Jy het die plek bespreek (met ’n reuse gesukkel), jy het seker gemaak geen bloedjies onder ’n meter lank en hormoonbefoeterde wesens onder 18 word toegelaat nie. En jy beplan allerlei lekker aktiwiteite vir julle twee. Sorg net dat die volgende agt dinge saam met jul basics en klere in jul tas beland:

Promosie
  1. Manlief se fantasie. ’n Ragfyn, satyn- of kantbroekie en bra as dít is wat manlief se bloeddruk opjaag. As hy meer van jou hou in boyshorts en ’n stywe T-hempie, laat dít wees wat jy inpak. En as hy jou in jou stiletto’s en ’n minirompie wat meer soos ’n boob tube lyk wil hê, bederf hom. En as jy nie weet nie, vra hom!
  2. ’n Spuitkannetjie room. Daar is soveel wat jy hiermee kan doen. As die poeding wat jy met room service bestel het verbeeldingloos is, zoesh dit hiermee op. As jy vir jouself effens verbeeldingloos lyk, kikker jou lyf hiermee op. En o ja, ’n bikini van geklopte room sal in manlief se oë enige nommertjie in jou kas oortref!
  3. ’n Kamera. Dit is in elk geval ’n item waarsonder geen persoon vakansie hoef te hou nie. Maar sou julle besluit om nie veel sightseeing te doen nie, kan julle altyd die kamera se timer stel en jul eie tonele skep… (onthou net om dié foto’s af te haal vóór julle vir die kinders wys wat julle alles afgeneem het!).
  4. Voorbehoedmiddels. Daar is min dinge wat so ’n demper op ’n romantiese, sexy vakansie kan plaas as wanneer jy jou Pil by die huis vergeet het. Maak sommer ekstra seker julle bring nie ’n onbeplande muggie saam huis toe nie deur allerlei kleure en geure kondome ook in te pak (vir die wis, die onwis en die pret!).
  5. Manlief se kredietkaart. Hmmm, ja, ons almal weet romanse kan spotgoedkoop wees, en sommer gratis in sommige gevalle. Maar moet ook nou nie cheap wees nie. ’n Paartjie kry min genoeg die geleentheid om alleen weg te gaan, so pak daardie kaart in (mits hy genoeg krediet het) vir ’n paar luukshede soos ’n couple’s massage…
  6. Gekleurde vogroom (tinted moisturizer) of ’n BB-cream met ’n SPF. As manlief die tipe is wat hou van jou met ’n natuurlike voorkoms, maar jy ietwat “kaal” voel sonder grimering, is dit nét die ding vir jou. Dit gee jou ’n egalige voorkoms, beskerm jou gesig teen die son en jou man sal nooit kan raai dis nie (net) jou eie skoonheid nie.
  7. Parfuum. Maar nie sommer enige parfuum nie – dié soort wat jy gedra het toe jy jou man ontmoet het. Jou reuksintuig is baie kragtig en die brein kan allerhande herinneringe oproep wanneer ’n geur daardie herinneringe trigger. Maak seker jou parfuum herroep daardie ek-kon-nie-my-hande-van-haar-afhou-nie oomblikke.
  8. Smeermiddel. As julle van plan is om gereeld romanties te verkeer, is dit ’n móét. Só ook as julle waterseks beplan. Om die waarheid te sê, smeermiddel moet altyd op jou inpaklysie wees. Dit is handig vir daardie kere wat julle gou-gou voor etenstyd ’n quickie wil inwerk of vir wanneer hy dink drie-keer-’n-dag seks is die standaard aktiwiteit vir ’n dirty weekend!