Dit is heeltemal normaal om weer te verlang na daardie maag-vlinders, die deurnag-gesprekke, die vryery-sonder-einde…

Promosie

Almal waarsku jou en nou het jy dit eerstehands beleef: Die wittebroodsfase kan nie vir ewig duur nie. Na ‘n paar maande is julle gewoond aan mekaar se teenwoordigheid. Julle het mekaar se stories al telkemale gehoor. Hy weet hoe lyk jy met ‘n dik verkoue en sonder grimering. Sy ken al jou liggaamsreuke en jou onvermoë om ‘n nat handdoek op te hang.

Natuurlik is dit só dat dinge nie so opwindend gaan wees soos in die begin nie. Tóé het die adrenalien nog gepomp. Julle was effe onseker van mekaar en van jul lewe saam… maar nou, soveel jare later en julle het ‘n behoorlike huwelikskaart: Van die pieke, die dongas, die moerasse en die mooiste sonsondergange.

Om iemand op daardie vlak te ken, beteken julle is waarlik toegewyd en daar is ‘n ander intimiteit wat nie daar was toe julle pas getroud was nie. Maar as julle steeds die opwinding van daardie eerste paar maande mis, hier is ‘n paar idees:

Promosie
  1. Gaan weer op jul eerste afspraak

Onthou jy dit nog? Jy was so onseker oor wat om aan te trek. Hy het lomp die deur vir jou oopgemaak en toe het julle koppe gestamp. Die krag het afgegaan in die middel van die fliek en toe het julle ‘n pizza gedeel (julle kon nie twee pizzas op ‘n studente-begroting bekostig nie!). Hoe ook al jul eerste afspraak afgeloop het, herskep dit so goed soos julle kan. Selfs al beteken dit dat julle lyk soos ‘n paartjie wat na ‘n 80’s partytjie toe gaan. Laat manlief aan jou deur kom klop. En onthou dat ‘n warm gevryery van die tafel af is – dit is mos jul eerste date!

  1. Pak een keer per jaar iets nuuts aan

Besluit op ‘n ENA (Een Nuwe Avontuur) wat julle jaarliks saam gaan aanpak. Dit kan ‘n dag-geleentheid wees of ‘n week-lange ervaring wees. Besluit op ‘n datum (soos jul huweliksherdenking) en doen dit met die gedagte dat julle nooit mag stagneer nie en altyd saam moet groei. Die avontuur kan enigiets insluit: Julle kan saam leer branderplankry, of leer skilder. Julle kan reis na vreemde lande of julle kan elke jaar op die datum ‘n nuwe uitdaging aanpak, byvoorbeeld: In 2019 gaan ons leer hoe om Oosterse Kos te leer maak. In 2020 gaan ons leer hoe om te Tango. In 2021 gaan ons saam leer gholf speel. Maak die eerste les jaarliks op die dag van jul ENA.

  1. Vervolmaak die klassieke French Kiss

Wanneer ‘n mens lank getroud is, is jy geneig om die Franse soen op die agtergrond te skuif. Dié maak plek vir piksoene, halflyf-drukkies of ander tipe gebare wat dien as voorspel. Maar moet nooit die waarde van ‘n behoorlike Franse soen onderskat nie en moet nooit dink julle het dié soen onder die knie nie. Wanneer julle dag holderstebolder is (ons praat van daardie gryp-die-kosblikke-terwyl-hy-solank-die-kar-aanskakel scenario’s) vries vir ‘n oomblik, neem jou maat se gesig in jou hande en gaan in vir ‘n behoorlike Franse soen. Moet julle nie steur aan toeskouers nie, inteendeel: As die kinders julle sien, fantasties. Dit wys hulle hoeveel liefde daar tussen julle heers.

