Good things come to those who wait… Het jy al gehoor of ervaar dat uitstel in die slaapkamer tot voordeel van jou sekslewe kan strek? Dit is waar, mits jy nou nie dink dat jy die volgende twee weke gaan terugsit en niks doen nie. INTIEM daag jou uit om ons twee weke lange uitstel-uitdaging te toets!
Jy is op dieet – vir die soveelste keer. Daardie bikini moet pas, sonder die rolletjies wat oorhang soos gebakte beskuit. So natuurlik is sjokolade so uit soos appel-martini’s op ’n AA-vergadering! Jy kyk anderpad wanneer jy verby die lekkergoedrak in Pick n Pay stap. Jy drool letterlik wanneer die advertensie oor die sjokolade met die borreltjies in op televisie verskyn. Jy lek jou dogtertjie se taai handjies af en dit proe soos manna uit die hemel… maar jy byt vas. En wanneer jy uiteindelik ses weke later op daardie skaal klim en hy beloon jou met jou doelgewig, besluit jy om dit te vier – met ’n blok van die lekkerste, beste, duurste sjokolade wat jou beursie kan bekostig! Wanneer jy daardie eerste blokkie in jou mond sit, is dit die lekkerste ding wat jy nog ooit geproe het…
Is dit regtig? Of gaan dit alles oor die beginsel van delayed gratification? Oor die spanning en begeerte wat in jou kop en lyf opgebou het? Kan jy onthou toe jy en manlief nog uitgegaan het en seks taboe was? Verbode vrugte is tog só aanloklik.
Van kleins af leer jy om te spaar en nie jou kredietkaart te swipe nie (nie dat ’n mens dit altyd regkry nie). Onmiddellike bevrediging gaan dikwels gepaard daarmee om dinge as vanselfsprekend te aanvaar. Mense wat uitgestelde bevrediging in hul lewens toepas, assosieer harde werk met goeie resultate! Dit beteken byvoorbeeld om goeie, gesonde maaltye te kook, in plaas van ’n trippie McDonald’s toe, ter wille van jou gesin se gesondheid. As jy bevrediging uitstel, respekteer jy die eindresultaat soveel meer omdat dit met moeite gepaardgegaan het en jy glo ook dat die eindresultaat die moeite werd móét wees.
So wat is die plan? Om seks vir twee weke lank uit te stel sodat die eindresultaat soveel meer bevrediging bied! Dit is ’n gee-en-neem speletjie. Die doel is om seks vir twee weke uit te stel, maar in die uitstelproses die wag só moeilik te maak dat daar seksuele spanning opbou en julle uiteindelik die eindresultaat soveel meer gaan waardeer.
Die belangrikste beginsel wat jy gedurende hierdie uitdaging moet onthou, is om jouself los te maak van die eindresultaat en te leer om hierdie twee weke die reis te geniet! Die meeste van die pret lê in die afwagting en die beplanning. Voor julle begin met julle “Geen seks-uitdaging” moet julle albei saamstem daaroor. Moenie dink dat jy manlief daarmee gaan verras nie en besluit saam wanneer julle met die uitdaging gaan begin.
Hier is ’n baie belangrike reël: Julle mag nie voor mekaar aan- of uittrek, bad of stort nie – tensy die plan dit voorskryf. Hier is jul uitdaging. Sterkte!
WEEK 1:
Sondag: Gaan saam kerk toe en laai die kinders af by oupa en ouma of vriende van julle. Skiet daarna in verskillende rigtings! Doen iets wat elkeen van julle geniet – die enigste voorvereiste is dat julle eie tyd moet hê. Gaan sit en lees in ’n koffiewinkel. Gaan vlieghengel buite die stad. Loop deur ’n kwekery of gaan stap op ’n koppie. Dit is eie tyd, tyd om jouself te herlaai, maar ook tyd om te dink. Oor jou huwelik, oor jou maat, oor jou sekslewe en oor wat jy met hierdie uitdaging wil bereik.
Maandag: Vandag is date night. Jip, hierdie uitdaging begin met ’n afspraak, maar nie die gewone maandelikse date night wat jy en manlief gewoonlik het nie. Adam, vandag moet jy haar bel en haar formeel “uitvra”. Kies die plek (miskien ’n plek wat vir julle iets spesiaals beteken) en sê hoe laat jy haar gaan oplaai. Die doel van vanaand is om pret te hê. Julle kan gaan pizzas eet, gaan muurbal speel of tenpin bowling speel! Vanaand is so bietjie van ’n “rolspel”-geleentheid. Julle moet maak asof julle mekaar vir die eerste keer ontmoet. Fisieke kontak is uit. Onberispelike maniere is in (ja Adam, maak vir haar die kardeur oop!) en pret hê is aan die orde van die dag! Speel saam! En jammer Adam, maar vanaand moet jy in die spaarkamer of op die bank slaap.
Dinsdag: Stuur vandag vir mekaar ’n e-pos waarin julle skryf hoeveel julle gisteraand geniet het. Wees spesifiek: “Ek was mal oor die manier waarop jy gelag het toe ek daardie bal misgeslaan en op my agterstewe beland het. Jou humorsin is aansteeklik!” Fokus op mekaar se goeie eienskappe en waarom julle uit die staanspoor verlief geraak het op mekaar. Adam, vanaand kan jy terugtrek slaapkamer toe, maar jy mag nie aan jou vroutjie raak nie. En vice versa.
Woensdag: Kry mekaar vir koffie iewers gedurende die dag as dit vir julle moontlik is. Dit moet weereens soos ’n koffie-afspraak wees, maar julle kan die rolspel laat vaar en net soos goeie vriende kuier. Probeer om nie gesinsake te bespreek nie en maak effense kontak met mekaar. Doen vandag iets diensbaars vir jou maat. Was haar kar vir haar, maak sy gunsteling-ete, maak haar rekenaar reg of sit vir hom nuwe batterye in die afstandbeheer.
