Jy kan jou ore nie glo nie, vroulief het uiteindelik ja gesê dat jy ’n motorfiets kan koop. Whoo-hoo! Maar vanaand as julle in die bed klim, kry jy die koue skouer en silent treatment. Hoe het dit gebeur?

Promosie

Jy is reg – jy moes nie jou ore geglo het nie. Vroulief het dalk ingestem met woorde, maar haar lyftaal het duidelik gewys dat sy nie van die idee hou nie. As jy maar net die nie-verbale boodskappe raakgelees het, sou jy agtergekom het dat haar hele wese “nee!” gesê het. Dit klink nie baie regverdig nie, né? Ongelukkig vind meer as 90% van ons kommunikasie nie-verbaal plaas, en ongelukkig is manne nou nie altyd so oplettend nie. Voeg daarby hoe maklik dit is om vroulief se lyftaal verkeerd te interpreteer, en jy het ’n resep vir ’n tandetrekker-toffie soos min.

So, hoe kan jy keer dat jou adamsvye op die braaivleisvuur beland? Kom ons kyk na ’n paar algemene scenario’s en die clues wat verklap hoe sy werklik voel.

Sy het my gesoen en gedruk, so sy kan nie só kwaad wees nie.

Promosie

Hoe het sy jou gesoen en gedruk? ’n Soen met stywe, harde lippe en ’n drukkie waar haar bors skaars aan joune raak, sê dat sy nie nou naby jou wil wees nie en dat sy nie wil hê jy moet aan haar raak nie. Wat jy na soek, is lippe wat linger en ’n drukkie wat soveel as moontlik van haar lyf insluit.

Ons sit darem nie by aparte tafels in die restaurant nie.

Gelukkige paartjies wil gewoonlik so naby as moontlik aan mekaar sit by ’n tafel, selfs al is daar kinders teenwoordig. As sy skielik wil hê die kinders moet tussen julle sit, sy kyk skaars vir jou tydens ete, sy draai haar rug op jou of sy probeer haar kos vinniger klaarmaak as gewoonlik, kan jy maar weet jy is in vir ’n ding. Sy is woedend en wil hê jy moet om verskoning vra – en haar daarna uitlos dat sy kan afkoel.

Sy het my punt ingesien.

Julle het een van die grootste argumente nog gehad, maar jy is positief dat julle tot ’n vergelyk gekom het. Julle het julle “jammers” gesê, en dis nou nie asof sy na die tyd die deure toegeklap het of die skottelgoed rondgegooi het nie. Nee wat, dié ene is verby, dink jy. Verkeerd! Dit gaan alles oor hoe sy gereageer het terwyl julle besig was om te baklei. Slegte tekens: Sy het rondgekyk of haar oë gerol, sy het haar liggaam weggedraai van joune af, sy het jou uit die hoogte aangekyk of sy het haar neus gefrommel. Hierdie is alles moontlike tekens dat sy nie met jou argumente saamgestem het nie, wat beteken dat julle heel moontlik weer koppe gaan stamp oor dieselfde kwessie. Jy gaan ’n beter poging moet aanwend om haar te verstaan.

Sy is in die mood.

Oh-oh, hierdie is ’n gevaarlike ene. Nie alle vrouens toon dieselfde tekens wanneer hulle in die bui vir bedpret is nie, so dit is belangrik dat jy jou vrou se unieke boodskappe leer ken.

Die volgende is moontlike aanduidings dat sy oop is vir intimiteit:

  • Haar pupille vergroot wanneer sy vir jou kyk. Dit wys dat sy geïnteresseerd is in hoe jy lyk, wat jy doen of sê. Vergrote pupille is die oë se natuurlike manier om meer te kan sien van iets wat die brein opgewonde maak.
  • Sy sit met haar lyf na jou gedraai of die manier waarop sy haar liggaam posisioneer, reflekteer jou eie.
  • Sy loer gereeld in jou rigting. Sy sal soms probeer om dit weg te steek as sy sien jy kyk vir haar en ander kere sal sy oogkontak behou vir ’n paar sekondes voordat sy vinnig wegkyk. Of sy sal oogkontak behou en haar wenkbroue lig. Solank haar kyke gepaard gaan met ’n glimlag en nie ’n frons nie, is dit ’n uitnodiging om haar kamer toe te dra.
  • Sy kom ontspanne voor en probeer nie jou aanraking vermy nie.

Sy geniet wat ek besig is om te doen.

As jou vrou nie kreun, hyg of gil tydens seks nie, kan dit soms moeilik wees om te weet of jy dinge reg doen of nie. Indien haar bors ’n blosende skynsel kry tydens voorspel, kan jy weet jy is op die regte pad. Die skynsel is die resultaat van haar bloedsirkulasie wat verhoog omdat sy opgewonde is. Ook, as sy haar rug arch tydens seks, sê sy baie duidelik vir jou dat jy moet aangaan waarmee jy besig is. Jy weet egter jy is besig om aan te jaag as sy haar oë toeknyp en haar rug en skouers styf maak en soos ’n boomstomp daar lê. Verander dan dadelik jou taktiek of posisie.

 

Deur Thalia Brüssow

Addisionele bronne: focusonthefamily.ca, redbookmag.com, menshealth.com.