Vra jy enigiemand hoekom hulle nog nie Suid-Afrika verlaat nie, is ons lekker klimaat altyd een van die redes wat aangevoer word. Ons hou van sonskyn en braaivleis. Trampolienspring en uitgerekte dae op die strand. Só hoekom sal ons warmbloedige paartjies nie ook voordeel trek uit dít wat Suid-Afrika se somer bied nie?

Promosie

Seks in die buitelug is iets wat op jul bucket list móét wees. Dit is iets wat opwinding by jul intieme lewe kan voeg en verg nie sóveel moeite nie. Hier is twaalf dinge (waaronder ’n paar oulike posisies wat jy kan beproef) wat julle moet oorweeg as dit kom by seks onder die blou lug.

  1. Bly uit die tronk en uit die hospitaal. Onthou, seks in die openbaar is ’n oortreding! Jy wil ook nie ’n afgeleë systraatjie of verlate strand uitsoek nie – ons woon immers in Suid-Afrika! Kies iewers waar nuuskierige agies julle nie sal uitsnuffel nie en waar julle nie deel van ons misdaadstatistiek sal word nie.
  2. Kies jul posisies met oorleg. Die sendeling-posisie met jou naakte agterstewe in die son, is ’n dead giveaway. Jy op sy skoot, met ’n piekniek-kombersie diskreet om julle gedraai, aan die ander kant, is ’n ander saak . . .
  3. Laat die bokkies bloos. Is julle ywerige kampeerders? As julle graag in die bosveld kamp, hoef julle net ’n entjie in die veld in te stap vir ’n goeie plek. Jy kan teen die boomstomp leun met jou een been om sy middellyf, terwyl hy homself teen die boom stut. (Wees net versigtig vir skerpioene, spinnekoppe en ander dergelike dinge wat jul avontuur lelik kan laat skeefloop!)
  4. Druk jou vuis in jou mond. Vir julle om veilig genoeg te wees, maar ook privaatheid aan jul kant te hê, kan julle nie té ver wegdwaal van die beskawing af nie. Dit sal egter beteken dat julle nie gesien óf gehoor mag word nie. En dit beteken dat die dirty talk en krete van ekstase sal moet wag tot later.
  5. Lê ónder jou maat en bekyk die sterre. Kan jy dink hoe romanties is seks bo-op ’n gebou se dak, onder die sterre met ’n uitsig oor die stad? As julle só ’n plek kan opspoor en julle het boonop tyd om ’n matras op te dra, kan julle sommer net daar aan die slaap raak ná die tyd.
  6. Hou ’n lagie tussen julle en Moederaarde. As julle strandseks beplan, onthou die kombers of handdoek, om sand op obskure plekke te verhoed. En as julle ’n klipharde oppervlak in gedagte het, neem ’n joga-matjie saam.
  7. Beproef ’n stoute posisie. Staan met jou maat agter jou. Plaas nou jou hande op die grond voor jou, jou bene effens gebuig. Jou maat kan jou nou van agter af penetreer, met sy hande op jou heupe, en die diepte en ritme bepaal. As jy nié so soepel is nie, kan hierdie posisie ook goed werk met jou hande op ’n trappie sodat jy nie só ver vooroor hoef te buig nie.
  8. Hou die weervoorspelling dop. ’n Natalse sandduin terwyl die wind stormsterkte waai, is nié ’n goeie idee nie. ’n Koue front terwyl julle jul fantasieë in ’n bergpoel onder ’n waterval vervul, ook nie.
  9. Beproef die wonder van staande seks. Veral as julle julself op rowwe terrein bevind. Hier dink ons veral weer aan die bosveld of die woud. Jy wil nie allerhande snaakse goggas hê wat allerhande snaakse plekke aan jou lyf ondersoek nie.
  10. Hou ’n gebrek aan fasiliteite in gedagte. As julle iewers in die natuur die ding gaan doen, is die kanse goed dat daar nie water beskikbaar gaan wees nie. Neem dus Wet Wipes saam om na die tyd skoon te maak.
  11. Beplan jul wardrobe . . . Trek klere aan om by die situasie te pas. ’n Bikini eerder as swemklere is altyd ’n goeie cover-up. En ’n rompie wat bloot opgetrek word, is beter as ’n broek wat uitgetrek word. Los die kouse en skoene eenkant en onthou sonskerm as julle van plan is om in die bloedige son te kafoefel.
  12. Onthou die smeermiddel. Die kanse dat julle smeermiddel gaan nodig kry, is goed! Seks in die water? Jy het dit nodig om die wrywing te voorkom (soek een wat jy in die water kan gebruik). Moet julle vinnig spring voordat iemand julle sien? Weereens – smeermiddel en enige goeie quickie gaan hand aan hand.

Goeie beplanning vorm die fondasie van enige buitelug-sekskapades, so maak seker julle gaan ons lysie fyn deur voor julle daad by woord voeg. Oorweeg ook ’n goeie ontsnaproete (vóór die ander vakansiegangers ’n laer om julle trek) en ’n geloofwaardige verskoning (of buitelandse aksent!) om ’n potensiële rooi-gesig oomblik ’n bietjie draagliker te maak – sóú julle betrap word!

 

Promosie

Deur Annelize Steyn
Addisionele bronne: www.refinery29.com, www.bustle.com.