Geheime in ’n huwelik is verkeerd en stuur af op rampspoedige gevolge . . . maar is daar uitsonderings? Is ’n wegsteekfonds áltyd ’n doodskoot vir ’n huwelik of kan dit die situasie red?
Jy frons dalk wanneer jy hoor van die 35-jarige tuisteskepper, getroud met die 55-jarige CEO, wat heimlik duisende rande maandeliks wegsteek “vir ingeval dinge nie hou nie” of van die jong vrou wat ongelukkig getroud is, maar haar man “verduur” totdat sy genoeg geld bymekaar gemaak het om hom te los en huur vir ’n nuwe huis, meubels én ’n voertuig te kan bekostig . . .
Maar wat van die 31-jarige ma wat geld wegsteek omdat haar man die laaste sente uit hul rekening leegdrink en daar nie geld oor is vir doeke en babakos nie? Of die ma van drie wat die afgelope paar jaar runaway money bymekaar maak omdat sy deur haar man verbied is om te werk . . . dieselfde man wat haar al 17 jaar lank fisiek en emosioneel mishandel? En die vrou wat deur haar man “beheer” word, maar onlangs ontdek het dat hy ’n affair het . . . en nou benoud sit en wag vir die oomblik wat hy haar sonder ’n sent op straat gaan uitskop?
Skielik klink ’n geheime fonds nie meer só verkeerd nie . . .
Wie steek geld weg?
Navorsing deur ’n finansiële dienste-maatskappy, Prudential, het gevind dat een vyfde van vroue ’n verskuilde spaarfonds het. En ’n Amerikaanse studie het in 2011 ontdek dat 31% van paartjies “finansiële ontrouheid” gepleeg het deur oneerlik met mekaar te wees oor weggesteekte geld, die hoeveelheid skuld wat hulle het en selfs hoeveel hulle verdien. Daar is verskeie redes hiervoor. Die term “runaway money” se oorsprong is een van hulle – vroue steek geld weg sodat hulle nie op straat sit wanneer die huwelik misluk nie. Volgens Prudential het bykans ’n kwart van alle mense ’n weggesteekte fonds vir hierdie rede.
Maar daar is ander redes ook. Soms steek vroue geld weg ter wille van die gesin se behoud omdat hul mans spandabelrig of selfs dobbelaars is en daardie “weggesteekte geld” uiteindelik die gesin aan die lewe hou. Daar is ook gevalle waar daar van vroue wat hul lewens lank al finansiële onafhanklikheid gehad het, verwag is om hul beroepe prys te gee om kinders groot te maak – dié vroue sien nie kans om bakhand by hul mans te staan vir elke sent nie en mis hul finansiële vryheid.
Nigel Nocholson, ’n professor in organisatoriese gedrag aan die Londen Sakeskool, het paartjies en hul houding jeens geld ondersoek. “Hoe ’n paartjie met geld werk, kan baie van hul verhouding openbaar. Geld is baie simbolies van wie die mag en status en verantwoordelikheid in ’n vennootskap hou. Tradisioneel het die man, wat die hoof-broodwinner was, sy beheer van die gesin se finansies gebruik om sy mag uit te oefen deur byvoorbeeld sy vrou se besteding te beperk. Maar met meer gelykheid tussen die geslagte is dit nie meer straightforward nie en die lyne is geblur. Dit is nie verrassend dat vroue voel hulle wil nie al hul finansiële onafhanklikheid prysgee nie.”
JA: Soms is ’n wegsteek-fonds okay
Annemarie was gelukkig getroud met drie kinders. Haar man was ’n speurder in die polisiediens en sy het as boekhouer ’n goeie inkomste verdien. Toe loop dinge skeef. Haar man het onverwags besluit om te bedank en die sakewêreld aangedurf. Sy saketransaksies was baie vaag, maar hulle het skielik gerol in die geld. Toe bars die bom: Hy was betrokke by geldwassery en moes al die geld wat hy “verdien” het, terugbetaal. Hulle is insolvent verklaar en het daarna finansieel geweldig swaargekry.
Later het die patroon homself herhaal: Haar man het weer ’n geldmaakskema op die been gebring en hulle was skielik weer skatryk. Annemarie het nie die vrede vertrou nie en het, terwyl die geld volop was, ’n neseiertjie waarvan haar man nie geweet het nie opgebou. Toe die bom wéér bars en haar man deur die polisie gesoek word vir bedrog, kon sy die geld gebruik en hom verlaat om, saam met haar kinders, ’n nuwe lewe aan te durf. Sy sou dit nie kon doen as sy net op haar salaris aangewese was nie.
Volgens Louise van Coller, ’n Christelike huweliksberader en persoonlikheidsanalis, is dit nie heeltemal eerlik om geld te “bêre” sonder dat jou huweliksmaat daarvan weet nie. “In ’n perfekte wêreld is openheid en eerlikheid altyd ons almal se eerste keuse as ouers, huweliksmaats en vriende, maar omstandighede kan ’n mens soms dwing tot noodleuentjies of ‘krisiswaarhede’. Of dit nou reg is of nie, ons almal doen dit soms en dikwels met reg, veral as dit kom by die beskerming van ons kinders of as ons lewens bedreig word. As huweliksberader raai ek mense aan om oop kommunikasiekanale te hê, maar huwelike beland dikwels in ’n posisie waar trauma deur verslawing, misbruik, geweld of molestasie ’n huwelik onder groot druk plaas. Dan raak oorlewing ’n mens se enigste motivering en dit bepaal jou gedrag,” meen sy.
