Eenvoud is die vreugde van die lewe!
Dis die moeite werd om jou (verhoudings)lewe te vereenvoudig. Volg hierdie maklike raad en maak ’n onderskatte verskil . . .
Soms moet jy jou huwelik afstof. Spring clean, sodat net die nodige oorbly! In die woorde van Steve Jobs: “Simple can be harder than complex. You have to work hard to get your thinking clean to make it simple. But it’s worth it in the end because once you get there, you can move mountains.”
- Stof die stilstuipe en wrokke uit
Skep ’n dinamiese spasie waar julle vir eens en vir altyd die wrokke en verwyte kan uitsorteer. As dit nodig is, roep ’n berader se hulp in. “Die idee is egter nié om ’n verskoning vir destruktiewe konflik te skep nie,” sê Carien du Toit-Joubert, ’n sielkundige wat spesialiseer in huweliksterapie. “Empatie, vergewensgesindheid en begrip is die mikpunt van hierdie scenario.”
- Verskoon jouself van sommige buitemuurse aktiwiteite
Neem weer jou lys van verantwoordelikhede in oënskou. Het jy (en jou maat) dalk te veel buitemuurse hooi op jul vurke gelaai? Kies een of twee aktiwiteite wat baie van jou tyd opneem, maar waaruit jy nie veel genot put nie, en haal jou naam van die lysie af.
- Skep ’n slaapkamer gepas vir lovers
Tussen kinders (en hulle maatjies), familie, vriende en troeteldiere deur, kan ’n paartjie maklik soos huismaats begin voel! Die hoofslaapkamer is die één spasie in die huis wat nét vir julle is – en dit behoort ook só ingerig te word, sê Carien.
- Sny jou to-do lysie
Beperk jou to-do lysie tot ’n maksimum van tien items. Probeer om ten minste ’n paar items te vind wat uitgeskakel, gedelegeer, geoutomatiseer, uitgekontrakteer of geïgnoreer kan word. Hersien jou beplanning een keer per week en bepaal of jou benadering suksesvol is.
- Sorteer jou werkspasie (en e-posse) uit
“Hoe beter jou produktiwiteit en werksvloei by die werk is, hoe meer energie sal jy oorhê vir jou maat,” sê Carien. “Hoe meer vaartbelyn jou werkspasie is, hoe beter sal jou werksvloei ook wees.”
- Soek mekaar uit om te hoor hoe dit gaan
Moenie wag vir die einde van die dag om vir die eerste keer sedert die oggend-stormloop met jou maat te gesels nie. Bel, e-pos of SMS mekaar sommer net om te hoor hoe dit gaan en om te sê julle is lief vir mekaar.
- Sê soms nee
Jy kan nie almal gelukkig maak nie, sê Carien. “Om ‘nee’ te sê, is ’n skill wat ons almal moet aanleer.” Dit geld vir jou persoonlike en professionele lewe. “Jy hoef nie altyd jou vriende of jou bestuurder se belange eerste te stel nie. Jou huweliksverhouding is jou eerste prioriteit.”
- Kook saam . . .
. . . nie net tussen die lakens nie! Dit maak nie saak wat die dag oplewer nie, ons moet almal elke dag eet. “Om saam kos te maak, kan baie ontspannend wees, veral as dit julle spesiale, daaglikse roetine is,” meen Carien. “Probeer nuwe resepte, geniet ’n drankie en gesels met mekaar.”
- Beproef ’n kontantbegroting
Geld en finansiële bestuur kan merkbaar huwelikstres veroorsaak, sê Carien. Een manier om geldbestuur te vereenvoudig, is deur gebruik te maak van ’n kontantbegroting. Dis maklik: Elke maand word ’n sekere bedrag aan byvoorbeeld kruideniersware geallokeer, en daardie bedrag word in ’n koevert geplaas. Die koevert gaan saam – en die kredietkaart bly tuis – wanneer kruideniersware gekoop word.
- Vry mekaar soos tieners
Dit klink ironies, maar deurdat seksuele omgang ’n normale deel van julle verhouding is, kan dit juis ’n element van vervelige voorspelbaarheid meebring. Vereenvoudig en vernuwe julle verhouding deur voor te gee julle is tieners en mekaar op ongeleë en ongewone plekke witwarm te vry!
- Gee mekaar spasie
Net so belangrik soos wat dit is om tyd saam te spandeer, net so belangrik is dit om ook vir mekaar gemaklike spasie te gun om jul eie belangstellings te ontgin en te geniet.
- Vier jul oorwinnings
Moenie skugter wees om huweliksmylpale en persoonlike oorwinnings te vier nie! Werksbevorderings, skoolprestasies en soms sommer net die dag se uithouvermoë kan net vir die lekker daarvan gevier word – selfs al is dit met ’n klein, merkbare gebaar.
- Pak één kas reg
Beide akademiese studie en persoonlike ervaring beklemtoon dat ’n netjiese en georganiseerde leefspasie frustrasie verminder en meer tyd vir genot en ontspanning tot gevolg het. Moenie oorweldig word nie – kies net één laai of kas per week, en pak dit reg.
- Geniet ’n “varkie-naweek”
As elke liewe naweek en af-tydjie propvol gepak is, gaan julle later oorweldig begin voel tydens die werksweek, sê Carien. “Hou ten minste een naweek per kwartaal met opset oop en geniet ’n ‘varkie-naweek’! Bly die hele naweek in julle slaapklere, maak ’n lekker kermisbed voor die TV en laat wegneemetes by die huis aflewer.”
- Kry prosesse en roetines in plek
Ter wille van tyd, spoed en ’n vaartbelynde dag, kry ’n plek vir elke ding en hou elke ding op sy plek.
- Vestig ’n veilige oorslaapplek vir die kinders
Identifiseer en bou ’n verhouding met ’n kinderoppasser wat julle vertrou sodat julle – selfs op kort kennisgewing – kan wegbreek vir ’n date night of vir ’n sexy naweek vir twee.
- Belê in huweliksverryking
Elke huwelik gaan deur goeie en uitdagende tye, sê Carien. “Soos die Engelse sê: ‘A stitch in time, saves nine.’ Gaan minstens een keer per jaar vir huweliksverryking en versterk jul verhouding terwyl julle mekaar ook beter leer ken.”
- Koördineer huweliks- en lewensdoelwitte
Huweliksmaats neem soms (verkeerdelik) aan dat hulle in dieselfde rigting kyk. “’n Groot gesin weerspieël dalk vir jou ’n suksesvolle huwelik, terwyl jou maat dalk ’n lewensdoelwit gestel het om baie te reis,” verduidelik Carien. “Vind die goue middeweg sodat julle ’n wen-wen benadering kan volg.”
- Eet maaltye saam
Probeer om minstens een maaltyd per week as gesin saam te geniet. Maak dit ’n spesiale ritueel en ’n aangename ervaring, waar elke lid van die gesin ’n spasie en tyd kry om van hom- of haarself met die gesin te deel.
- Gee terug aan jul gemeenskap
Kry weer perspektief oor wat werklik belangrik is deur jou tyd as vrywilliger aan te bied. Meld aan by die plaaslike Dierebeskermingsvereniging (DBV), sit ’n hand by die kerk se sopkombuis of maak Kerspakkies vir minderbevoorregtes op. Kry sommer die hele gesin betrokke.
Deur Anja van den Berg