Van uitstel kom afstel . . . en ’n hutspot van frustrasie op die lange duur. Pak die bul by die horings en loop die struikelblokke in jul huwelik en huishouding tromp-op tegemoet!

Promosie
  1. Tackle daardie één kamer, laai of kas (jy weet watter een!)

Julle stel dit nou al vir weke uit . . . maar die motorhuis gaan nie homself regpak nie! En, kom ons wees nou maar eerlik, daardie blink baadjie wat uit die tagtigerjare dateer, gaan nie meer werk vir ’n sexy aandjie uit nie. Sorteer sommer daardie wegsteek-kombuislaai ook in die proses uit. Julle gaan daarna stukke beter voel!

  1. Stel ’n testament op

Die dood is nie ’n algemene onderwerp wat langs ’n braaivleisvuur bespreek word nie, maar dit is ’n realiteit en dit moet hanteer word wanneer dit gebeur. “Dit kan jare neem om ’n intestate boedel af te handel en intussen kan daar massiewe likiditeitsprobleme in die boedel ontstaan,” waarsku Francois Smit van Solidariteit Regsdienste. Werk deur die ongemak en laat ter wille van dié wat julle agterlaat ’n testament opstel.

  1. Oefen

Moenie julself blind staar teen die idee van die Comrades-marathon nie! Gaan stap saam na werk, swem ’n paar rustige lengtes of sluit aan by ’n dansklas. Stadige vordering is beter as geen vordering. En, onthou die goue reël: Dit is veronderstel om lekker te wees en om julle goed te laat voel! Dis ook ’n goeie verskoning om ’n lang, warm, ontspanne stort agterna te geniet . . . 

Promosie
  1. Vertel hom presies wat jou asem laat jaag

Hy dink dalk hy het nét die regte moves wat jou na jou asem laat snak. Jy maak maar die gewenste geluide en laat jou gedagtes dwaal na die nuutste fliek met Ryan Gosling. Gee jou man ’n billike kans om die held op sy wit perd te wees! Gooi ’n glas wyn in, geniet ’n bordjie sushi en vertel hom presiés waarvan jy hou as dit kom by voorspel. Of, beter nog, wys hom sommer net daar in die kombuis . . . 

  1. Stel ’n begroting op

Wie wil nou weet hoeveel geld hulle nié het om te spandeer nie? Dit klink baie vervelig en depressief, maar ’n begroting is juis die eerste stap na beheer oor jou geldsake. Dit maak nie saak wat julle inkomste of ouderdom is nie, ’n begroting help julle om slimmer te bestee en ook om te spaar.

  1. Gesels oor alkoholgebruik

Vroulief is dalk heel gelukkig met een glasie wyn, terwyl jy weer een bier na die ander knak. Benewens die gesondheidsnadele van te veel alkohol, kan dit ook jou maat in die verleentheid stel as jy by ’n sosiale geleentheid jouself te buite gaan. “Gesels oor wat aanvaarbaar is vir mekaar as dit kom by alkoholgebruik,” sê Carien du Toit, sielkundige en huweliksberader wat spesialiseer in Imago-terapie. 

  1. Kry uitsluitsel oor kinderopvoeding

Hy glo dalk aan ’n pak slae, jy glo aan die “stoutstoel”. Hy glo elke kind hoort in sy eie kamer, jy verkies ’n familiebed. Gesels met ’n kundige oor die areas van kinderopvoeding waaroor julle verskil sodat julle onderskeie opvoedingstyle mekaar kan komplimenteer.

  1. Sit die televisie (en jou slimfoon) af!

Besluit op spesifieke tye wat julle saam spandeer as gesin, of as paartjie, en kies daadwerklik om alle skerms af te sit en weg te bêre. Geen uitsonderings! Al is dit net vir een uur per dag – geniet mekaar se geselskap.

  1. Maak ’n afspraak by jou ginekoloog

Swaminfeksies en bakteriële vaginose is van die algemeenste redes vir vaginale ongemak, wat natuurlik jou sekslewe negatief kan beïnvloed. Die belangrikste rede vir ’n besoek aan die ginekoloog is egter vir die voorkoming van servikskanker, ’n kwaadaardigheid wat byna uitsluitlik ontwikkel as gevolg van ’n seksueel oorgedraagde infeksie genaamd menslike papilloomvirus (MPV). Die Johannesburgse ginekoloog en verloskundige, dr Peter Koll, sê servikskanker wat deur MPV veroorsaak word, is die kanker wat die tweede meeste onder vrouens in Suid-Afrika voorkom.