Donderdag: Stuur vir mekaar iets werk toe. Dit kan ’n bos blomme wees, of ’n boks sjokolade – die enigste vereiste is: Dit moet afgelewer word. Jy mag dit nie aan jou maat gee nie. Selfs al kry jy haar beste vriendin om vir haar ’n botteltjie parfuum af te lewer, is dit goed so.
Vrydag: Vanaand is fliekaand. Kry ’n paar lekker stomerige flieks (nie pornografie nie!). Mooi, romantiese flieks, soos The Notebook en The Lucky One, is goeie opsies. Julle mag hande vashou, maar niks meer nie!
Saterdag: Vandag begin die verleidingspel! Eva, verras hom deur net ’n raps meer as ’n vyeblaar aan te trek. Natuurlik moet die scene dit toelaat. Maak dit dus ’n swembaddag en span uit langs die water in ’n bikini en ’n kortbroek. Adam, wys haar hoe lyk jy kaal bolyf (vir ingeval sy vergeet het). Gaan ski op die dam of gaan stap in die veld. Hoe dit ook al sy, wees buite in die natuur. Smeer vir mekaar sonbrandroom aan. Eva, skuur “per ongeluk” met jou agterstewe of ’n bors teen hom. As dit ’n ysige koue dag is, moet julle maar die jacuzzi oorweeg… maar hou die klere aan!
Sondag: Begin die dag deur saam uit Hooglied te lees. Kies vooraf ’n mooi stukkie wat tot jou spreek en lees dit dan voor. Verduidelik vir jou maat hoekom jy juis daardie stukkie gekies het. Gaan saam kerk toe en gaan kuier na kerk! As julle nie vir ete genooi word nie, sorg dat julle na ’n mark of ’n sosiale opset gaan waar julle van ’n afstand af met mekaar kan flankeer. Gooi flikkers! Oogkontak is vandag jul missie.
WEEK 2:
Maandag: Stuur vir manlief ’n stoute WhatsApp oor wat jy met hom wil aanvang sodra die uitdaging verby is! Trek vandag ’n toppie of rokkie aan met knopies of ’n ritssluiter aan die rugkant. Trek dit so sensueel aan soos jy kan terwyl hy vir jou kyk. Adam, onthou die lekkerruikgoed en trek daardie broek aan waarvan sy so baie hou! Vra haar om jou te skeer. Eva, vanaand as jy uittrek, vra manlief om jou te help met die ritssluiter of knopies.
Dinsdag: Skakel die televisie af en die radio aan, want vanaand gaan julle dans! Werk vandag aan die playlist en sorg dat daar liedjies op is wat vir julle spesiale betekenis inhou, liedjies met ’n stoute tema, liedjies met woema, liedjies wat smeul en liedjies waarop julle behoorlik kan slow dance… Julle mag vanaand voor mekaar stort of bad.
Woensdag: Vandag mag julle mekaar soen. Behóórlik soen. Groet mekaar met ’n soen, gee mekaar soene in die verbygaan. Stuur vir mekaar soene per WhatsApp (met daardie simbooltjie-opsie!). Plant soene op sy kar se ruit. Plant soene op haar opgewasemde stort se glas – soen, soen, soen! Maar hou jul hande op behoorlike plekke. Julle is amper daar!
Donderdag: Vanaand mag julle mekaar uittrek (en soen terwyl julle dit doen!). Maar hier is die slegte nuus: Julle moet mekaar aantrek ook (en verkieslik nie te lank na die uittrek nie). ’n Wedersydse massering is aan die orde van die dag. Dit mág dien as voorspel en julle mag vroetel en vry ook – bó die belt. Met ander woorde, sorg dat jul hande nie laer afgaan as wat julle mag nie. Selfbeheersing ouens, selfbeheersing!
Vrydag: Vandag gaan julle mekaar opstoom met woorde! Bel hom by die werk en vertel hom wat jy alles met hom wil doen, maar nie mag nie. Fluister in haar oor wat jy begeer om met haar te doen as die uitdaging verby is. Vanaand is date night. Bespreek plek by ’n behoorlike restaurant en soek ’n stil hoekie. Dit maak nie soveel saak wat julle aantrek nie, maar doen moeite. En die belangrikste reël… geen onder-klere! Vanaand mag julle saam bad en aan mekaar raak, maar niks meer nie.
Saterdag: Vanoggend mag julle kyk, maar nie vat nie. Julle mag soen, maar nie vat nie. Julle mag skuur, maar nie vat nie. Smeul en flirt met mekaar – sonder om ’n woord te sê en sonder om julle hande te gebruik. Bespreek verblyf vir vanaand in ’n mooi hotel. Teen eenuur moet julle paaie weer skei. Eva, pak jou oornagtassie in die kar en gaan vir ’n spabehandeling. Terwyl jy daar lê, dink aan presies wat jy vanaand met manlief wil aanvang en hoe jy jou verbeel die aand gaan afloop. Ná die spa, gaan boek in by die hotel en maak gereed vir vanaand. Adam, gaan bederf jouself met ’n adrenalien-fix (iets soos ’n microlight-vlug of ’n bergfietsrysessie) en dink aan wat jy vanaand met haar gaan doen! Gaan huis toe, stort, pak jou oornagtassie. Kry mekaar teen sesuur in die hotel se kroeg of restaurant vir ’n glas wyn of vonkelwyn! Julle het dit reggekry. En nou is dit net kamer toe om twee weke se fantasie ’n realiteit te maak!