Die dae van woep wham bam thank you ma’am is lank reeds verby. Vandag aanvaar ’n goeie minnaar die uitdaging om seks vir sy vrou net so lekker te maak soos vir homself. Wil jy weet waar’s hy? Ons neem jou op ’n G-kol ekspedisie!

Promosie

Teiken

Daar is baie wanpersepsies oor dié deeltjie van die vroulike anatomie: Som­mige mense wonder of dit bestaan, en indien wel, presies waar om dit te vind en hoe om dit te stimuleer. Die goeie nuus is: Dit bestaan wel! Die G-kol, vernoem na die Duitse ginekoloog Ernst Gräfenburg, is ’n boontjievormige plekkie aan die voorste wand van die vagina, ongeveer 2,5cm van die opening af. Dit is egter nie altyd ’n duidelik afgebakende area nie en dis doodnormaal om eers ná vele probeerslae die boerpot te slaan.

Toerusting

Promosie

Fisiek gesproke is alle mans goed toegerus om die G-kol te vind: Tegniek is hier beslis belangriker as grootte! Verder is ingeligtheid, oefening (dis dalk die lek­kerste deel!), vasberadenheid en geduld al wat nodig is.

Tegniek

Die goeie, betroubare missionary-posisie word aanbeveel. Julle sal moet eksperimenteer om presies die regte “invalshoek” te vind. Ná penetrasie moet die man die vagina uit verskil­lende hoeke en op verskillende plekke met die punt van sy penis stimuleer. Moenie oorhaastig wees nie: Dis nie ’n resies nie – inteendeel.

Die kanse is egter beter dat jy haar G-kol deur handstimulasie sal vind. Laat haar op haar rug lê en gebruik een of twee vingers om haar te penetreer. (Dis raadsaam om ’n smeermiddel soos KY-jellie te gebruik.) Jy sal weet wanneer jy die G-kol met jou vingers “ontdek” het: Die knoppie of “uitstulping” voel sponserig wanneer ’n mens daaroor streel. Die G-kol is gewoonlik meer prominent wanneer ’n vrou gestimu­leer is: Voorspel is dus belangrik.

Nadat jy die presiese ligging van jou vrou se G-kol ontdek het, moet dit direk ge­stimuleer en konstante drukking toegepas word. Ferm, doelgerigte bewegings (met jou vingerpunte óf die punt van die penis) is nodig. ’n Onfeilbare tegniek is om ’n “Kom hier”-beweging met jou wys- en middelvinger te maak terwyl jou vingerpunte oor haar G-kol streel. Jy sal redelik hard moet druk om die G-kol maksimaal te stimuleer.

Kolskoot!

Stimulasie lei amper dadelik tot verhoogde geprikkeldheid, maar dit duur soms 20 minute tot ’n halfuur vir die vrou om ’n orgasme te bereik. ’n G-kol orgasme is ongelooflik intens en genotvol. (G-kol seks word nie aanbeveel wanneer daar slapendes in die huis is wat wakker geskreeu kan word nie!)

’n Ander resultaat van ’n suksesvolle G-kol ekspedisie is dat jy vir ’n dag of twee nadat jy die teiken getref het ’n opgeblase ego mag hê en dat jou vrou na jou sal kyk asof jy haar held is. Geniet dit: Jy het hard gewerk om sukses te behaal en jy verdien om breëbors rond te loop en te lyk asof jy die Lotto gewen het.

Onthou net: Om te soek is net so lekker as om te vind en jou bevrediging lê daarin om die belangrikste vrou in jou lewe die uiterste genot te laat ervaar. Julle sal dalk ná vele “soektogte” moet aanvaar dat jou vrou een van min is wat nié ’n gevoelige G-kol het nie. Dis oukei: Julle het ten minste die soektog geniet en al is dit altyd ’n heerlike bonus om jou vrou ’n orgasme te laat bereik, hóéf sy nie ’n klimaks te hê om seks vir haar genotvol en geslaagd te maak nie.

 

Deur JB Roux & Wilmé Steenekamp