weet wat hulle vrouens eintlik van hulle verwag nie. Praat dus oor die verhouding. Stel ’n balansstaat op en fokus op al die positiewe aspekte in julle verhouding. Dink terug aan die tyd toe julle nog uitgegaan het, hoekom julle op mekaar verlief geraak het, en onthou daardie vlinders in jou maag.
- Prikkel mekaar se jagtersinstink: Verbeel jou jy is enkellopend en jou maat is die maat wat jy tot elke prys moet hê. Wees net so subtiel soos jy destyds was toe julle nog uitgegaan het. Flankeer as vrou en maak die jagter in hom van voor af wakker. Bedwelm hom of haar met jou teenwoordigheid. Doen soms doelbewus iets onvoorspelbaar, soos om vir ’n paar minute op sy skoot te sit of jou arms van agter om haar lyf te sit. Maak hom bewus van jou vroulikheid, en maak haar bewus van jou teenwoordigheid en omgee.
- Verander jou styl: Verander soms jou haarkleur en haarstyl en speel met ander klere as wat jy gewoonlik sal dra. Eksperimenteer en waag met jou voorkoms. Wees soms speels en eet saam pasta met Chinese stokkies! Ontbyt mag ook maar soms kaaskoek en Coke in die bed wees!
- Doen die ondenkbare: Moenie voorspelbaar wees nie. Probeer soms soos die ander geslag doen en dink. Koop vir hom twee rugbykaartjies vir ’n belangrike toets eerder as die lekker naskeermiddel waarvan jy hou. En gee dalk eerder vir haar ’n geskenkbewys vir ’n massering as ’n nuwe stel potte vir die kombuis.
- Wys jy stel belang: Julle beroepe verskil dalk hemelsbreed en jy verstaan dalk nie alles wat jou maat van agt tot vyf elke dag doen nie, maar wys jy stel belang. Vra mekaar uit oor julle dag, gee mekaar erkenning vir prestasies en ondersteun mekaar.
- Werk aan afsonderlike groei: Al word jy op jou troudag deel van ’n huweliksvennootskap, bly jy ’n individu. Geen mens behoort sy of haar individualiteit ter wille van iemand anders prys te gee nie. Jy is geregtig op jou eie belangstellings en stokperdjies, mits dit nie ten koste van julle verhouding is nie. Dit is ook die manier waarop ’n mens nuwe idees en energie in die verhouding inbring.
- Werk aan gesamentlike groei: Gesamentlike groei is net so belangrik soos afsonderlike groei, en andersom. Wees deel van mekaar se wêrelde. Sorg dat julle altyd die vrymoedigheid het om met mekaar oor julle probleme te praat. As julle mekaar se beste vriende en vertrouelinge bly, sal dit nie nodig wees om dit op ander plekke te probeer vind nie.
- Identifiseer jou verwagtinge: Wat is julle verwagtinge van die verhouding? Bekyk elkeen van jou behoeftes krities en vra jouself af of dit realisties is. Ons kan soms geneig wees om deur ’n rooskleurige bril na verhoudings om ons te kyk en ons het dikwels ’n droombeeld van die “perfekte” verhouding. ’n Gelukkige huwelik beteken ook om sonder grimering met deurmekaar hare wakker te word en om soms die asblik te moet uitdra. Laat vaar dus jou onrealistiese verwagtinge.
- Hou by gesonde roetines: Roetine raak soms vervelig, maar sommige gewoontes soos huisgodsdiens, saam eet aan tafel en om byvoorbeeld Vrydagaande ’n date-aand te hê, het baie voordele. Dit skep standvastigheid, voorspelbaarheid en goeie waardes.
- Dink terug aan die “goeie ou dae”: Wat het jou oorspronklik tot jou maat aangetrokke laat voel? Skryf al sy of haar positiewe eienskappe neer. Prys mekaar vir julle goeie punte. Dink terug aan die dae toe julle uitgegaan het en hoe dit gevoel het. Onthou julle eerste afspraak, julle eerste soen of die oomblikke van afwagting voor julle mekaar gesien het.
- Doen weekliks iets belangriks vir mekaar: Wys julle is daar om mekaar te ondersteun en dat julle omgee vir mekaar. Wees dus op mekaar se behoeftes ingestel. Doen gereeld iets spesiaal vir jou maat (al is dit hoe klein) om te wys dat jy omgee.
- Visualiseer julle laaste oomblikke saam: Dink aan julle laaste tien minute saam. Wat sal julle vir mekaar sê, hoe sal jy voel as jy jou maat nooit weer gaan sien nie en waaroor sal jy spyt wees? As jy nou reeds dié struikelblokke uit die weg kan ruim, sal jy nie nodig hê om eendag skuldig te voel nie. Sê en wys gedurig dat julle mekaar liefhet.
- Beplan ’n erotiese verrassing vir jou maat: Dit is een van die opwindendste en lekkerste maniere om jou sekslewe weer woema te gee. Gee jou kreatiwiteit vrye teuels.
Deur Lize Groenewald