Hoewel ons nie noodwendig die tekort aan elektrisiteit en tegnologie terugwens nie, het die opsitkers, inryteaters en langspelers tog ’n spesifieke soort bekoring ingehou.
As julle eendag ’n dogter het, gaan manlief waarskynlik die dae terugwens toe die opsitkers aan die orde van die dag was en hy jongmanne met die haelgeweer kon inwag. As dit 50 jaar gelede was, sou die knaap senuweeagtig aan sy hemp se soom peuter en gedweë “Ja, oom” antwoord, terwyl jy presies geweet het hy is Dollie van die tuisbedryf se seun. Dinge lyk vandag ietwat anders.
En saam met outydse gebruike het outydse waardes ook by die deur uitgewaai. Ons is dankbaar dat ons nie meer hoef te leef soos in die jare toet nie, maar dink nostalgies terug aan die dae toe ’n man die kardeur vir sy geliefde oopgehou het en sy nog (vas oortuig dat die pad na ’n man se hart toe deur sy maag loop) ’n goeie malvapoeding kon bak.
Goeie hofmakery se wortels is gesetel in die Middeleeue, toe jongmanne meisies probeer oorwen het met serenades en poësie. In 17de eeuse Wallis is liefdeslepels dekoratief uitgekerf en deur ’n jongman wat na ’n meisie gevry het, aan haar gegee. Die betekenis van die kerfwerk het gewissel en gewoonlik uit liefdesverklarings of liefdespreuke bestaan. Dit was ook die dae toe waardes soos eerbaarheid en kuisheid hoog op prys gestel is!
Gedink die opsitkers is ’n suiwer Suid-Afrikaanse tradisie? Verkeerd! Gedurende die Victoriaanse era is ’n man en vrou aan mekaar voorgestel, waarna ’n opsitkers aan die brand gesteek is – die man en vrou is toegelaat om te gesels tot dit onder ’n sekere vlak gebrand het.
As die ouers van die jongman gehou het, sou die kers ’n bietjie langer wees as gewoonlik. Die teenoorgestelde was ook waar en sou ’n paartjie met ’n kort kers opgeskeep sit, het die arme man se selfvertroue van meet af aan nie ’n goeie wegspringplek gehad nie.
Op die webtuiste SelfGrowth.com skryf Sam Owen dat ons verhoudings vandag heeltemal anders bestuur as die generasies vóór ons. In ’n era waar webtuistes soos Tinder ’n heel nuwe betekenis aan die dating scene gegee het, is dit ondenkbaar om jou voor te stel hoe dit vir vorige generasies gewerk het.
Maar huwelike het gehou! Vir een het kameraadskap destyds baie punte getel. Skei was nie ’n opsie nie, want mense het besef dat jy en jou maat in ’n huwelik ’n span is wat mekaar komplementeer en ophelp wanneer die ander een val.
Dit was die dae toe dit absoluut onaanvaarbaar sou wees om ’n afspraak op die nippertjie te kanselleer, om sommer in jou gewone dagdrag op ’n date te gaan en om jouself met jou selfoon besig te hou terwyl jou maat voor jou in die niet in staar.
Is dit nie dalk tyd om ’n bietjie outydse sjarme terug te bring nie? Soos om op te staan wanneer jou toekomstige vrou die vertrek binnestap! Om haar jas te neem of om die deur vir haar oop te maak. Wees ook bedag op outydse waardes en dit kan dalk waarde tot jul toekomstige huwelik toevoeg.
DAG 1: Oorweeg jul rolverdeling. Gesels nou al oor hoe rolverdeling in jul huwelik gaan werk. Wie gaan kook, wie gaan tuinmaak? Gaan jy op ’n leer klim en gaan hy ’n babadoek omruil? Balans is die sleutel tot ’n gelukkige huwelik en as julle suksesvol kan oorvleuel, is julle op die wenpad. En hoewel dit beslis nie nodig is om argaïese geslagsrolle aan te hang nie, is daar wonderlike geslagsverskille wat ’n mens behoort te vier! Wil jy werklik aandring daarop om die kaggelhout te kap? Mans wíl soos mans voel en vroue wíl vroulik voel. As dit is wat onderskeidelik ’n boor en ’n lipstiffie vir julle doen, laat dit so wees.
