Hoe gemaak as die huwelik dit net nie meer vir jou dóén nie? As jy dink aan julle twee en gaap van verveling …
“Ek moes dit gesien kom het – ons moes al lankal iets gedoen het aan ons verveeldheid met mekaar!” vertel Leani. Sy was geskok toe Werner aankondig sy gevoelens vir haar is dood en dat hy net nie meer só kan voortgaan in hulle huwelik nie. Sy het gedink hulle was nog eintlik heel okay. Hy het net glad nie meer belanggestel daarin om enige energie in hulle verhouding te plaas nie en het gesê dat hy al vir jare lank ervaar dat hulle soos twee verveelde kennisse weg van mekaar gedryf het. Drie maande later is hulle geskei. Nóg drie maande later het sy gesien dat hy dolverlief met sy nuwe vriendin in ’n restaurant sit en gesels. Allermins vervééld! Leani kon sien hoe energiek en geïnteresseerd hy lyk, sy oë vasgenael op die vrou asof hy aan elke woord van haar hang.
Leani se kop was vol vrae. Wat het dan verkeerd gegaan en waar langs die pad moes sy die rooi ligte sien flikker het?
Wat kon sy daaraan gedoen het om hulle verhouding te red? Sê nou maar hulle twee kon die tekens vroeër raaksien en hulle kon weer meer energie in hulle verhouding ingestort het, weer meer geïnteresseerd gewees het in mekaar, met mening in mekaar se oë gekyk het en aan mekaar se woorde gehang het – sou sý nie nou die vrou kon wees wat saam met Werner gesit het en oor die restauranttafel diep dinge met mekaar kon deel nie?
In die begin …
Verhoudings werk só – elke nuwe paartjie is vreeslik opgewonde oor die proses om mekaar te ontdek. Hulle is altwee vreeslik in hul noppies met die ontdekking van hierdie wonderlike maat! Hulle is ondersoekend, belangstellend en geïnteresseerd. Daar word vreeslik baie energie daarin gestort om elke moontlike eienskap van mekaar te leer ken, altwee stel belang in die ander een se behoeftes. Elkeen het ’n oorweldigende behoefte om te géé vir hierdie wonderlike nuwe maat. Elkeen het ook baie waagmoed om dinge te deel en luister met belangstelling.
Hulle verskuif emosionele berge, ondersteun mekaar se drome, bou saam aan nuwe drome en ervaar dat hulle dinge saam doen wat nie een van hulle op hulle eie sou kon doen nie. Hulle is absoluut toegewyd aan volgehoue ontdekking van mekaar en vind die hele tyd nuwe maniere van een word en geheg raak. Hulle is aanvanklik heeltemal gemaklik met hierdie prosesse en vind emosionele veiligheid in hierdie avontuur van mekaar ontdek. Hulle is nie bang om dinge van hulself met mekaar te deel nie en vind mekaar heerlike “net-buite-bereik” prooi. Elkeen is vir die ander een vreeslik interessant, stimulerend en hulle dra die hele tyd aan mekaar boodskappe oor wat hoop gee en aanvaarding wys. Saam genereer hulle nuwe betekenis van “lewe”.
Êrens langs die pad
Ons aanvaar dat ons verbind is – die “jag” is verby en ons begin wegkruip vir mekaar.
Soos die verhouding groei en die paartjie langer aan mekaar toegewyd is, ontwikkel hulle albei ook die bewustheid dat die verhouding nou in ’n nuwe fase is – hulle is nou aan mekaar verbind en hoef nie meer voor te gee nie, maar het nou ’n groter behoefte om nie net te gee nie, maar om ook te ontvang! Elkeen voel dat hulle wil hê die ander een moet hulle veilig laat voel.
Elkeen raak ook meer bewus daarvan dat hulle nou ’n groter behoefte het aan ’n waarborg dat hierdie kosbare verhouding vir ewig sal aanhou. Hulle besef onbewustelik dat die verhouding nie vir altyd só intens sal kan bly nie en begin onseker voel oor hul eie vermoëns om dié wonderlike maat te kan behou – “Hy begin my nou al so goed ken, sê nou maar hy sien ek is nie regtig perfek nie?” Hulle besef ook onbewustelik dat, hoe meer heg die verhouding raak, hoe seerder gaan dit wees as dit tot ’n einde moet kom. “Ek kan nie meer my lewe sonder hom indink nie!”
