As dit by jou skoonouers kom, is daar min dinge wat jou kan voorberei op die jare wat voorlê. Jy trou immers met die hele pakket. Jou vroulief se familie word nou ook jóú familie…
Jy ken al die waarskuwingstekens. Sy raak sensitief as jy praat oor haar ma se plooie (’n groot no-no) en agterstewe wat begin uitsit. Jy weet jy het nou jou mond verbygepraat. Die dag toe jy op die foon by die huis instap terwyl jou skoonouers daar kuier, sleep jou vrou se lip op die grond. Jou skoonma se kommentaar oor jou skoonmaakvernuf impress jou niks en die ure se gepratery met skoonpa oor goed wat jou nie interesseer nie, raak lank. Ongelukkig is dit só dat jy jou goed moet gedra en jou skoonouers met liefde moet aanvaar – hoe verkeerd hulle jou ook al opvryf.
Allermins ’n “nietige sakie”
Pastoor Chris Morey sê jy moet altyd onthou jou vrou se ouers kan ’n groot invloed op jou huwelik hê. Dis juis daarom dat probleme met skoonouers vóór die huwelik uitgesorteer moet word. “Dit gebeur dikwels dat die man of vrou nog emosioneel attached aan hulle ouers bly. Die Bybel sê vir ons ’n man en vrou sal hul ouers verlaat en vaskleef aan mekaar. Dis juis daarom dat die man in die verhouding die verantwoordelikheid oor besluite moet neem.” Chris vertel hoe veral die man se ma partykeer ’n probleem in ’n huwelik kan veroorsaak. “As jou ouers nie ’n goeie verhouding gehad het nie, gebeur dit soms dat jou ma haar ongelukkigheid oor haar eie huwelik in jou huwelik kanaliseer.”
Die geldleen-kwessie
Nog ’n probleem wat kan opduik, is wanneer daar geld by skoonouers geleen word. “Dit kan ’n houvas op jou huwelik plaas. As jy finansiële probleme ondervind, probeer eerder ’n ander uitweg vind as om by jou skoonpa geld te leen. Jou skoonouers kan vinnig dink hulle kan insae in jou huwelik hê.”
Dis ook belangrik dat jy as man altyd, maar altyd, jou vrou se kant kies. “As jy nie vir jou vrou kan opstaan teen byvoorbeeld jou eie ouers nie, kan dit skeisake word. As jou ma byvoorbeeld in jou huis instap en sê sy hou nie van julle gordyne nie, dit sal mooier lyk as dit ’n roomkleur is, sê jy dit nie vir jou vrou nie. Jy stel dinge net daar reg deur te sê dat jou vrou die tuisteskepper is en dat haar smaak die belangrikste is.”
Hoe om jou skoonouers te hanteer:
- Sien mekaar gereeld. Hoe beter julle mekaar leer ken, hoe beter gaan julle oor die weg kom. Julle leer mekaar se nukke en grille só ken en kan mekaar later beter hanteer.
- Praat oor iets as dit jou pla. Sê op ’n mooi manier vir jou skoonma as iets aan jou krap. Veral vroue is goeie kommunikeerders, so sy sal dit heel moontlik waardeer as jy eerlik is met haar.
- Kry jou skoonma aan jou kant. Komplimenteer haar oor haar kos. Stuur nou en dan ’n WhatsApp. Laat haar voel sy is ook belangrik.
- Bestee tyd saam met jou skoonouers as julle saam kuier. Moenie jouself afsonder nie. Raak deel van die familie.
- Moenie oor nonsens baklei nie. Dit is nie die moeite werd om ontsteld te raak oor klein goedjies nie.
- Hou by jou waardes. As jou skoonouers se waardes van joune verskil, moenie hulle probeer verander nie. As jy by jou eie waardes hou, sal dit jou nie pla as jou skoonouers jou dalk kritiseer oor iets waarin jy glo nie.
- Oumas en oupas gaan altyd jou kinders bederf. Dit wat jou kinders nie met jou gaan regkry nie, gaan hulle by hulle grootouers regkry. Hoe gouer jy dit aanvaar, hoe beter.
- Respekteer mekaar ten alle tye.
- Hou jou vrou se gevoelens in gedagte. Dis haar ouers en sy is lief vir hulle.
- Moenie haar gevoelens seermaak deur kras woorde nie.
Wees dankbaar vir jou skoonouers. Hulle werk dalk sommige dae op jou spiere, maar hulle is deel van jou familie.
Skoonouers is altyd ’n uitdaging. In sommige gevalle click julle van die begin af wonderlik en kan julle land en sand praat. In ander gevalle neem dit ’n paar jaar om mekaar ordentlik te leer ken. Sit jou eie voorkeure op die agtergrond en hanteer jou skoonouers met liefde. Hulle het immers die persoon grootgemaak vir wie jy lief is met jou hele hart!
Deur Jana Engelbrecht
Addisionele bronne: psychologytoday.com