DAG 2: Bêre die tegnologie weg. Maak die skootrekenaar toe, bêre die I-pad en kyk vir mekaar op die outydse manier. Daar is soveel teksgeleenthede, toeps en tegnologiese middels van bystand wat die lewe makliker, opwindender en prettiger kan maak, maar uiteindelik kom niks in die romanse-afdeling by ’n ware gesprek, ’n goeie lagbui, ’n dans en ’n stywe druk tussen maats wat mekaar liefhet nie. In die vlees. Om jul huwelik binne te stap en te wéét hoe belangrik dit is, kan baie vir julle beteken. Besluit sommer nou al dat jul huwelik minstens een aand per week tegnologie-vry sal wees.
DAG 3: Onthou die geskenk van onverdeelde tyd. Ons lewe in ’n kitssamelewing. Ons moet altyd iewers heen jaag. Afsprake moet kortgeknip word en jy moet multi-task om by almal uit te kom. Dit sal veral ’n uitdaging raak wanneer julle met ’n gesin begin. Daarom is die geskenk van tyd seker een van die kosbaarste dinge wat jy vandag vir jou maat kan gee. Jou onverdeelde aandag. Sonder om die horlosie dop te hou en die volgende geleentheid af te wag.
DAG 4: Wys jou opgewondenheid en jou dankbaarheid! Ons leef in ’n samelewing waar dit te cool geraak het om jou opgewondenheid, blydskap of waardering te wys. Destyds het jy ’n koppie suiker by jou buurvrou geleen en die koppie teruggeneem met tuisgemaakte fudge om dankie te sê. Jy het by jou meisie gaan kuier en vir haar pa biltong en vir haar ma blomme saamgeneem as teken van dankbaarheid vir hul gasvryheid. Jy het ook nie in sirkels gepraat nie, maar jou hart op jou mou gedra. Wys jou liefde, jou opgewondenheid en jou dankbaarheid teenoor jou maat – dis eintlik baie cool.
DAG 5: Smyt die wit leuens uit. Daar is waarde in die waarheid. Wit leuens is aan die orde van die dag. Ook teenoor jou maat. Jy wil jouself nie verontrief deur die volle waarheid te praat nie, so ’n ou klein wit leuentjie kom handig te pas. En volgende keer, ná daardie aanvanklike klein, “onskuldige” wit leuen, is dit soveel makliker om ’n groter een te vertel. En dan nóg ’n groter een, tot jy nie eens meer kan onderskei tussen leuen en waarheid nie. Besluit vandag in jul huwelik dat jou woord jou eer sal wees en dat jou maat jou eerlikheid verdien.
DAG 6: Hou jou huwelik uit die sosiale media uit. In die ou dae het die mense geglo dat jy nie jou vuil wasgoed in die openbaar was nie! Wat tussen jou en jou maat aan die broei was, is in die slaapkamer uitgesorteer en het niks met enigiemand uit te waai gehad nie (behalwe miskien vir tannie Koek by die sentrale, wat ingeluister het wanneer jy met jou ma gepraat het!). Hoewel ons vandag die waarde van terapie begryp – veral voorhuwelikse berading – is dit miskien goed om te onthou dat jy en jou maat jul probleme met mekaar moet uitsorteer – nie met die res van die wêreld op sosiale media nie!
DAG 7: Date behoorlik en met erns. Hanteer ’n romantiese afspraak met die erns wat dit verdien – ook eendag, lank ná julle getroud is. Dit beteken dat jy haar nie sommer by die restaurant kry na werk nie, maar dat jy haar by die huis gaan oplaai, uit die kar klim en aan die deur klop om haar behoorlik spesiaal te laat voel. Dit beteken ook dat jy nie sommer in jou werksklere opdaag nie, maar moeite doen (nie met ’n borstrok of ’n onderbaadjie nie, maar wel met die wete dat voorkoms tel).
Om mekaar weer met respek en outydse maniere te hanteer, kan wondere vir jou huwelik verrig. Wie wil nou nié ’n ridder en ’n prinses wees nie?
Deur Annelize Steyn
Addisionele bronne: www.marcandangel.com, simplemarriage.net.