Nou skop ’n verdedigingsmeganisme in en elkeen wil hoor sy/haar maat sal hulle liefhê – vir ewig. Mense begin dan dikwels meer gevoelens van mekaar wegsteek – ons sê nie meer as ons ongelukkig is oor iets nie, probeer ons swakhede wegsteek, deel nie meer ons diepste gevoelens nie. Paartjies deel dan dikwels net dít wat hulle glo vir hulle maats aanvaarbaar sal wees. Elkeen gaan ook in ’n gemaksone in waar hulle minder energie in die verhouding hoef in te sit. Hulle raak gewoond aan mekaar en aan hierdie gemaksone. Die verhouding is nou al kwesbaar en klein struikelblokke kan groot skade aan die verhouding doen op hierdie stadium.
Hierdie vaal sone ontwikkel nie oornag nie. Die rooi ligte van verveeld wees met mekaar flikker al wanneer dinge só lyk:
• Die paartjie ontwikkel baie rituele wat nagevolg word uit gewoonte en min vreugde verskaf – alles word voorspelbaar.
• Albei stel min belang in die ander een se opinies, behoeftes, drome en gevoelens.
• Daar is min motivering om dinge anders te doen.
• Albei maak al hoe meer afleidings oor hoe hulle maat dink en voel – eerder as om met belangstelling uit te vra.
• Hulle doen min moeite om die ander een opgewonde, gelukkig of tevrede te maak.
• Hulle het minder gesprekke oor emosies, dieper dinge, geluk en filosofeer minder oor die lewe.
• Die paartjie doen al hoe minder dinge saam wat ten minste een van hulle of albei baie geniet.
• Elkeen raak al hoe meer betrokke by ánder dinge – werk, sport, kinders, stokperdjies, TV kyk, alkohol- of dwelmmisbruik, ’n verhouding met iemand anders.
Ernstige verveeldheid
’n Mens behoort in hierdie fase die duidelik flikkerende rooi ligte raak te sien en dit lyk só:
• Die paartjie het byna niks meer gemeen nie.
• Niks aan die een verras die ander een meer of maak hom/haar opgewonde nie.
• Min dinge word gevier en hulle is oor min dinge saam nostalgies en sentimenteel.
• Wanneer die een graag gehoor wil word en tyd of aandag vra, gee die ander een kortaf of wegwysende oppervlakkige antwoorde wat eintlik sê: “Ek stel nie regtig belang nie” of “Moenie emosioneel naby my kom nie”.
• Julle doen byna alles as gewoontes op dieselfde manier, altyd heeltemal voorspelbaar.
• Julle emosionele of seksuele verhouding stagneer en julle sit min energie daarin.
• Dis vir nie een van die twee meer belangrik om die ander een gelukkig te maak of plesier te gee nie.
• Saamwees voel vir julle soos harde werk.
• Albei wil eintlik graag die hele tyd besig wees met iets anders, eerder as om dinge saam te doen.
• Julle voel oor min dinge soos ’n span.
• Een of albei raak betrokke in ’n verhouding met iemand anders.
Is daar raad as julle die rooi ligte van verveeldheid sien flikker?
Die kleinste poging kan baie hoop gee. Hoop skep energie!
1. Begin by jouself – fokus daarop om jou voorspelbare roetine, voorkoms en uitkyk op die lewe uit te daag en waag om jouself te ondersoek. Waag om soms meer onvoorspelbaar te wees en om te groei. Doen enigiets anders as gewoonlik!
