Daar is soveel interpretasies van wie die Heilige Gees is en wat Sy rol en funksie is, dat dit enige mens eintlik bang maak of verward laat. Vir my is dit eenvoudig: Dit gaan nie daaroor om te kraai soos ’n haan of ander snaaksighede en vreemdhede nie, maar om soos Jesus op te tree in elke situasie en in alle omstandighede. Dit gaan nie daaroor om uiterlike manifestasies te toon nie, maar om te dien like crazy.

Promosie

As jy na Johannes 14 en 16 kyk, is die dissipels geskok: Jesus gaan weg. Vir hulle is dit die einde wat aangebreek het. Jesus probeer hulle kalmeer en rustig maak. Hy probeer hulle oortuig dat dit beter vir hulle en die wêreld is dat Hy weggaan. Sy boodskap is dat Hy ’n ander “Jesus” na hulle gaan stuur – Een wat in elkeen van hulle kan bly. Die doel is dat daar nie net een Jesus is wat fisies net op een plek kan wees nie.

Nee, nou kan Jesus in elke mens woon (jy is mos die tempel van die Heilige Gees) en kan Sy invloed soveel wyer en dieper strek. Soos ’n goeie vriend van my eendag gesê het: As jy wil veilig wees, noem die Heilige Gees die Gees van Jesus. Dit was vir my ’n wow-oomblik! Dis asof ek onmiddellik gesnap het: Die Heilige Gees help my om elke dag meer en meer soos Jesus te word. Die Heilige Gees maak my die mens wat God bedoel het ek moet wees.

Nou ja, waar is op hierdie aarde ’n beter oefenplek vir presies dit as in die huwelik? Só min mense verstaan dit en by die eerste moeilikheid, uitdaging, konflik of probleem wil hulle vlug of uitstap. Om die mens te word wat God in gedagte het, is ’n reis – ’n hele lewensreis. Dis ’n proses oor jare en die huwelik is ’n wonderlike instelling om jou te help om werklik die Heilige Gees te hoor, te ervaar en te verander.

Promosie

“Sterf aan jouself” het niks anders ’n mooi geestelike cliché geword nie. Elke gelowige gebruik die woord. As jy werklik die betekenis daarvan wil verstaan, klim in ’n huwelik in. Dan skuur jy skouers met jou huweliksmaat op ’n daaglikse basis. Jy deel ’n bed, jy verkeer intiem, jy irriteer mekaar, jy word kwaad, jy word moeg, jy is soms nie lus nie, jy moet aanpas, jy moet die ander een in ag neem . . . Sterf aan jouself is skielik nie meer ’n cliché nie, maar ’n harde realiteit en diep werk van die Heilige Gees in jou lewe.

Wie hou daarvan om eienaarskap van foute te neem? Own your piece of the pie, soos Andy Stanley sal sê. O, die vernedering! In jou kop maak jy mos nie foute nie. Kom naby genoeg aan iemand, soos in die huwelik, en dan is die bordjies verhang. Dan kom jy werklik en ten diepste agter dat jy wel foute maak, dat die “eie ek” wel baie alive and well is in jou lewe.

Die Heilige Gees is daarop uit om die “eie ek” te laat sterf – ja, dood te maak. “Jammer” moet vir jou ’n woord word wat nie moeilik is om te sê nie. Dit moet vir jou ’n woord word van versoening, groei en uiteindelik liefde vir jou man of vrou. Vergifnis versoen mense. Vergifnis breek mure af. Vergifnis maak gesond. Vergifnis bring genesing van jare se ou bagasie. Vergifnis is Jesus. Vergifnis is die Gees in jou huwelik.

Wie hou nie van gerief nie? Ek bedoel jou eie gerief – gerief waar die lewe om jou gemak en jou bevrediging draai? Die drie-eenheid van me, myself and I is mos maar niks anders as die ou natuur wat wil heers oor die Gees nie. Die ou drietjies hou nie net van hulself nie, hulle is mal oor hulself en wil elke dag gevoed word.

O aardetjie tog, die huwelik is die verkeerde plek daarvoor. Soos my pa altyd gesê het, die huwelik is nie ’n 50-50 ooreenkoms nie. Nee, dis 100-100. Jy gee 100% en verwag niks terug nie. Dit gaan nie oor jou nie. Dit gaan oor jou huweliksmaat. Behandel haar soos ’n koningin en sy gaan een wees of word. Dit vra om van jou voete af te klim en te kniel en haar te dien (en andersom).

Doen soos wat Jesus gedoen het: Was mekaar se voete. Dit laat my dink aan ’n bekende finansiële instelling se leuse: “How can we serve you?” Praat nou van Geesvervuld! As jy werklik gehoorsaam wil wees aan die stem van die Heilige Gees in jou huwelik, dien soos Jesus.

Die Heilige Gees en gebed is amper sinoniem. Dis mos die Gees wat vir ons intree by die Vader met diep versugtinge. Huweliksmaats wat saam bid se kans om saam te bly tot die “dood ons skei” is soveel groter. Minder as 1% van huwelikspaartjies wat saam bid, skei uiteindelik. Die egskeidingsyfer vir paartjies wat gereeld saam bid, is een uit 10 000. Dit laat my sommer dink aan die mooi en bekende gedeelte in Matteus 6 wat sê: “Soek allereers die Koninkryk van God, dan . . .”

As jy die stem van die Heilige Gees in jou huwelik hard en duidelik hoor, sal gereelde woorde in jou kop en hart leef soos “sterf aan jouself”, “vergifnis”, “dien” en “soos Jesus”.

 

Deur Johan Smith

Johan is verbonde aan die Moreletapark-gemeente. Hy is al vir 31 jaar gelukkig getroud met Helena en het drie kinders, drie skoonkinders en twee kleinkinders. Johan is ook die outeur van meer as 20 boeke.