  1. Wat van ‘n bietjie rolspel?

Jy het dit al in flieks gesien, maar julle het nog nooit die moed gehad om dit self te beproef nie. Bespreek vooraf dat julle mekaar iewers ‘terloops’ sal ontmoet. Trek jou mooiste, rooiste rokkie aan. En meneer, sorg dat jy ook afgerond lyk. Vir dié afspraak moet julle ‘n baba-oppasser reël en verkieslik verblyf bespreek in ‘n luukse hotel. Kry mekaar in die kroeg-area van die hotel. Gaan sit ‘n entjie uit mekaar en maak of julle mekaar van geen kant af ken nie. Hier begin die ‘ontmoeting’. Dit is belangrik om die rolspel so lank as moontlik te laat duur, voor julle natuurlik nie meer jul lag kan hou nie en saam kamer toe verdwyn.

  1. ‘n Naweek sonder verpligtinge

Ja, julle het waarskynlik gewerk toe julle pasgetroud was, maar dit was dalk meer stresvry. Jy het nog nie soveel verpligtinge by die werk gehad nie en die rekeninge wat betaal moes word, was beslis minder. Daar was nie ‘n paar orrelpypies wat jul aandag geverg het nie en etenstye moes nie vooraf beplan word nie. Vlug terug na daardie dae deur die kinders ‘n hele naweek lank te laat uitslaap. Skuif die werk eenkant toe en doen die naweek nét wat julle wil. As julle die hele naweek in die bed wil bly en GOT wil binge-watch, doen dit! As Kellogs en rooiwyn goed genoeg is om op te oorleef, hou dit sommer byderhand in die kamer. Wat ook al julle doen – ignoreer werk en verpligtinge!

  1. Wees onvoorspelbaar!

Paartjies wat lank reeds getroud is, moet waak teen oorbekendheid. Ongelukkig taan die misterie deur die jare en ken julle mekaar deur en deur. Jy weet byvoorbeeld waar hy sal plek bespreek as julle gaan uiteet, en jy weet sy sal sommer die bespreking namens jou doen, omdat sy weet dat jy dit gaan los tot op nommer 99.  Doen dus van tyd tot tyd iets heeltemal onvoorspelbaars. Gee vir haar ‘n solo-vertoning wanneer sy uit die bad klim met jou elektriese kitaar – in jou Adamsgewaad! Trek vir hom rooi onderklere aan (wat jy weet hy so lief voor is, maar wat jy self nie kan uitstaan nie!). As jou diep kant so ver strek soos Robbie Wessels se verse, memoriseer vir haar ‘n Shakespear-teks. En as hy weet jy’s doodbang vir valskermspring, bespreek ‘n vlug vir hom – en ondersteun hom (as jy jou nie sover kan kry om dit self te waag nie).

  1. Reis al langs Memory Lane…

Laat julleself toe om soms ‘n trip down memory lane te neem. Gesels oor wat julle van mekaar gedink het toe julle mekaar die eerste keer ontmoet het. Kyk saam na jul trou DVD, speel die liedjies wat vir julle spesiale betekenis inhou. Lees die kaartjies wat mense vir julle geskryf het op jul troudag. Blaai foto-albums deur… dis belangrik om sentimentele simbole van jul huwelik byderhand te hou. Gebruik die lelike slaaibak wat jou tannie vir jou op jou troudag gegee het, steek die kers aan wat julle gebrand het op jul wittebrood. Raam die heel eerste foto van julle twee saam en hang dit teen die muur. Koester daardie elemente wat herinneringe herroep.

As jy nou terugdink, kan jy waarskynlik nie glo wat julle al saam oorbrug het nie. Die lewe was soveel kleurvoller as wat jy jou kon voorstel, nie waar nie? Daar was dalk nie soveel romantiese afsprake soos wat jy destyds antisipeer het nie, maar dit het weer plek gemaak vir real life ervaringe wat jy nou vir niks sal ruil nie. Met ‘n klein bietjie moeite kan jy die wittebroodsdae herroep en wie weet… dalk kan jy weer jou maat laat bloos!

Artikel deur Annelize Steyn