Sommige vroue kry nie nege maande om gewoond te raak aan die idee van ma-wees nie. Hoe gemaak as jy, nog jonk en kinderloos, trou met ’n pa van vele . . . En jy oornag ’n mamma moet word?
Jy het uitgestel om self kinders te hê weens ’n hele klomp redes. Toe raak jy absoluut dolverlief op Pierre, ’n wonderlike man en vind uit hy het twee kinders uit ’n vorige huwelik. Julle is vreeslik goed saam en dit voel asof hierdie man regtig jou lewensmaat is. Jy ontmoet vir Pietertjie en Monique wanneer hulle vir hom kom kuier en, wanneer julle besluit om te trou, is hulle blommekinders op julle groot dag. Julle is opgewonde met die verwagtinge van julle nuwe, groot, gelukkige gesin!
Maar dinge raak byna oornag sommer baie meer gekompliseerd. Pietertjie moet graad een toe (skoolklere, oueraande, huiswerk, kosblikke . . .) en Monique het weer aanpassingsprobleme by haar nuwe kleuterskool! Julle kom agter Pierre se eksvrou maak byna aspris dinge vir julle moeiliker! Die kinders laat val dinge wat van hul ma af kom, soos: “Sussa, Mamma het mos gesê jy mag nie op tannie Heloise se skoot sit nie!”
Boonop is jy skielik in die posisie waar jy kinders moet leer, dissiplineer én jy probeer nog ’n band met hulle opbou! Pietertjie is ’n skaam seun en hy wil eintlik nie baie met jou te doen hê nie, en dis duidelik dat hy geleer is om na sy sussie te kyk. Monique is ’n dierbare vierjarige en wil alte graag haar tuis maak in haar tweede gesin by julle, maar sy draai haar pa só om haar pinkie dat sy met baie dinge wegkom!
Dis net ses maande later en wát het van jou en Pierre se ongelooflike huwelik geword? Naweke is dit nou gereeld julle en die kinders of julle by een of ander kindergebeurtenis. Onthou die volgende, kitsmamma . . .
Hou in gedagte dat kinders dikwels baie verwardheid en seer beleef rondom ’n nuwe verhouding van hul ouers. Jy verteenwoordig dalk die finale verbrokkeling van hul laaste hoop dat hul ouers kan herenig. Dit wat julle (selfs die media) as ’n sprokie van ’n hersaamgestelde gesin met nuwe liefde beleef, is vir hulle ’n bedreiging wat hulle self nie eens mooi verstaan nie. Hulle kan die situasie alleenlik as kinders ervaar – kinders het nooit al die inligting nie en kan nie die inligting op dieselfde vlak as die volwassenes integreer en verstaan nie. Verwag dus verwardheid, weerstand, uitdagende gedrag, probleme met aanpassing – hulle het ook nie dieselfde woorde en vaardighede om hulle belewenisse mee uit te druk nie. Hê ook deernis met jouself! Dit ís ’n groot uitdaging wat jy aanpak – jy gaan nie dadelik weet hoe nie en die meeste van die klippe in jou pad gaan jou verras. Dis belangrik om genadig te wees met al die partye wat hierby betrokke is – dis ’n groot aanpassing en julle moet saam-saam leer by mekaar en groei.
Só bou jy ’n band met jou man se kinders (as jy self nog nie ’n ma is nie)
- Moenie van jouself verwag om die perfekte kitsmamma te wees nie! Wees realisties en geduldig met jouself.
- Hê vreeslik baie geduld met die kinders se aanpassing – hulle het dit nie gekies nie, júlle twee grootmense het.
- Praat baie met jou man oor jou belewenisse. Gebruik taal soos: “Ek voel. . .”, “Ek het nodig dat . . .”, “Ek ervaar . . .”, “Ek het hulp nodig met . . .”, NIE beskuldigend of aanvallend nie.
- Bou heel eerste ’n vertrouensband op met sy kinders, voordat jy hulle dissiplinerende ouer word.
- Vertroue ontwikkel oor tyd – dit kan nie geforseer word nie. Dít kry jy deur die volgende te doen:
– Beweeg treetjie vir treetjie nader aan hulle.
– Wees jouself – moenie kunsmatig teenoor hulle optree nie.
– Vra ’n kind baie uit oor sý wêreld, sý belewenisse, sý drome, sý speletjies, sý vrese, sý stories.
– Luister met aandag en opregte belangstelling.
– Keer jouself om te preek, te kritiseer, reg te help en lesse te leer!
– Luister net en reageer soveel as moontlik net met bevestigende kommentaar: “Sjoe, dit klink lekker!”, “Was dit vir jou lekker/sleg?”, “Oe, ek kan hoor jy hou baie dáárvan!”, “Sowaar, dís ’n oulike storie!”.
– Keer jouself om jou seer te wys as enige iets wat die kind sê betrekking het op jou. Byvoorbeeld: “Mamma sê ek mag nie op jou skoot sit nie.” Herinner jouself aan die kind se onskuld en verwardheid oor sulke boodskappe. Hulle is onseker oor hoe om lojaal te bly teenoor hulle ma terwyl hulle ’n band bou met jou.
– Lees saam met hulle storieboeke – dis ’n wonderlike manier om baie na aan hulle te kom en ’n verbeeldings- wêreld te deel, sonder dat enige een van julle ongemaklik voel.
– Laat jou man toe om jou baie te vertel oor hoe hy elke kind se geaardheid sien. Dit mag vir jou moeilik wees, want dit betrek sy band met hul ma, maar jy het nodig om hulle ook deur sy oë te kan sien.
- Wees bedagsaam teenoor hulle ma. Konflik tussen die grootmense maak altyd dinge vir die kinders baie moeiliker. Sorteer konfliksituasies uit wanneer die kinders nie by is nie.
- Hou tyd, ruimte en ervarings eksklusief vir subgroepe in julle gesin. Jy en jou man (een subgroepie) moet van tyd tot tyd ’n uur/’n aand/’n naweek alleen saam spandeer. Net so is dit ’n goeie plan vir hom om alleentyd met sy kinders deur te bring en ook vir jou om soms pret met een of al die kinders te hê – sonder dat hulle pa by is.
- Praat baie met jou man oor die nodige dissipline, beplanning, knelpunte en behoeftes.
- Kry soveel as moontlik inligting! Lees boeke oor hersaamgestelde gesinne, sien ’n terapeut. Gun jouself soveel as moontlik akkurate raad.
Jy gaan baie van jouself moet belê in jou verhouding met jou man en sy kinders, maar as jy en hy saam hierdie lewensavontuur aanpak, kan dit baie bevredigend wees.
DATE NIGHT IDEE:
Kyk gerus saam die fliek ‘Stepmom’, met akteurs Susan Sarandon en Julia Roberts. Anna en Ben, Jackie en Luke se kinders, moet die feit dat hul ouers geskei is trotseer – ook dat daar boonop ’n nuwe vrou in hul pa se lewe is. Isabel is ’n suksesvolle fotograaf wat haar bes doen om die kinders tuis te laat voel wanneer hulle daar kuier, maar sy is ook nie van plan om haar werk prys te gee nie. Jackie, ’n voltydse ma, dink Isabel se pogings is hopeloos. Die konflik vererger wanneer Jackie skielike slegte nuus kry en só leer hulle almal hoe om saam te groei in hierdie moeilike situasie.
Deur Wilmé Steenekamp