Sy sê ook: “In sulke omstandighede móét ’n mens geld opsy sit vir lewensnoodsaaklike middele of vir die moontlikheid van verlating wanneer lewens bedreig word of kinders se gesondheid na liggaam, siel en gees ernstig benadeel word. Dit is gevalle soos hierdie waar elkeen van ons die beste sal doen in die gegewe situasie en bid dat ons Almagtige God ons sal beskerm en bewaar omdat Hy ons liefhet en verder as die daad kyk en die omstandighede begryp. God is en bly ’n God van liefde!”
NEE: Dit bly verkeerd
Geheime in ’n huwelik kan onherstelbare skade berokken. Om maandeliks ’n aparte spaarvarkie vet te voer waarvan manlief nie weet nie, is om met vuur te speel. Een of ander tyd gaan jy jou vingers lelik verbrand. In ’n gesonde en gebalanseerde huwelik is daar nie plek vir geheime nie en allermins vir finansiële geheime. Dit bedreig die eerlikheid, integriteit en uiteindelike voortbestaan van die huwelik.
Ds Siegfried Louw, leraar van Brackenfell, beklemtoon dat daar deesdae baie hulpmiddels en ondersteuning tot paartjies se beskikking is. Dit behoort volgens hom ’n baie beter belegging te wees om betyds vir professionele hulp te gaan as om stilletjies geld weg te sit as agterdeur. “Indien die huwelik reeds op só ’n stadium is waar ’n huweliksmaat in die geheim geld bymekaar maak ‘vir ingeval’, beteken dit dat openheid en eerlikheid lankal reeds nie meer deel van hulle verhouding is nie. Hoe werk ’n mens aan ’n verhouding sonder om eerlik te wees oor wat jy werklik dink en voel? Is dit werklik die moeite werd om die plesier van ’n selfbederf te plaas bo eerlikheid en die moontlikheid om aan jou huwelik te werk? Ek dink nie só nie.
“Verder bly die pa ook ’n ouer van hulle kinders, wat beteken dat hy in die oë van ons landswette ook aanspreeklik bly vir die kinders. Hy sal dus verantwoordelik gehou word vir finansiële ondersteuning. Die vrou is waarskynlik reg dat sy nie meer dieselfde lewenstyl sal kan handhaaf na afloop van ’n egskeiding nie. Is haar huidige lewenstyl egter die hoofrede waarom sy steeds getroud bly? Ek dink nie enige mens wil sy/haar selfwaarde en integriteit verkoop nie. Nie net word haar man dan ’n verbruiksartikel nie, maar sy self sal weet sy bly op die oomblik getroud slegs om finansiële redes. Dit kan nie ’n lekker plek wees om te wees nie en kan die pad na heel word erg benadeel,” sê Siegfried.
Erika Nell, kliniese sielkundige van Pretoria, sê dat runaway money ’n huwelik baie skade kan berokken aangesien daar waarskynlik in só ’n geval wantroue in die huwelik beleef word. Sy beklemtoon ook dat dit belangrik is om te kyk waarom huweliksmaats enigsins die behoefte sal hê om só ’n fonds te stig. Sy vertel dat wegsteekgeld ongewenste gevolge kan hê. Behalwe ’n moontlike regswetlike kwessie, kan dit lei tot onsekerheid en wantroue. Dit dui ook op ’n tekort aan toewyding, wat dus die verhouding onveilig maak.
So hoe gemaak as jy in hierdie situasie is?
- Erika meen die kern van die probleem is dat behoeftes en bekommernisse nie oorspronklik bespreek en onderhandel word om veiligheid en versekering te bied en behoeftes te bevredig nie. “Dit kan so ver strek dat die verhouding as vyandig beleef word of dat die paar eenvoudig net nie oor die vaardighede beskik om behoeftes te kommunikeer en te onderhandel nie. Dus is dit aanbevole vir huweliksmaats wat mag voel dat hulle ’n runaway fonds wil stig, om tyd te spandeer om ondersoek in te stel oor watter behoeftes hierdie fonds vervul en te oorweeg of dit moontlik is om hierdie behoeftes tussen maats te bevredig of nie en dán ’n besluit te neem.”
- Erika sê egter ook: “Natuurlik moet dit in ag geneem word dat elke verhouding en konteks uniek is en in sommige kontekste soos waar geweld betrokke is, mag die mees optimale roete wel wees om geheimsinnig voorbereiding te maak om uit te tree.”
- Doen jou bes om nie al jou finansiële onafhanklikheid prys te gee nie. Kan jy moontlik iewers ’n deeltydse inkomste vandaan kry wat net joune is? Dis beter om daardie geld te verdien as om jou geld uit jul gesamentlike rekening te “verskuil”.
- Vind uit oor waar jy wetlik staan. Wat sê jul huweliksvoorwaardekontrak? Is julle binne of buite gemeenskap van goedere getroud? Met of sonder die aanwasbedeling? Laat ’n prokureur jou huwelikskontrak deurgaan en duidelik aan jou verduidelik waar jy staan ten opsigte van jou opsies.
- Gaan sien ’n huweliksberader. Baie mense skop styf sodra hulle die woorde “berader” of “sielkundige” hoor, maar as jy die behoefte het daaraan om ’n runaway fonds te stig, beteken dit daar is reeds groot moeilikheid tussen julle. Voor jy planne beraam om weg te hardloop, maak 100% seker dat jy alles in jou vermoë gedoen het om jou huwelik te red.
Addisionele bronne: www.thisismoney.co.uk.