Jy het ’n fout gemaak. ’n Grote. Een waaroor jy bitter skaam voel. Hoe vertel jy jou maat jy was ontrou as jy steeds jou huwelik wil red?

Promosie

Niemand is verhewe bo versoekings nie. Daar word geskat dat affairs meer as 50% van alle huwelike beïnvloed! Hoewel dit vir baie mense onoorkombaar is, oorleef baie huwelike wel ’n affair.

Vir baie mense is ontrouheid ’n grys gebied. Ja, jy het haar nie gesoen nie, maar jy het ook nie jou vrou vertel van die vroulike kollega saam met wie jy elke etensuur gaan koffie drink nie. Ja, dit was dalk ’n piksoen, maar in jou kop het jy meer begeer . . . Miskien klink al hierdie scenario’s vir jou mak by die gedagte dat jou misstap nie een onbesonne oomblik was nie, maar ’n volwaardige affair wat maande lank geduur het!

Hoe dit ook al sy, jy was ontrou en as jy jou huwelik wil red, sal jy moet oop kaarte speel . . .

Promosie

STAP 1: Doen introspeksie. Wees eerlik en vra jouself hoekom jy haar verkul het? Sy gaan wil weet. En julle gaan nie hierdeur kan werk as jy nie self agter die kap van die byl kom nie. Het jy afgeskeep gevoel? Soek jy eintlik ’n rede vir die huwelik om te eindig? Het jy waarlik gevoelens vir die ander persoon? Berei jou voor vir jou maat se skok en hartseer.

STAP 2: Stel vas hoekom. As jy self nie weet hoekom jy só ’n fout gemaak het nie, is dit dalk ’n goeie idee om ’n terapeut te gaan sien sodat jy kan agterkom wat aanleiding gegee het tot die affair en wat die swak punte is wat jou hierdie fout laat maak het, sodat jy hierop bedag kan wees.

STAP 3: Verbreek alle kontak. Dit klink dalk voor-die-hand-liggend, maar baie mense wat hul maats verkul wil hul brood aan twee kante gebotter hê. As jy egter jou huwelik wil red, moet jy álle kontak met die ander party verbreek. Bel die persoon om die verhouding te beëindig sodat jy nie in die versoeking kom om weer dieselfde fout te maak nie.

STAP 4: Kies jou tyd en plek reg. Kies ’n tyd wanneer julle albei rustig is en nie ander stresfaktore in jul lewens het nie (daarby gesê, soms moet ’n mens net inspring omdat dit nóóit soos die regte tyd gaan voel nie). Kies ’n plek waar julle privaatheid het – daar moenie kinders wees wat julle kan onderbreek of skoonouers wees wat julle kan hoor nie.

STAP 5: Vertel jou maat alles. Moet niks terughou nie en praat die volle waarheid. Speel ook oop kaarte en vertel haar waar julle mekaar ontmoet het en watter kommunikasiekanale julle gebruik het.

STAP 6: Neem verantwoordelikheid vir jou dade. Onthou die kanse is goed dat jou maat die fout by haarself gaan soek. Moenie die skuld op jou maat plaas nie. Al dink jy sy het te min tyd saam met jou deurgebring of dat haar kritiek jou minder “man” laat voel het, neem verantwoordelikheid vir jou dade – daar was ander oplossings vir die probleem, maar jý het gekies om die vertrouensband tussen jou en vroulief te verbreek.

STAP 7: Ontbloot die waarheid so sensitief, maar eerlik, soos wat jy kan en stel haar gerus dat jy dit met haar gedeel het om die huwelik te red en om geen ander rede nie. Joe Beam, stigter van die huwelikswebtuiste MarriageHelper, sê op crosswalk.com: “Moenie wat jy gedoen het ’n ‘fout’ noem nie, want dit was nie. Jy het geweet wat jy doen is verkeerd. Noem dit wat dit is. Sonde. Nie ’n fout nie.”

STAP 8: Vat jou pak soos ’n man. Moet ook nie die ander party verdedig nie. Jou vrou gaan hartseer en kwaad wees en sy gaan die ander persoon waarskynlik beledig. Laat haar toe om haar emosies te wys vir so lank as wat sy wil (hoewel jy nie geweld hoef te verduur nie). Verwag ook dat sy jou sekere vrae gaan vra: Hoe lank het dit aangehou? Hoekom sy? Wat is verkeerd met my?

STAP 9: Werk aan ’n plan. Werk saam met jou maat aan ’n plan van aksie. As sy nodig het om tyd op haar eie deur te bring om tot verhaal te kom, laat dit toe. Wees geduldig en gee haar wat sy nodig het om hierdie hartseer te verwerk. Speel ook oop kaarte. Jou maat moet toegang hê tot al jou kommunikasiekanale (gee vir haar al jou wagwoorde vir jou selfoon, Facebook en so meer) tot sy jou weer leer vertrou het.

STAP 10: Gaan sien saam ’n huweliksberader/terapeut. Doen alles wat julle moontlik kan om jul huwelik weer op die regte spoor te kry. Dit is noodsaaklik om oor die affair te praat, huweliksverrykingskampe te besoek en saam vir terapie te gaan om hierdie seer in jul huwelik te kan verduur tot ’n roof vorm. Kry ook die hulp van vriende, ’n spirituele leier of familie om julle by te staan.

 

Deur Annelize Steyn

Addisionele bronne: lifehacker.com, crosswalk.com.