Julle het uiteindelik so ver gekom om date night in jul dagboeke aan te teken. Vuur en vlam gereed vir aksie, bel hy jou die oggend: “Só, wat doen ons vanaand?” Is julle idees op? Glo dit of nie, maar INTIEM s’n is nié!

Promosie

Idee nommer 1: ’n Goeie daad of twee

Terwyl julle saam pret het, kan julle net sowel iets goed vir die gemeenskap doen. Dit laat mense mekaar in ’n ander lig sien en daar is sóveel hulpbehoewende organisasies daar buite. Dit sal julle oefening en vars lug gee en die dag op ’n positiewe noot afsluit.

Julle kan ouer mense of kinders op ’n gereelde basis gaan help, maar as julle eers die liefdadigheid-date wil toets, doen iets meer lighartig soos om te help om staproetes, reservate of strande skoon te maak.

Promosie

As julle diereliefhebbers is, kan julle ook een dag by ’n organisasie soos Wet Nose met die diere gaan uithelp. Julle kan selfs net saam winkels toe gaan en speelgoed, komberse en dierekos gaan uitsoek om later saam na die skuiling toe te neem.

Besoek gerus charities.co.za om vas te stel hoe julle by ’n liefdadigheidsorganisasie in jul omgewing kan betrokke raak.

Idee nommer 2: ’n Weghol-verbeelding!

Onthou jy toe jy klein was en jou verbeelding jou na allerhande fantastiese plekke geneem het? Wel, speel julle is nog jonk en “bou” julle eie stories. Die hoofdoel van hierdie afspraak is om ’n kreatiewe manier te vind om saam ’n klomp foto’s te neem.

Maak ’n storie op, soos die keer toe jy en hy ’n skatkis vol goue munte (sjokolade) op die Karibiese Eilande ontdek het. Of die keer toe jul hond, Bielie, geleer het om kar te bestuur en vis te vang. Miskien is dit die dag toe julle saam met Tiger Woods ’n rondte gholf gespeel het!

Neem foto’s van spesifieke plekke, leer hoe om jou kamera se timer te stel en sorg dat julle ’n driepoot gebruik. Gebruik rekenaarprogramme om die foto’s te manipuleer en celebs daarin te plaas. Neem ’n klomp mal, belaglike foto’s!

Jy kan dit ook uitdruk in ’n album en teks daarby voeg om die storie te vertel. Wees spesifiek en vertel presies hoe julle gevoel het. En as die byskrifte klaar is, eindig met ’n slot soos: “En dít is hoe ons die Siamese tweelingspan-kampioenskappe by Wimbledon in 2011 gewen het!”

Idee nommer 3: Word saam grotgoggas

Is jou maat avontuurlustig? Want dié afspraak moet jy nie aanpak as jy getroud is met ’n couch potato wat nie lief is vir vuil word nie. Of miskien moet jy . . . maar berei hom of haar voor: Julle gaan deur modder kruip en deur klein skeure in pikdonker kruip. Julle gaan moeg word, vuil word en nat word, maar julle gaan ook dinge sien wat die meeste mense nooit in hul leeftyd sal sien nie.

Caving is ’n ervaring wat jy nooit sal vergeet nie. Soek op ’n webtuiste na jou naaste grot. Die Sterkfontein-grotte in Gauteng het wonderlike ervarings waar jy caving saam met absailing kan ondersoek. In die Wes-Kaap is meer as honderd grotte in die Kaapse Skiereiland, van klein oorhange tot diep krake van 1km ondergronds op Tafelberg, maar moet caving nie vir die eerste keer onbegeleid aanpak nie.

In Sabie, Mpumalanga, kan jy ’n ervaring genaamd Caving by Candlelight meemaak (encounter.co.za) en in KwaZulu-Natal bied Cathedral Peak, Garden Castle en Royal Natal National Park Caving soortgelyke geleenthede aan.

Neem ’n paar ligte handdoeke en water saam om jouself ’n bietjie skoon te maak voor jy terug in die kar klim. Energiestafies en droë vrugte is ook ’n goeie idee. Neem ook drie ligbronne per persoon saam, handskoene, warm klere, stewige stewels, elmboogskutte, water, ’n eerstehulpkissie en ’n vullissak om op te sit wanneer jy rus. Jy sal jou maat definitief in ’n ander lig sien!

Nog 10 oorspronklike afspraakidees

  1. Besoek ’n planetarium.
  2. Gaan op ’n spooktoer.
  3. Maak saam kerse.
  4. Lê op jul rûe en maak prentjies in die wolke.
  5. Lê besoek af aan ’n naburige dorp.
  6. Luister na ’n voorlesing van ’n nuwe boek.
  7. Gaan sing vir iemand wat in die hospitaal verjaar.
  8. Gaan saam na ’n veiling toe.
  9. Besoek ’n hondeskou.
  10. Speel Pictionary.

 

Addisionele bron: hotdateideas.com.