Daardie groot vraag: “Oom, kan ek met oom se dogter trou?” gaan gepaard met die wete dat dit ’n seldsame gebeurtenis is dié dag wat ’n pa voel ’n jong man is waardig genoeg vir sy dogter se hand…
Wat het gebeur die dag toe jý gaan ouers vra het? Moes jy, soos menige ander mans, al wag terwyl jou aanstaande pa vir ’n paar oomblikke stilgebly het (wat soos ’n ewigheid gevoel het!), voor hy jou omhels en met ope arms verklaar het: “Dankie knaap, jy het my so pas ’n ryk man gemaak. En sterkte – my dogter het dúúr smaak!” Moes jy wag terwyl hy jou die leviete voorlees, so al met ’n swaaiende vinger en ’n skor stem? Of moes jy die hasepad kies toe hy die haelgeweer gaan laai het?
Groot lokettreffers het al sakke vol dollars gemaak uit die amusante verhouding tussen skoonpa en skoonseun omdat, hoewel dit baie dramaties vertolk word, baie jong mans tot ’n sekere mate kan identifiseer met wat voor hulle afspeel. Jou verhouding met jou skoonpa is een wat jy waarskynlik nog altyd met versigtigheid benader het. Wat jy immers gedoen het, was om sy dogter van hom “af te neem” en te belowe dat jy vir haar sal sorg net so goed, indien nie beter nie, as wat hy nog altyd kon. Hmm, groot belofte, nè?
Daar is onlangs gevind dat huwelike waarin die man rapporteer dat hy “na” aan sy skoonouers voel, geneig is om langer te hou. “Hierdie bande konnekteer die man met sy vrou,” vertel Terri Orbuch, ’n sielkundige en navorsingsprofessor aan die Universiteit aan Michigan se Instituut vir Sosiale Navorsing. “Dit sê: ‘Jou familieverhoudings is belangrik vir my, want jy is belangrik vir my. Ek wil nader aan hulle voel, want dit laat my nader aan jou voel.”
In die studie is gevind dat die risiko vir egskeiding oor 16 jaar 20% laer is wanneer die man ’n goeie verhouding met sy skoonouers het. By vroue wat na aan hulle skoonouers is, het dit die teenoorgestelde uitwerking en was die risiko vir egskeiding 20% hoër! Omdat vroue hul rol as ma en vrou so ernstig en persoonlik opneem, sukkel hulle soms om grense te stel en word betrokkenheid deur skoonouers dikwels as inmenging beskou. Mans het nie dié probleem nie, vertel Terri, omdat hulle hul identiteit as pa en man as sekondêr tot hul rol as voorsiener beskou. Hulle neem nie hul skoonouers se gedrag so persoonlik op nie.
Dis dus vir jou makliker om dinge met jou skoonouers te laat werk as vir haar. En as jy jou kanse op egskeiding met 20% kan verlaag net deur jou verhouding met die oubaas so bietjie te nurture, hoekom nié?
Hier is ’n paar wenke vir hoe om in jou skoonpa se goeie boekies te kom!
- Onthou: Jy word beskou as die vyand tot jy jouself anders bewys het. As ’n nuwe lid van die familie staan jy in ’n baie bedreigende posisie… probeer jouself deur jou skoonpa se oë sien. Ja, dit is ’n vreemde verhouding, maar baie pa’s sien hul dogters as “besittings” en ag dié verhouding hoër as enigiets anders. As jy reeds ’n klein dogtertjie het, sal jy beter verstaan wat ons bedoel! Wees geduldig en jy sal al minder “vyand” en al meer “familielid” begin word.
- Hy is net so “oorbeskermend” soos wat jy eendag gaan wees. Gaan jy eendag jou klein bloedjie in ’n toring opsluit sodat geen man naby haar kan kom tot sy die dag 30 jaar oud is nie? Hmmm, so gedink. Dis hoe hy gevoel het en waarskynlik steeds voel – al is sy bloedjie way past 30!
- Behandel sy kosbaarste besitting soos jou kosbaarste besitting. Dink hy jy gaan nie goed wees vir sy dogter nie? Bewys hom verkeerd! Dié een is baie belangrik en as hy sien jy respekteer sy dogter, gaan daar nie rede wees vir hom om oorbeskermend op te tree nie.
- Trek jou swaer nader (maar moenie jou skoonsus té naby trek nie). Doen moeite met die mense vir wie hy lief is – dit sluit sy vrou en ander kinders in. As jy ’n goeie verhouding met jou skoonsussies en swaers het, sal dit jou skoonpa se goedkeuring wegdra. Doen ook moeite om gereeld by hulle te gaan kuier – wys dat dit nie vir jou iets is wat jy teen jou wil doen nie, maar dat jy regtig daar wil wees.
- Probeer punte score deur jou algemene kennis op te skerp! Vind meer uit oor jou skoonpa se stokperdjies. Sorg dat jy kennis dra, maar nie ’n kenner word nie. As hy hou van visvang, wys dat jy belangstel, maar moenie probeer om hom te vertel hoe dit gedoen word nie.
- Verbeel jou dat jou skoonpa elkeen van jou woorde ontleed. Dink voor jy praat. Jou skoonpa se sensor is super-sensitief ingestel op wat jy sê en doen (ja, probeer ook om nie uit te freak hieroor nie!). Dit lyk dalk asof hy sy koerant lees, maar moenie waag om teenoor jou swaer op te merk hoe mooi die tennisspeler op televisie se boudjies is nie – jou skoonpa luister!
- Wys dat jy bereid is om te help, selfs al is dit die laaste ding waarvoor jy lus is. Vra hom of jy kan help met enige projek in en om die huis – veral wanneer julle by hulle vakansie hou. Dit sal hom bly maak om jou aan die werk te steek (en jou soos ’n slaaf te dryf!) en ook om te sien dat jy sterk werksetiek het.
- Gee hom tyd om jou te ondersoek, te weeg en hopelik nie te lig te bevind nie. As jy sien hy neem lank om jou te aanvaar, gee hom tyd. Hy is moontlik besig om alles vir homself te ontleed, en as hy sy bes probeer het om fout te vind en dit nie kan kry nie, sal jy uiteindelik goed genoeg wees.
- Gee hom tyd, maar moet jy net nie jou tyd neem nie! Wees stiptelik. As daar familie-byeenkomste of spesiale geleenthede is, probeer om nie laat te wees nie.
- Moenie saam met hom whisky afsluk en nonsens aanjaag nie. Hy is nie jou pêl nie en sal dit nooit wees nie. Daar is sekere perke aan elke verhouding, en dit is baie belangrik vir julle om daardie afstand en respek vir mekaar te behou. Moet ook nóóit met jou skoonpa oor seks praat nie – jy is getroud met sy dogter en sy sal altyd “sy meisiekind” bly!
En wat jy ook al doen – moet hom nie probeer oortuig dat die Sharks nie so waffers speel soos wat hy dink hulle speel nie!
Deur Annelize Steyn
Addisionele bronne: blog.relationship-games.com, online.wsj.com