In die malle gejaag, ná ’n reeds besige dag, om aandete voor te berei en die kinders gebad te kry, is dit baie moontlik dat badtyd as net nog ’n taak wat afgehandel moet word gesien word. Dit kan egter ’n kosbare tydjie wees om saam met jou jong kind te spandeer waartydens jy ook ’n noodsaaklike opvoedingstaak kan verrig wat moontlik tot sy veiligheid in die toekoms kan bydra.

Promosie

Idees vir badtyd vir kleuters en peuters:

  • Gesels met hom oor privaatheid (meer inligting word verskaf verder in hierdie artikel).
  • Gebruik die tyd om met hom te gesels oor sy dag en hom te vertel van jou dag.
  • Vra spesifieke vrae eerder as om net te vra: “Hoe was jou dag?” Jy mag dalk net “okei” terug kry. Vra byvoorbeeld: “Hoe gaan dit met dié of daardie maatjie? Wat was anders vandag? Wat het jy geniet vandag? Waarvan het jy nie gehou vandag nie?”
  • Deel ook met jou kind oor jou dag. Jy hoef nie al die spanning van jou dag op hom af te laai nie, maar jy kan moontlik dalk iets sê soos: “My dag was nie so lekker nie. Ek was kwaad vir iemand by die werk. Ek gaan môre met hom moet praat daaroor.” Deur jou emosies te deel, help jy ook jou kind om homself/haarself uit te druk.
  • Indien julle as gesin deur ’n moeilike situasie gaan (dood, egskeiding ens.), kan badtyd ’n geleentheid wees waartydens jy en jou kind kan gesels oor die situasie (op ’n manier wat gepas is vir haar ontwikkelingsfase).

Naaktheid en privaatheid . . . wat is gepas?

Navorsing aangaande die uitwerking op kinders ten opsigte van blootstelling aan naaktheid in die huis is beperk en die resultate blyk teenstrydig te wees. Kenners het ook verskillende menings. Sommige meen dat die afsnypunt vir bad van kinders saam met hulle ouers as twee jaar vasgestel moet word. Ander meen weer dat sodra ’n kind geslagsdele kan identifiseer, die tyd daar is om naaktheid voor hom te beperk of te vermy. Dit geld moontlik ook vir saam met boetie of sussie bad.

Promosie

Kinders gee ’n mens egter dikwels self ’n aanduiding of hulle gemaklik is of nie. Hulle kan dalk hulself toemaak, oogkontak vermy of skaam wegkyk. Alhoewel kinders aandui wanneer hulle gereed is vir privaatheid, is dit nog steeds vir die ouer om te besluit indien dit vroeër sou nodig wees om kinders apart te laat bad of aantrek.

Op die ou end is die kenner wat die meeste saak maak, jy as ouer self. Kyk na jou kind vir leidrade. Luister hoe hy of sy praat oor sy liggaam en andere se liggame. As iets nie reg of gepas voel nie, luister na jou gevoel oor die situasie. Jou kind se behoeftes is so uniek as wat hy of sy is.

Leer jou kleuter/peuter oor privaatheid

  • Praat vroegtydig oor liggaamsdele. Gebruik sover moontlik die korrekte name vir liggaamsdele.
  • Leer jou kind grense:
  • Watter dele privaat is en nie aan geraak mag word deur ander nie.
  • Net die dokter of sorggewer/ouer mag aan kinders se privaatdele raak vir salf aansmeer of tydens siekte.
  • Daar mag ook nie aan ander se privaatdele geraak word nie.
  • Wanneer, waar en hoe hy aan sy eie privaatdele mag raak.
  • Verduidelik aan jou kind dat niemand hom behoort te vra om ’n geheim te hou oor sy liggaam en privaatheid nie.
  • Leer jou kind dat niemand foto’s van hulle private liggaamsdele mag neem nie.
  • Leer jou kind so ver jy kan hoe om uit situasies te kom wat hom bang maak of ongemaklik laat voel en dat niemand hom/haar behoort te vra om ’n geheim te hou oor sy liggaam en privaatheid nie.
  • Maak dit duidelik aan jou kind dat hy nie in die moeilikheid sal wees as hy vir jou ’n geheim vertel of iets aangaande sy liggaam nie.
  • Wys jou kind dat dit wat met jou gedeel word met die nodige aandag en erns hanteer word en jy sal optree waar nodig. Maak jou kind gewoond daaraan om “klein” en “groot” dinge met jou te deel.
  • Sorg dat jou kind verstaan dat “goeie” mense of mense wat aan hom/haar bekend is, ook nie aan sy private dele mag vat nie. Woorde soos “goeie” aanraking en “slegte” aanraking kan verwarrend wees vir ’n kind aangesien onvanpaste aanraking aan geslagsdele soos streel of kielie goed kan voel, maar nie gepas is nie.

Jou tiener en privaatheid

Jy het heel moontlik op meer as een geleentheid al van jou tiener min of meer die volgende woorde gehoor: “Ek soek ’n bietjie meer privaatheid.” Die behoefte aan privaatheid is ’n natuurlike deel van adolessensie. Terselfdertyd het tieners (of hulle dit wil erken en glo, of nie) steeds ondersteuning nodig om goeie besluite te neem. ’n Vertrouensverhouding wat reeds baie vroeg gekweek word, is moontlik die sleutel tot ’n balans tussen jou tiener privaatheid gun en genoeg inligting hê om voldoende betrokke by sy/haar lewe te bly.

Uitermatige geheimhouding of aandrang op privaatheid en onwilligheid om te kommunikeer kan moontlik waarskuwingstekens laat afgaan. Dit mag nodig wees om uit te vind wat die gedrag beteken sonder om tot vinnige gevolgtrekkings te kom en hom net verder weg te dryf. Waarskuwingstekens moet egter nie geïgnoreer word nie en kan moontlik tekens wees van depressie, angs, rook, alkohol- of dwelmgebruik, ander skadelike aktiwiteite of dat hy/sy te veel tyd alleen spandeer op die rekenaar/selfoon/Internet.

Dit kom dikwels voor asof ouers bang is vir hulle tieners. ’n Tiener is nog nie volkome gereed om die volwasse wêreld op sy eie te hanteer nie. Sy brein is nog nie ten volle ontwikkel nie en hy kan impulsiewe besluite neem en oordeelsfoute begaan. Dit is dus noodsaaklik dat jy weet wat aangaan in sy lewe. Monitor jou tiener sonder om sy privaatheid weg te neem. Deur jouself af te vra: “Wat het ek nodig om te weet om sover ek kan sy veiligheid te verseker?”, kan moontlik help om ’n balans te handhaaf tussen privaatheid respekteer en genoegsaam betrokke by hom te wees.

 

Deur Clarette Lubbe