DIS GROOT PRET OM SAAM OPNUUT DIE TIENER IN MEKAAR TE ONTDEK!

DANS!

Onthou jy hoe julle in die skoolsaal gesokkie het? Vandag se jongmense “sokkie” nog altyd. Vind uit waar die volgende sokkie in julle omgewing gehou word en kry op ’n slinkse manier twee kaartjies in die hande. Dan gatecrash julle! Neem ’n Abba-CD saam en gee dit aan die DJ. En looi daardie dansvloer! Die jonges gaan dink dis cool en julle ywerig toejuig. As julle eie tienerkinders teenwoordig is, gaan julle nie gou vergewe word nie.

VRY

Leen jou pa se motor, maar vertel ‘speel-speel’ vir vroulief jy het dit vasgelê. Miskien is sy saam met jou opgewonde, maar as die spanning dat julle die aand in die tronkselle mag slaap, die teenoorgestelde effek op haar libido het, vertel haar eerder jy het die kar by jou pa ‘geleen’. Sit in die oprit (as dit veilig is) en vry mekaar vuurwarm (seks op die agtersitplek is opsioneel, maar word aanbeveel).

FLIEK

Koop twee fliekkaartjies vir die agterste ry en vry tot julle tone krul. Met dié soort goed is die pret altyd groter as julle betrap word. Dink net: ’n Ontstelde plekaanwyser vra julle ferm om die teater te verlaat en julle word met bloedrooi gesigte by die teater uit gelei . . . lekker!

UITEINDELIK . . . Ons wou almal as tieners iets stouts aangevang het, maar het nooit die moed gehad nie: Kaal swem in die munisipale swembad, om julle maagdelikheid (in hierdie geval opnuut) in ’n openbare parkie, die tuinskuur of ’n klerewinkel se aanpashokkie te verloor, om mekaar op ’n onbehoorlike wyse in jou/haar slaapkamer te betas terwyl julle veronderstel is om saam huiswerk te doen . . . Doen dit nou.

STRY

Onthou jy hoe emosioneel tieners kan wees, veral wat die liefde betref? Hier is ’n lekker role play-idee. Boender die kinders by die huis uit. Trek jeans en T-hemde aan en beskuldig haar dat sy met leepoë na die rugbykaptein se bene gekyk het, of jý gebruik haar net om huiswerk af te skryf. Skreeu en huil soos net verliefde tieners dit kan doen. Dan, die keerpunt: Julle maak net so vinnig vrede as wat julle begin baklei het, met ’n vurige opmaaksessie op die sitkamerbank. Dalk gaan die vrysessie dié keer te ver . . .

 

Deur JB Roux