Jy het eindelik besluit dat sy die botter op jou brood is! Jy het die ouersvra-seremonie agter die rug, en nou is dit net ‘op-die-knie’ wat jy onder die knie moet kry … maar eers moet jy die perfekte ring soek. Hoe doen jy dit?

Promosie

Hoe goed ken jy jou Eva? Hou sy van verrassings, of verkies sy om in beheer te wees? Sluit haar drome oor haar troudag spesifieke besonderhede in, en het sy reeds bepaal watter geur die troukoek gaan wees, hoe hoog haar tafelruikers moet wees en in watter volgorde die bruidsmeisies moet instap? Dan het sy waarskynlik ook reeds besluit hoe haar ring moet lyk! As jy eerder veilig wil speel, raak verloof met ’n lucky packet-ring, en neem haar om self die ware Jakob te gaan uitkies.

Hier is ’n klompie wenke as jy egter self die ring wil gaan uitkies:

1. Let fyn op, as sy fyn kettinkies en ’n enkele silwer armbandjie dra, is die kans goed dat ’n bonkige, goue ring nié die ding vir haar gaan doen nie. As sy silwerkleurige juwele dra, is witgoud of platinum jou beste keuse, eerder as ’n geelgoud ring. Dra sy oor die algemeen moderne, klassieke, of vintage juwele? Hou sy van diamante, of eerder van saffiere, of robyne? Jou beste riglyn om die regte ring te koop, is om te kyk na wat sy normaalweg dra.

Promosie

2. Luister. Vroue is subtiele wesens (en soms nié so subtiel nie!) As julle al ’n geruime tyd uitgaan, is die kans goed dat sy haar al oor sekere style uitgespreek het. Miskien het sy al iets oor ’n ring in ’n tydskrif gesê, of dalk het sy haar uitgespreek oor ’n vriendin se verloofring. Waarna kyk sy byvoorbeeld as julle by die venster van ’n juwelierswinkel staan?

3. Kyk wat by haar hande pas. ’n Langwerpige diamant kan kort vingers langer laat vertoon. Breë ringe laat vingers korter lyk. Vroue wat lang vingers het, kan bonkige ringe dra, terwyl ’n fyn, delikate ontwerp op groot hande verlore kan raak.

4. Kies die regte vorm en montering. Daar is soveel keuses. Die meeste bruide hou van ronde stene, maar sy verkies dalk ’n marquise, vierkantige, ovaal- of peervormige steen. Harte is ook ’n opsie. Dink jy sy hou dalk van ’n solitêr, of eerder van ’n versameling kleiner diamantjies?

5. Bepaal haar leefstyl. Hoe sal die ring daarby inpas? Werk sy in ’n omgewing waar deftige juwele uit plek lyk? ’n Ring met hoë kloutjies kan aan mense (en materiaal) vashaak en is dalk nie ’n goeie opsie vir elke dag se dra nie.

6. Kyk na die grootte van die ringe wat sy aan haar ringvinger dra. Gaps die ring – of vra ’n vriend, of familielid om dit namens jou te ‘steel’, sodat jy die regte grootte by jou het. Maak net seker dat die ‘dief’ ’n geheim kan hou!

7. Oorweeg ’n los diamant. As jy die romantiek wil behou, maar wil hê dat sy self haar ring moet help ontwerp, oorweeg dit om ’n los diamant te koop om vir haar te wys as jy die groot vraag vra. Julle kan dan saam die montering laat ontwerp.

8. Onthou om met ’n begroting te werk. Ring koop is duur. Moenie jou te veel oor ’n stywe begroting bekommer nie. As jy genoeg tyd en moeite in die voorbereidings- en koopproses sit, sal jy ’n pragtige ring kan opspoor – een wat nié ’n plaas se prys kos nie!