Ewige jeug – dit is iets waarna almal streef. As jy ’n gesonde huwelik het, soveel meer. Jy wil immers nog so lank as moontlik vír jou maat en sáám met jou maat jonk bly.
Dis vreemd hoe ouderdom net ’n nommer is. Hoe ’n mens kan verjaar en selfs al blaas jy 60 kersies uit, steeds kan voel soos die dag toe jy mondig geword het! Hoewel die liggaam verouder, is die ouderdom van ’n mens se gees iets wat jy self bepaal. Ons het tien wenke gaan opdelf waarmee jy en jou maat die jeug aan jul kant kan hou. Sommige hiervan het met uiterlike jeugdigheid te make en ander met dít wat in jou hart aangaan. Werk hieraan sodat julle lank en gelukkig vir mekaar gespaar bly. Sodat julle steeds die jeugdigheid het om jul jong dae te kan herleef en ’n prettige huwelik te kan onderhou. Vermy die volgende sêgoed:
- “Dit help nie om te kla nie.” Ons is seker hierdie woorde kom nie uit jóú mond nie, maar evalueer bietjie jou geselskap. Spandeer jy tyd saam met vriende en kollegas wat elke keer wat jy vra hoe dit gaan, antwoord: “Dit help nie om te kla nie . . .”? Of spandeer jy jou kosbare ure tussen mense met ’n aansteeklike gees wat nie genoeg van die lewe kan kry nie! Vermy mense wat voortdurend kla oor hoe oud hulle voel. Daardie mense het die geneigdheid om jou af te trek.
- “Ek wil net ’n bietjie kleur kry.” Dis ’n sêding wat kanker, sonbrand en plooie nader roep. Onthou om áltyd sonskerm te dra. Ultravioletstrale is ’n groot bydraende faktor as dit by veroudering kom. Onthou ook om nie net die sonskerm aan te smeer wanneer jy vir ure lank op die strand gaan vertoef nie. ’n Mens behoort elke liewe dag sonskerm te dra. Kies ook sommer die bevogtiger en onderlaag wat ’n ingeboude SBF het.
- “Nie vanaand nie, ek het hoofpyn.” Spring in die kooi! Deur genoeg seks te hê, sal jy nie net gesonder voel en die band van intimiteit tussen jou en jou maat versterk nie – jy kan ook jonger lyk! Die goedvoel-hormoon wat tydens seks vrygestel word, gee jou immuniteit ’n hupstoot, dit verhoog jou gelukkigheid en dit hou jou ook jonger vir langer! Daar is selfs navorsing wat bewys dat paartjies wat gereeld seks het, tien jaar jonger as hul fisieke ouderdom lyk.
- “In die goeie ou dae . . .” Hoewel daar niks mee fout is om nostalgies te raak oor die verlede nie en ’n mens beslis elke dag voluit moet leef, is dit ook ’n goeie idee om wonderlike toekomsplanne te maak! Dit sal julle help om altyd uit te sien na môre. Leef met ’n toekomsvisie.
- “Oe nee, ek is heeltemal te oud hiervoor.” ’n Mens hoor dit gereeld. Onthou, woorde het meer krag as wat jy dink en jy is so oud soos jy glo jy is. Daar is niks waarvoor jy te oud is nie. Goed, wawiele is iets wat jy dalk lanklaas gedoen het, maar as jy jou lyf oppas, soepel en fiks bly, is daar geen rede waarom jy nié op die ouderdom van 55 jou kleinkinders kan wys hoe dit gedoen word nie.
- “Ek is nou maar eenmaal ’n sucker vir sjokoladekoek.” Weeg dinge mooi op teen mekaar. ’n Sny sjokoladekoek of ’n gesig wat soos ’n pruim lyk? Verwerkte kossoorte het geen voedingswaarde nie, maar is vol leë kalorieë. Dit bevat geen ensieme wat jy nodig het vir vertering nie. En ’n dieet hoog in verwerkte kossoorte kan selfs depressie veroorsaak, is bevind deur ’n span van London University College. Só leer hoe om kos-etikette te lees en te verstaan. Roep die hulp van ’n dieetkundige in as dit moet, want ongelukkig maak verwerkte kos jou oud voor jou tyd!
- “Oefening is nou maar net nie my ding nie.” As dít jou verskoning is om ’n sweetsessie te vermy, dink weer! Om passief te wees, kan jou liggaam groot skade aanrig en die oudwordproses versnel. Doen iets so eenvoudig soos om soggens tien minute lank te strek as jy nie kans sien vir ’n oefensessie met hoë intensiteit nie.
- “Net nog één episode . . .” Ons beland almal soms in die versoeking om net nog één episode van ons gunsteling sepie te kyk, maar staan liefs sterk en gaan kruip vroeg in. Jy moet genoeg goeie slaap inkry om soos Doringrosie te lyk wanneer die prins haar honderd jaar later wakker soen. Goeie slaap herstel jou liggaam se funksionering en dit voorkom plooie.
- “Ek weet nie wanneer om te stop nie.” Dis ’n klagte wat baie mense hul jeug kos. Matigheid is die wagwoord as jy jou jeug wil oppas. Dit beteken dat jy nie jouself mag vergryp aan ’n lekker beesstertbredie nie (ten minste nie elke tweede aand nie!). Een van die belangrikste dinge wat jy jouself moet aanleer, is hoe om na jou liggaam te luister. Kenners meen dis belangrik om kleiner porsies te kook en op te hou eet wanneer jy sowat 80% versadig is.
- “My lewe voel só vervelig.” Ten spyte van alles wat ons hier bo genoem het, is dit ook belangrik om jou lewe ten volle te geniet! Jy ken die waarde van ’n gesonde leefstyl, maar dis goed om so nou en dan die honde los te laat! Geniet ’n lekker glas wyn op ’n Vrydagaand. Smul aan daardie Sondagmiddag-poeding. Hou partytjie tot in die oggendure op jou verjaardag en slaap die volgende dag laat. Om die jeug aan jou kant te hou, moet jy nie ingedoen voel nie, maar te midde van ’n oorwegend gesonde leefstyl soms ook ’n bietjie skiet gee sodat jy nie voeling verloor met daardie spontane lekkerkry-oomblikke nie! Jy kán natuurlik die lewe geniet en ’n 100% gesonde leefstyl volg, maar as daardie karamel-roomys vir jou ononderhandelbaar is, werk dit in – so nou en dan!
Deur Annelize Steyn