Jy kry twee soorte mense: Dié wat met ’n baie ferm greep op die beursie gebore is en dié vir wie geld en die uitgee daarvan glad nie saak maak nie. En dié twee soorte mense is heel waarskynlik met mekaar getroud! Voordat jy die beursie gryp en jou maat daarmee teen die keel wil dreig, gebruik eerder hierdie tien maniere om jou maat lief te maak vir ’n begroting. Jy is reg, dit klink na ’n wenplan!

Promosie
  1. Vat my hand

Dra die las saam en deel in die vreugdes. Chantel Moolman, ’n besigheidsanalis van Roodepoort, beveel spanwerk aan. ’n Begroting gaan nié werk as net een homself daarop toespits nie. “Albei partye hoef nie 50/50 vir alles te betaal nie. Waar die een die huis betaal, betaal die ander een alles wat gepaardgaan met ’n huis, soos die heffings en belasting, water en elektrisiteit ens.” Só verseker jy dat een nie al die druk voel nie.

  1. Speel oop kaarte

Moenie geld of skuld vir jou maat probeer wegsteek nie. Henk Franken, ’n senior finansiële adviseur van Durbanville, benadruk dat dit baie belangrik is om as huweliksmaats oop en eerlik oor julle persoonlike finansies te wees. “Ondersteun mekaar, maak nie saak wat nie. Dit is veel makliker om saam te werk as om teen mekaar te stoei.”

  1. Waar trek ons?

Sorg dat julle tred hou met jul vordering. “Hou weeklikse klein vergaderings, waar julle mekaar ontmoet vir ’n koppie koffie of ’n glas wyn. Maak ’n date van jul begrotingsvergaderings,” stel Henk voor. Sodoende verander jy die uitpluis van ’n begroting van spanningsvol na prettig.

Promosie
  1. Doelwitte en drome

Moenie ’n begroting as ’n halsband beskou wat julle inperk nie. “Bespreek jul doelwitte met mekaar en luister mooi na mekaar. Verander jul drome in doelwitte. Dit is baie makliker om te spaar en te begroot as julle na ’n lekker doelwit toe werk,” sê Henk.

  1. Bederfwortel voor die neus

Min dinge sal jou maat so motiveer om te begroot en boonop by die begroting te hou, soos bonus-bederfdinge waarvoor julle juis begroot het. Chantel sê: “Spaar vir jou date nights, sit elke maand ’n bepaalde bedrag in jou begroting opsy en weet dit is beskikbaar as julle wil gaan uiteet en fliek. Só weet jy dat jy met ’n geruste hart kan uitgaan sonder skuld.”

  1. Maer bussie of spaarbussie?

Jy en jou maat moet mekaar aanmoedig om te spaar. Hoe gouer julle in die roetine van spaar en begrotings kom, hoe makliker sal dit mettertyd word. “Spaar, spaar, spaar! Al is dit net R500. Sou daar ’n onvoorsiene uitgawe kom, soos jou motor se remme wat vervang moet word, weet jy daar is R500 en die ander R500 kan dan byvoorbeeld op die kredietkaart gesit word, maar dan moet daardie R500 dadelik die volgende maand betaal word (wat dan eintlik jou spaargeld sou wees),” sê Chantel.

  1. Vryheid vir persoonlike luukses

Henk sê dit is belangrik om seker te maak julle los speling in jul begroting sodat elkeen nog hul vryheid vir kleiner persoonlike goed het, wat julle nie noodwendig met mekaar hoef te bespreek nie. Dan hoef jy nie te voel jy moet elke maskara of motortydskrif verklaar nie. Onthou dat jy steeds met dié luukses binne jul voorafbepaalde bedrag moet bly en nie byvoorbeeld van die kruideniersware-geld hiervoor kan gebruik nie.

  1. Skuld is die vyand van pret

Hou die skuldwolf so ver moontlik weg van die deur. “Begroot só dat julle uit die skuld bly. Maak seker jou geliefde verstaan die negatiewe uitwerking van rente op skuld. Dit verminder jul koopkrag en maak dat julle uiteindelik minder pret kan hê,” sê Henk. As julle wel skuld moet maak, let mooi op na die rente en bestuur die skuld met ’n ysterhand.

  1. Bly kalm

“Moet nooit oor finansies of jul begroting praat wanneer julle ontsteld of kwaad is nie. Dit moet ’n rustige gesprek wees, nie ’n stryery of vingerwysing nie. Help jou geliefde, identifiseer probleme en help mekaar reg. Jul liefde en optrede teenoor mekaar is baie belangriker as tydelike finansiële probleme,” sê Henk.

  1. Dink verder

Chantel sê dit is een ding om maandeliks na jul begroting te kyk, maar julle moet ook vooruit kyk na die komende maande. “As jy weet jou motorlisensie verval in November, kan jy al van September af ’n gedeelte van die bedrag in jou begroting inwerk om sodoende teen November al die geld te hê. Vakansies moet ook goed beplan word. Bereken álles, van die brandstof en tolhekke tot die wildrit waarop julle wil gaan.”

Maak jou maat stelselmatig gewoond aan begrotings as dit nie voorheen deel van sy/haar lewe was nie. Wys vir jou maat al die voordele van begrotings, en hoe dit jul lewe makliker maak en die spanning verlig. Gaan sien ’n finansiële raadgewer as julle nie weet hoe om voldoende te beplan of groot finansiële besluite te neem nie. Daag mekaar uit om te kyk wie uiteindelik speel-speel die beste met die begroting omgaan.

 

Deur Lize Groenewald