Ons almal het ’n sirkustalent. Om al die balle in die lug te hou, is ’n vaardigheid wat jy gou leer bemeester sodra jy trou en jou gesin begin uitbrei. Om die waarheid te sê, dis eintlik heel verstaanbaar wanneer een van die balle so nou en dan op die grond val. Die vraag is: As daardie bal jou huwelik is, tel jy dit weer op? Is jou maat jou heel belangrikste persoon?

Promosie

“Dit voel asof ek heel laaste op sy lysie is,” hoor ek onlangs in ’n geselskap. “As al die werk afgehandel is, die tuinwerk gedoen is, die kuier by die pelle ingewerk is en die visvang-trip verby is, moet ek tevrede wees met die oorskiettyd.”

’n Paar vroue het ongemaklik in hul sitplekke rondgeskuif, en ek het vermoed dit is óf omdat hulle nié met haar kon identifiseer nie óf omdat hulle moontlik die skuldige party in dié verband is.

En toe bieg iemand: “Ek moet erken dat my man nogal laag is op mý prioriteitslysie. Ek bedoel, daar is skool, kinders, buitemuurse aktiwiteite, die selgroep. Almal het my nodig, maar my man kan sonder my klaarkom, so hy is die laaste een wat ek voel my aandag waarlik nodig het. Hy weet immers hoe vol my hande is.”

Promosie

Mmm . . . As sy maar net geweet het . . .

Hoekom moet jou huwelik jou nommer een wees?

#1. Want jy het dit belowe die dag toe jy voor die kansel gestaan het.

Dit is ’n belofte wat jy nie durf verbreek nie. Deur jou huwelik voortdurend as die eerste prioriteit te hou, bly jy in voeling met wat die heel beste is vir hierdie verhouding. Dit beteken dat versoekings nie eens ter sprake is nie omdat julle in die belang van jul huwelik optree.

#2. Dis deel van jou opvoedingstaak.

Die kinders is ’n gevolg van jul liefde vir mekaar. As jy en jou maat mekaar eerste stel, sien hulle dit raak en word dit deel van hul verwysingsraamwerk vir ’n huwelik. Jy is dit aan jou kinders verskuldig. Wys jou kinders dat manlief nommer een op jou lysie is en hulle ervaar liefde, stabiliteit en sekuriteit.

#3. Jou nes gaan eendag leeg raak.

Dokter Danielle Teller skryf in ’n artikel: “Kinders wat grootword met die idee dat hulle die middelpunt van die heelal is, het ’n moeilike tyd wanneer hul spesiale status verweer soos wat hulle volwassenheid bereik. Die ergste van alle is, paartjies wat kinder-gesentreerde lewens lei, kan voeling met mekaar verloor tot op die punt waar hulle niks meer het om vir mekaar te sê wanneer die kinders eers die huis verlaat nie.”

#4. Die lewe is lekkerder saam met ’n spanmaat.

Jou maat is jou minnaar, jou vriend, jou spanmaat, jou ander helfte. Dis soveel makliker om die lewe aan te pak as deel van ’n span en as jou maat nie jou eerste prioriteit is nie, word jou span onmiddellik gehalveer (en dit verloor gevolglik die helfte van sy krag, stamina  en doeltreffendheid!). As dit goed gaan met jou huwelik, gaan dit goed met jou en met jou kinders! Hoe gesonder jou huwelik, hoe meer tyd en energie het jy om aan jou kinders te wy.

#5. Dis belangrik vir romanse.

Sonder die romantiese element is jou huwelik ’n vriendskap. Romanse dra by tot intimiteit, ’n broodnodige bestanddeel in jou huwelik. Elke mens wil voel dat hy of sy iemand anders se belangrikste persoon is. En dít is waar daardie briefie in die kosblik of die piksoen vir geen spesifieke rede nie só ’n belangrike rol speel. Dit is waar daardie verrassing en hand-om-die-lyf gebaar onontbeerlik raak. Jou maat moenie net ’n prioriteit wees nie, maar soos ’n prioriteit voel. Só dra jy ook by tot sy/haar selfbeeld, en deel van jou taak as lewensmaat is om jou maat op te hef en ’n beter weergawe van homself/haarself te maak.

Hoe maak jy jou maat jou nommer een?

  1. Hou by jou woord. Een van die belangrikste maniere waarop jy jou maat ’n prioriteit kan maak, is om jou beloftes te eer. As jy gesê het jy sal saam met hom na die werksgeleentheid gaan, doen dit. As jy gesê het jy sal halfvyf by die huis wees, wees betyds.
  2. Kommunikeer soos ’n “pro”. Dit beteken dat jy praat én luister sodat jou man belangrik voel. Sodra die kinders eers daar is, is dit maklik om soos skepe in die nag by mekaar verby te beweeg. Parallel. Mans en vroue moet gereeld gesels oor dinge wat saak maak. Nie net roetinetsake nie, maar hartsake. Kyk mekaar in die oë, stel belang in mekaar se woorde en moenie mekaar in die rede val nie.
  3. Moenie altyd op die verdediging wees nie. Jou maat moet veilig genoeg voel om te kan sê wat hy/sy op die hart het, sonder dat jy op die verdediging spring en ammunisie bymekaar maak om terug te skiet. Onthou, julle is ’n span, nie kompetisie nie.
  4. Skeduleer tyd Dit is nie noodwendig so romanties nie, maar dit is beter as niks! En as jy nie daadwerklik tyd maak deur soms letterlik jou maat in jou dagboek aan te teken nie, gaan jy agterkom hoe vlieg die weke verby sonder om tyd saam met hom/haar deur te bring.
  5. Doen moeite met intimiteit. Nie net seks nie (hoewel dit ook baie belangrik is), maar ook emosionele intimiteit. Gesels oor diep dinge, ver verby die alledaagse. Stel jouself soms bloot voor jou maat deur te bieg oor wat jou pla.
  6. Wees waarlik teenwoordig. Wanneer jou maat siek is of seerkry, wees emosioneel en fisiek daar vir hom/haar. Jy kan jou maat bystaan deur tyd saam met hom/haar deur te bring, jy kan hom/haar ondersteun deur te troos.
  7. Toon gereeld belangstelling. Vra hoe dit gaan. As jy weet hy/sy het ’n belangrike voorlegging gehad om te lewer, vra hoe dit hiermee gegaan het. Maak seker jy bly in voeling met jou maat deur deel te wees van sy/haar wêreld.
  8. Skeduleer tyd saam met jou maat. Soms is date nights nodig en soms net ’n koffie waartydens jy jou driejarige stilmaak deur te sê: “Dit is nou my en pappa se beurt om te gesels. Speel gou ’n bietjie met jou Lego sodat ek vir pappa kan luister en daarna sal ek weer hoor wat jy wil sê.”
  9. Hanteer hom/haar soos ’n medemens. Soos die Bybel voorskryf – met respek. Praat mooi en moet hom/haar nie as vanselfsprekend aanvaar nie. Jou maat is, na alles, jou belangrikste persoon . . .

 

Deur Annelize Steyn

Addisionele bronne: www.familyshare.com, www.psycologytoday.com.