2. Waag, wees eerlik en deel van jou intieme emosionele gedagtes met jou maat. Praat vir ’n slag oor moeilike onderwerpe soos seks, oudword, alleenwees, jou skoonouers, jou verlore drome …
3. Verras jou maat met iets wat jy weet vir hom of haar plesier sal gee – ’n lekker uitstappie, geskenk, tyd alleen saam, vertel vir mekaar ’n grap, lees vir hom iets wat hom sal laat lag, vryf sy skouers wanneer hy moeg is, wees meer speels in die bed, dra ’n sjampanje-glasie met sjampanje of gaskoeldrank aan of steek ’n sterretjie (sparkler) aan …
4. Beplan uitgaan-aande en onderneem om mekaar belangstellend uit te vra oor julle binnekant – wat dink jou maat, hoe voel hy/sy, waaroor droom hy/sy, wat was hulle lekkerste of slegste herinnering waarvan jy dalk nog nie weet nie? Vertel mekaar weer wat is julle beste eienskappe. Vra weer uit oor die detail van iets wat jou maat opgewonde maak – al dink jy jy het al alles gehoor.
5. Dink weer saam speletjies uit waarvan julle albei hou – fisiese avonture, deel ’n interessante boek of webwerf, behou ’n sin vir humor en lag vir jouself, ’n eenvoudige skattejag, gooi ’n frisbee of blaas seep-borrels. Solank julle speelsheid, opwinding en pret ervaar.
6. Doen moeite om mekaar raak te sien en te waardeer vir wie julle is – vir dinge wat die ander een doen en vir die ander persoon se voorkoms – soek iets in jou maat waaroor jy weer opregte komplimente kan gee en waarvoor jy waardering kan wys.
7. Fokus op sensuele voorspel wanneer julle seks het. Spandeer rustig tyd aan mekaar se lywe en bederf mekaar fisies.
8. Bederf mekaar met iets wat vir die ander een lekker sal wees.
9. Doen iets saam wat julle nog nooit of lanklaas gedoen het – neem ’n dansles, gaan ’n naweek op ’n huisboot weg, pak ’n avontuur aan, gaan na ’n lewendige musiekvertoning toe, gaan speel by ’n pretpark …
10. As jou maat alleentyd nodig het – gun hom of haar dit met oorgawe en gesels na die tyd oor sy of haar ervaring daarvan.
11. Gesels oor ’n balans tussen herontdekking van mekaar met belangstelling en opwinding, en die gemaklikheid van veilig voel binne julle gevestigde verhouding. Onderneem om tye of geleenthede te skep vir die opwinding en om tye te hê wanneer julle net gemaklik met mekaar kan wees.
12. Onderneem om periodiek (julle kan besluit hoe dikwels – bv. elke jaar met julle huweliksherdenking), mekaar uit te vra oor hoe opwindend julle jul verhouding ervaar en wat julle kan doen om die vuurwerke weer aan die brand te steek.
13. Speel, lag, wys waardering en vier die dinge wat vir julle belangrik is en wat van julle twee ’n span maak. Doen dit alleen, saam met die kinders en saam met vriende – herinner ander ook dat julle nog opgewonde is oor mekaar.
Verveeldheid is ’n teken daarvan dat julle mekaar as vanselfsprekend begin aanvaar het en van julle eie emosies en gedagtes oor jul lewe wegkruip – wees wakker en op die uitkyk as die rooi ligte begin flikker. Alle paartjies ervaar ’n afname in die wonderlike belewenis van verliefdheid, maar aan verveeldheid kan daar beslis gewerk word! Baie mense neem nie die besluit om wel te reageer op die waarskuwingstekens nie en laat toe dat hulle verhouding agteruitgaan. Hulle verloor dan alle motivering en kan geen energie in die verhouding insit nie, maar as hulle wel skei en in ’n nuwe verhouding betrokke raak, ontdek hulle skielik dat hulle weer energie het om in ’n splinternuwe verhouding in te sit!
Plaas liewer julle energie in julle twee se verhouding. Doen introspeksie, kyk binnekant jouself en woeker met die dinge wat jou weerhou daarvan om ondersoekend, belangstellend en geïnteresseerd in jou maat te wees. Soek dinge in julle verhouding wat dit vir julle weer opwindend kan maak. Praat met mekaar oor wat julle twee kan doen – nou en in die toekoms – om te voorkom dat julle ooit verveeld sal raak met mekaar!
Artikel deur WILMÉ STEENEKAMP