  1. Verstaan mekaar se werksverpligtinge

Hy kom alwéér laat by die huis en jy is reg om slange te vang! “Gesels met mekaar oor watter werksdruk julle tans by die werk ervaar,” sê Carien, “en besluit saam hoe julle dit gaan hanteer.”

  1. Gaan sien jou kind se onderwysers

Jy weet jou kind sukkel met wiskunde maar, soos sy, stel jy die probleem aanhoudend uit. Maak ’n afspraak om met haar onderwyseres te gesels voordat dit ’n onoorkombare probleem word en bespreek saam ’n werkbare plan. 

  1. Moenie slegte skuld ignoreer nie

Probeer om meer as die maandelikse minimum te betaal om jou skuld gouer te delg, byvoorbeeld deur die minimum bedrag plus 5% of 10% te betaal. As jy sukkel om jou skuld onder die knie te kry, kan jy raad kry by die Nasionale Kredietreguleerder (ncr.org.za), wat onder meer wenke en kontakbesonderhede van geregistreerde skuldberaders het.

  1. Stel ’n skedule op vir huishoudelike takies

Die besige pas van ons moderne leefstyl beteken dat almal saans moeg by die huis aankom. Span die hele gesin in om vinnig-vinnig huishoudelike takies af te handel. As jy ’n tuisteskepper is, kan manlief steeds ten minste sy eie sokkies in die was gooi en sy badhanddoek ophang! 

  1. Sorteer probleme met die skoonfamilie uit

Ai, die skoonfamilie. Hulle gaan minstens elke tweede Kersfees op die radar wees . . . jy kan net sowel jou allerbeste gee om vrede met hulle te maak. Onthou wenk 5 in Stephen R Covey se boek The seven habits of highly effective people: Seek first to understand, then to be understood.

  1. Beplan die dag en beperk laatkommery

Natuurlik beplan niemand om laat te wees nie, maar dié wat nie beplan nie, is meestal laat! Laai ’n GPS-toepassing op jou foon om verkeersknope te vermy en kies die alert-opsie op jou digitale kalender om jou betyds in kennis te stel van afsprake.

  1. Gesels oor wat jy graag in die slaapkamer wil probeer (en wat nie)

’n Bietjie stoute pret tussen die lakens is dalk net wat jou huwelik nodig het! “Praat openhartig met jou maat hieroor,” sê Carien, “maar moet dit nie doen terwyl julle probeer liefde maak nie.  Kies ’n tyd wanneer julle albei ontspanne is in mekaar se geselskap, maar nog nie in die middel van bedpret is nie.” 

  1. Gesels oor julle ouers se heenkome op hul oudag

Ouers word uiteindelik ook oud. Is daar ’n plan vir hulle welstand en versorging soos wat die tyd aanstap? Bespreek julle verwagtinge rondom hierdie realiteit vroegtydig.

  1. Leer hoe om ’n pap band om te ruil

Jy weet nooit waar of wanneer jou motorband jou in die steek kan laat nie. Selfs al is hy jou ridder op sy wit perd, is manlief dalk net daardie dag uitstedig vir werk.  Vra hom om die proses aan jou te demonstreer en kry dan jou hande vuil saam met hom. Hy kan altyd jou poging beoordeel en jou op grond daarvan vir jou nuutgevonde vaardighede beloon! 

  1. Skryf in vir eerstehulp-opleiding

Spyt kom altyd te laat. Veral as jy klein kindertjies in die huis het, is eerstehulp-opleiding ’n móét. The South African First-aid League bied bekostigbare kursusse aan. Dié organisasie se hoofkantoor is in Centurion en hul kontaknommer is (012) 644 0918.

  1. Stel ’n veiligheidsplan op vir die gesin

Dis nag en jy word wakker van ’n geritsel in die huis. ’n Inbreker! Is jy en jou gesin gereed met ’n plan van aksie? Sekuriteitsmaatskappye maak spesialiste op hierdie gebied beskikbaar op ’n konsultasiebasis. Maak gebruik van hierdie diens en stel jul persoonlike veiligheid eerste.

 

Deur Anja van den Berg

Bronne: Letitia Watson, 2017, Dis ’n pyn, maar ’n begroting is ’n móét!; Netwerk24 (netwerk24.com); Solidariteit, 2017, Is jy op ‘n swartlys of het jy ‘n slegte kredietrekord? (finansies.solidariteit.co.za); www.medicalchronicle.co.za;  solidariteit.co.za.