Elke goeie huwelik is op ’n hegte vriendskap gebaseer. Dit is inderdaad só, maar wat as jy en jou man jul oë uitvee en skielik ontdek julle is meer huismaats as huweliksmaats?
Ek en André was nog altyd goeie pelle. Ons kon ure lank gesels oor wie-weet-wat en lekker op ons eie kuier om ’n bottel rooiwyn. Ek het gedink dit is wat ons bymekaar hou en dat dit “ een van ons huwelik se sterkste eienskappe is. Tot die dag toe ons saam televisie gekyk het en ek ons verhouding kon eien in twee van die karakters s’n. Die probleem was, hulle het ’n woonstel gedeel en niks meer nie!” Só vertel Daleen oor haar huwelik.
“Ek het met ’n skok ontdek dat ek só gefokus was op ons vriendskap dat daar niks verder van ons verhouding oorgebly het nie. Die romanse en die passie was weg – oornag.” Daleen het met André daaroor gesels en ontdek dat hierdie kwessie hom al ’n rukkie lank pla. Hulle het besluit om daadwerklik iets aan die saak te doen en het hul huismaatstatus weer omgekeer in dié van huweliksmaats.
Hoe gebeur dit?
Die nes raak vol en die rekeninge hoop op. Soveel tyd en energie word aan verpligtinge spandeer dat ’n paartjie se intimiteit aan die kortste end trek. Hulle begin die huwelik as vanselfsprekend aanvaar en glo dat die liefde genoeg is om hulle “deur te trek”. As dit gebeur, praat twee huweliksmaats nie meer nie – hulle tick net die noodsaaklikste items op die to do-lysie af. En kort voor lank is hulle soos skepe in die nag.
Soms is dinge skynbaar só “normaal” dat ’n paartjie glo hulle is op ’n goeie plek, want daar is geen drama of konflik nie – tot een (of albei) een oggend wakker word en “verveeld” voel! Volgens Pepper Schwartz, ’n professor in sosiologie en sielkunde, sowel as outeur van die boek Prime: Adventures and advice about sex, love and the sensual years, kan dit groot verwydering tussen huweliksmaats veroorsaak.
Omdat só ’n paartjie funksioneer, lyk die huwelik vir buitestaanders perfek, maar hoewel die huismaats al die verantwoordelikheid van getroud-wees aanvaar, het hulle nie die voordele nie. Hulle voel nie geliefd nie en die emosionele intimiteit is weg. Soveel paartjies begin as sielsgenote en beste vriende . . . en word dan huismaats. Huismaats wat heimlik (wetend óf onwetend) kwaad is vir mekaar.
Hoe weet jy julle beweeg in die gevaarsone?
- Jy gebruik die kinders as verskoning. Daar is net nooit tyd vir manlief nie, want jy het die kinders en al hul aktiwiteite wat moet aandag kry. Jy is druk besig en glo daar sal weer tyd wees vir jou man – eendag wanneer die kroos groot is.
- Julle spandeer nie tyd saam nie. Huismaats voel nie dit is nodig om enige tyd saam deur te bring nie – julle sien mekaar immers by die huis. Daarom maak julle beurte om te babysit – hy sodat jy na jou boekklub toe kan gaan. En jy sodat hy boys’ night kan geniet.
- Jy hou jou hande vir jouself. Ja, huismaats raak nie aan mekaar nie. Hulle druk nie, hulle soen nie en hulle hou nie hande vas nie. Jy voel dalk asof die kinders heeldag aan jou hang en jy jou persoonlike ruimte nodig het . . .
- Jy het vergeet hoe om te flirt! Daar is bloot nie tyd hiervoor nie. Wanneer hy boonop ’n Koos van der Merwe-grappie maak, lag jy nie eers meer nie – jy het dit immers al hoeveel keer gehoor.
- Julle slaap nie in een bed nie. Miskien deel jy die bed met jou jongste prinsessie. Of manlief slaap saam met Wagter. Huismaats slaap nie saam nie en wat ook al jou verskoning mag wees (hy snork, dis te warm), hier is moeilikheid.
- Julle spring in die kooi wanneer dit jóú pas. Weens al bogenoemde redes is jy nie juis lus vir seks nie en het jy besluit manlief het dit ook nie nodig nie. Daarom dra jy jou oudste flennie-pajamas bed toe en paradeer in jou gesigmasker voor hom.
- Julle hou jul beursies vir julself. Huismaats deel nie geld nie en jy wil nie hê iemand moet oor jou skouer loer as jy daardie nuwe bottel parfuum koop nie. Elkeen van julle het ’n eie bankrekening en kredietkaart. Vir sommige paartjies werk dit en by ander bring dit verwydering.
Wat maak jy?
- Wees realisties. Julle kan dalk weer wonderlike seks hê, maar all-nighters is dalk ’n bietjie idealisties met dié dat Boetie drie keer vannag gaan kom inloer en Pappa môre ’n voorlegging moet lewer.
- Skeduleer seks. Kyk waar staan julle en laat seks gebeur! Dit gaan dalk nie elke keer hang-aan-die-kandelaar-tipe seks wees nie, maar moenie ophou om dit te doen nie. Gesels hieroor en besluit om tyd opsy te sit hiervoor. Seks is nie opsioneel nie.
- Skep intimiteit. Vertel mekaar dinge wat julle eksklusief vir mekaar hou. Die huwelik fokus op eenheid tussen ’n man en ’n vrou. As een of beide van julle jul mees private gedagtes en drome met iemand buite die huwelik deel, word daardie intimiteit nie waardig genoeg geag nie.
- Doen iets opwindend. Moenie toelaat dat verveling julle onderkry nie. Neem saam ’n kookklas, leer om branderplank te ry. Sorg dat daar minstens een stokperdjie is wat julle deel. Om saam ’n nuwe avontuur aan te pak, gee julle fokus (en dit is goed vir julle sekslewe!).
- Praat oor dít wat saak maak. Vergeet vir eers van die oppervlakkige kommunikasie (“Hoe was jou dag?” of “Wil jy koffie hê?”) en fokus op dieper gesprekke. Maak ’n ritueel vas, soos 20 minute se saamstap in die middae, waartydens julle ononderbroke kan gesels. Vra mekaar een betekenisvolle vraag in daardie 20 minute, soos: “As jy net een droom wil bereik voor jy 60 is, wat sal dit wees?”
Julle kan beste vriende wees en julle kan super-gemaklik by mekaar wees, maar dít wat jou verhouding met manlief gaan onderskei van dié met jou ander vriende, is daardie intimiteit wat slegs vir huweliksmaats bedoel is. Leef dus bewustelik en maak seker jou huweliksmaat voel na meer as slegs ’n huismaat!
Deur Annelize Steyn
Addisionele bronne: www.thrivingcouples.com, www.webmd.com, www.jennyschermerhorn.com, www.yourtango.com, www.newspring.cc, www.marriedandyoung.com