O ja! As jy glo dat jy gedoem is tot ’n selibate lewe die oomblik wat daardie gevreesde M aan jou deur kom klop, dink weer. Hier is die goeie nuus!
Daar is vroeër jare geglo dat vroue wat hul menopousale jare bereik het, ook totsiens sê aan seks, maar daardie dae is gelukkig lank reeds verby.
Sommige menopousale vroue merk geen verskil in hul seksuele begeerte, genot of prestasie op nie en vir ander is die verskille merkwaardig, sê Kate Bracy op die webtuiste www.about.com. Daar is mense wat aanneem dat die verlaging in estrogeen verantwoordelik is vir die postmenopousale afname in seksuele begeerte wat deur sommige vroue ervaar word, maar navorsing aan die Universiteit van Massachusetts Mediese Skool het ontdek dat kernfaktore die volgende insluit: individuele houdings teenoor seksualiteit en oorkoepelende gesondheid- en huwelikstatus. Ook dat estrogeen níé verband hou met enige verandering nie.
Jy kan sukkel met vaginale droogheid en pyn gedurende seks, ’n lae libido hê, moeite ervaar om opgewek te raak, meer vaginale infeksies en minder sensasie in die genitale area hê. Maar selfs al is jy een van die ongelukkiges vir wie die veranderingeopmerklik is, kan jy steeds iets daaraan doen.
Wenke:
- Oordeel jou simptome. Vaginale droogheid, pyn gedurende omgang en ’n tekort aan belangstelling in seks is algemeen ná menopouse
- Kyk na ander dele van jou lewe. Spanning kan jou houding teenoor seks beïnvloed, ook hoe jou liggaam funksioneer. Daar is baie uitdagings in jou lewe, soos jou bekommernis oor jou bejaarde ouers en volwasse kinders, huweliksprobleme, ’n werksituasie en ’n kombinasie van dit alles.
- Gesels daaroor. Kenners stel voor dat jy met jou maat gesels, maar dit is definitief nie maklik nie. Begin by jou dokter en praat dan reguit met jou maat oor wat julle uit jul verhouding wil hê
- Ondersoek die moontlike smeermiddels op die mark. Volgens kenners is wateroplosbare smeermiddels die beste om te gebruik. Ander kan kondoommateriaal beïnvloed en ’n gunstige atmosfeer vir bakterieë skep
- Laat jou volledig ondersoek. Dit kan help om te bepaal of ander fisieke kwessies jou gesondheid en seksuele funksionering beïnvloed.
- Vra ander uit oor oplossings. Hormoonvervangingsterapie dra estrogeen by en spreek vaginale droogheid en seksdrang na menopouse aan. Mense voel verskillend hieroor en die verhouding daarvan met kanker en ander ernstige toestande. Daar is estrogeen-gebaseerde medikasie wat klein hoeveelhede van die hormoon bevat.
- Leer ontspannings- en stresverminderingstegnieke aan sodat jou energievlakke nie hierdeur getap word nie.
- Vermeerder voorspel sodat jy opgewek kan raak en jou lyf genoeg smeermiddel kan produseer.
- Masturbeer en hê gereeld seks om sirkulasie na die genitale area te bring en sensasie daar te hou.
- Vra jou dokter oor voorgeskrewe orale of transdermale estrogeen en/of progesteroonterapie.
- Vra jou ginekoloog oor vaginale estrogeen of oor testosteroon wat oraal geneem word of aan die vel gewend word deur middel van ’n plakker of room.
- Oefen meer om jou energievlakke en buie te verbeter.
- Kry genoeg slaap in sodat jou stresvlakke gewig en energievlakke verlaag.
Soms is seks ná menopouse selfs lekkerder, sê Tracee Cornforht op www.about.com. Daar is nie meer die spanning van ’n onbeplande swangerskap nie en meesal is die kinders reeds groot en uit die huis – wat jou en jou maat meer tyd alleen gee.
Vier uit elke vyf vroue ouer as 50 sê dat hul sekslewe óf verbeter het óf dieselfde gebly het as vóór menopouse, volgens ’n onlangse verslag deur Reuters Health. “Menopouse behoort beskou te word as ’n opwindende en vervullende fase van die lewe, veral aangesien baie vroue meer as een derde van hul lewens ná menopouse sal deurbring, sê ginekoloog dr. Donnica Moore, voorsitter van Vitality for Life, ’n opvoedkundige veldtog oor hormoonvervangingsterapie.
Volgens die verslag het 54% van die vroue gesê hulle dink nou meer oor seks as tien jaar gelede en 43% sê dat hul seksuele begeerte net so sterk is soos wat dit in hul dertigerjare was. Die redes? Hierdie vroue het ‘balans’ in hul lewens ontdek, minder verantwoordelikhede teenoor kinders en vrees nie meer ’n onbeplande swangerskap nie. Hulle het ook beter finansies en meer bevredigende poste. Die meeste van hierdie vroue lyk ook asof hulle selfvertroue en bevrediging kry soos wat hulle ouer word en meer as 87% van van hulle openbaar ’n positiewe houding teenoor menopouse.
Addisionele bronne: http://womenshealth.about.com; http://menopause.about.com