Dis ‘n lekker gevoel om te weet jy het die jackpot geslaan. Dis heerlik om foto’s van jou turkoois-water-vakansie te plaas, met manlief se hand om jou heupe, glas sjampanje in die hand. Met natuurlik die hashtags …
Sosiale media is ‘n fantastiese manier om vir ander mense te wys wat jy graag wíl wys. En jy kán. Met slim hoeke, filters, hutstekens en cropping tools, kan jy die perfekte prentjie skep. En natuurlik post jy nie foto’s van die deurmekaar kombuis, die donker kringe onder jou oë en die baie vervelige Saterdagaand voor die kassie nie. Jou buurvrou en haar beste vriendin ook nie! Maar tog vergeet ons dit, en voor jy jou oë uitvee, dink jy dat jou man níé so #oulik#hot#romanties#hunky is soos haar man nie. En jy wonder hoekom jou huwelik so bóring is! Vergelykings is gevaarlike dinge. As ‘n paartjie is dit makliker om jaloers te raak. Ben en Susan se huis is soveel groter teenoor julle posseël. Magda en John se kinders is soveel soeter teenoor julle terroriste. Deborah en Dean se vakansies is so eksoties teenoor julle Aventura-kamp avonture…
Maar jy ken nie die realiteit agter die foto nie. Op Bustle.com se Mabel Yiu, stigter van die Women’s Therapy Institute: “Ons sien ander paartjies se gelukkige foto’s op Instagram; ons breine aanvaar dat die paartjie 24/7 dolgelukkig is en dan evalueer ons ons eie verhouding omdat ons sopas baklei het.”
Jy weet nie dat Ben en Susan eintlik sonder ‘n huis sit nie (hulle woon in Ben se sussie se huis). Dat Magda se oudste ernstig rebelleer en haar ‘vakansie in Rio’ eintlik ‘n besoek aan ‘n rehabilitasiesentrum was. En Deborah en Dean is kniediep in die skuld en raak elke aand kwaad vir mekaar aan die slaap. Ja, julle huwelik is beslis nie soos hulle s’n nie, maar is dit werklik so sleg? Want julle is uniek, eiesoortig en anders – en waarskynlik beter daartoe af!
Wat maak jy as almal se huwelike beter as julle s’n lyk?
1. Lê klem op jul unieke verhouding. Jy het met jou maat getrou vir sy/haar eiesoortige sterk punte en persoonlikheid. Natuurlik gaan jou maat jou nooit volkome aanvul nie. Dit is waarom jy vriende, kollegas, selgroep-maats, mentors en familie het. Dit is heeltemal normaal om soms uit voeling met jou maat te voel, maar as jy begin dink dat ander paartjies meer “gelukkig” as jy is omdat hulle meer vry, minder baklei of alles het wat hul harte begeer, maak jy ‘n fout.
2. Fokus op dit wat jy wel het! Sien jy dit nie raak nie, kan jy só gefokus raak op dit wat jul huwelik kortkom, dat jy begin om jou maat te verwyt vir jul tekortkominge. Jy raak blind vir jou seëninge. So, die oomblik wat jy die jaloesie voel opstoot, trek ‘n pen en papier nader en lys al die goeie dinge wat jou maat vir jou en jul gesin doen. Die kans is goed dat jy heeltemal deur dankbaarheid oorweldig sal word. Ja, jou maat is nou nie die tipe wat met jou op Facebook spog, jou sy #superwoman noem en sewe harte daarna plaas nie, maar hy het ander eienskappe. Elke keer wanneer jy minder-as-genoeg voel, kom sit hy by jou in die bad en was jou rug en sê vir jou vir hom was jy nog nooit so mooi nie…
3. Wees realisties. Géén huwelik is maanskyn en rose 24uur van die dag, sewe dae van die week nie, al lyk dit so! Die lewe is vol hoogtepunte en laagtepunte en om paniekerig te raak die oomblik wanneer julle nie op die kruin staan nie, gaan jou vol teleurstelling los. Kyk na al die positiewe aspekte want táns in jou huwelik heers. Ja, julle gaan dalk deur geldelike spanning, maar die feit dat julle jul DSTV moes konnekteer, beteken meer een-tot-een tyd en in-diepte gesprekke met mekaar. En more lyk dinge beter!
4. Hou jou oë op jul reis. Wanneer jy gereeld oor die draad na die groener gras loer, kan jy só weggevoer raak dat jy jul eie reis miskyk. Jy kan só hard daaraan werk om by te hou met die Du Toit’s se huisrestourasie, die Zimmermans se blog, en die van Aswegens se betrokkenheid in die buurt dat jy soos ‘n sepieverslaafde húl realiteit joune maak en jul eie reis vergeet. Julle reis lyk heeltemal anders as enigiemand anders s’n. En julle kan van koers afraak as jy nie aandag hieraan gee nie.
5. Kyk bietjie met ‘n vergrootglas na jouself. Wanneer ons ons maats met ander vergelyk, plaas ons onsself dikwels op ‘n troontjie: “My maat is beslis nie so ambisieus soos Tanya s’n nie, ek dink ek verdien ‘n man wat net soveel dryf soos ek het…” Kom ‘n bietjie terug aarde toe. Want vir elke negatiewe gedagte wat jy oor manlief koester, kan hy dieselfde oor jou doen. Sien jou maat deur Christus-oë – met liefde, genade en vergifnis.
6. Neem ‘n breuk van sosiale media. As jy agterkom dat vergelykings vir jou ‘n probleem begin word, haal dié programme wat jou die meeste affekteer, van jou telefoon af. Of beperk jouself wat tyd aan betref (bv. “Ek mag elke oggend net ‘n halfuur na opstaantyd my sosiale media beloer”).
As jy beleef hoedat jy iemand anders se huwelik begeer, kan die fout by jou eie perspektief lê… maar dit kan ook beteken dat jy eintlik net diep ongelukkig met jou eie situasie is en dat jou gevoelens geregverdig is. Evalueer waar jou ontevredenheid vandaan kom en as die probleem by julle lê, praat met jou maat oor dit wat jy graag sal wil sien verander. Moenie beledig nie, moenie kritiseer nie, maar help om saam met jou maat aan ‘n plan van aksie of oplossing te dink – sonder om vergelykings te tref!
Tevredenheid met jou huwelik is een van die kosbaarste dinge wat jy kan hê. Maar solank jy jul huwelik met ander gaan vergelyk gaan daardie tevredenheid jou nooit beskore wees nie. Maak dus seker dat júlle die paartjie is wat beny word. Sonder dat julle énige selfies hoef te plaas.
Artikel deur Annelize Steyn
Addisionele bronne: www.thedatingdivas.com; www.chelseadamon.com; www.symbis.com; www.gameplanhappilyeverafter.wordpress.com