Manne, onthou julle nog die fliek “How to lose a guy in 10 days”? Ons is seker jy moes dit al ten minste een keer in jou lewe gesien het. In die fliek skryf die vroulike hoofkarakter ‘n storie oor hoe om binne 10 dae soveel foute te maak dat jou maat met jou uitmaak… Terselftertyd is die manlike hoofkarakter besig met ‘n weddenskap dat hy enige vrou op hom verlief kan laat raak… Jy kan self dink watter vuurwerke dit tot gevolg het!

Promosie

Voel dit soms of jy pal ’n voet verkeerd sit? Daar is ’n gesegde: Alle mans maak foute; getroude mans ontdek húlle s’n net gouer (toemaar, dis net ‘n grappie!). Hier is ons weergawe van ” Hoe om jou vrou binne 10 dae te verloor” (of ” 10 foutjies wat jy eerder nie moet maak nie”)

Moenie haar probeer beheer nie.

Jy is nie Gepetto nie. Daar ís mans wat glo dat hulle hul vrouens soos marionette kan beheer. Probeer gelykheid in jul verhouding handhaaf. Die Bybel gee jou, as man, die opdrag om te lei – iets wat met baie verantwoordelikheid gepaard gaan. Moet haar nie voortdurend uitvra oor waar sy was, met wie sy gekuier het en wat sy gedoen het nie.

Promosie

Moenie toelaat dat sy jou beheer nie.

Dit kan jou ook in die moeilikheid laat beland. As sý besluit wanneer julle seks mag hê, watter vriende jy mag hê en watter hemp jy moet aantrek, is jy dalk een van daardie mans wat voel jy verdien nie om met jou vrou getroud te wees nie. As jy ’n goeie man is, wat met ’n goeie vrou getrou het, verdien jy ook ’n verhouding sonder ’n magspel.

Moenie ’n derde persoon toelaat nie.

Hou alle ander partye uit jou huwelik (ook jou ma). Daar is nie so iets soos ’n vroulike vertroueling (tensy dit jou eie vrou is) nie. Jy het met háár getrou – nie oor haar sexy glimlag, of haar kerrieresep nie, maar omdat sý jou beste vriendin behoort te wees.

Moenie dink vandag se goeie daad gaan tot môre hou nie.

Haar geheue is kort. Al weet sy dat vandag se sjokolade en lelies beteken dat jy haar lief het, is more ’n nuwe dag, en moet jy jou liefde van voor af bewys. Vroue waardeer goeie dade, maar hulle waardeer voortgesette, goeie dade nog meer.

Moenie dat familie of vriende jou huwelik dikteer nie.

As jou skoonfamilie enige mate van beheer oor jul verhouding het, beweeg jy op dun ys. Jou vrou hoef dit ook nie van haar kant af te verdra nie. Evas hou nie daarvan om voorgeskryf te word nie – veral nie deur ander vroue nie!

Moenie lig in die broek wees nie.

Ja, sy is dalk jou mosbolletjie-hartliefiesnookums- boerpampoentjie . . . maar sy is ook ’n mens!

Dit beteken dat sy respek ook moet kan teruggee, as sy respek verwag. Moenie gedurig om verskoning vra nie, moenie aanneem dat sy altyd reg is nie, en moenie die skuld vir iets dra wat nié jou skuld is nie. Moenie jou vrou só hoog op ’n troontjie plaas dat sy vergeet waar die grond is, of wonder hoekom sy met so ’n papbroek getrou het nie.

Moenie onvergenoegd wees nie.

As dinge nie verloop soos jy graag wil hê dit moet nie (finansieel, akademies of spiritueel), is dit okei. Moenie onvergenoegd voel as jy nie op hierdie oomblik die wêreld in jou handpalm vashou nie. Vroue fokus op die toekoms, en mettertyd sal sy van jou verwag om haar uit die eenslaapkamer te neem, so moenie op jou louere rus nie.

As jy egter nog nie dáár is nie, ontspan. Al wat sy wil sien, is ’n bietjie ambisie!

Moenie jou vrou volgens haar voorkoms kies nie.

Dit is soms moeilik om verby ’n smeulende Eva se sexy kurwes te kyk, maar onthou dat haar positiewe eienskappe jou ’n leeftyd moet hou, selfs wanneer haar borste ’n bietjie laer gesak het en haar gladde vel vol ouderdomsproete is.

Moenie toelaat dat sy ooit tweede prioriteit word nie.

As jy jou vriende, familielede, medewerkers, diere, kar of stokperdjies eerste stel, moet jy nie van haar verwag om gelukkig te wees nie. Natuurlik sal daar tye kom wanneer jy eerder saam met die ouens wil uithang, maar dit moet nooit swaarder as jou verhouding weeg nie.

Moenie jou vrou soos jou ma, of jou huishulp, behandel nie.

Mans wat nie genoeg moederliefde gekry het nie, of juis aan ’n oormaat moederliefde verslaaf is, soek na hierdie soort liefde in hul verhoudings met vroue. As jy wil hê Vroutjie moet jou ego streel, pampoen voorberei soos wat jou ma gedoen het, en jou klere stryk (sonder om ’n dankie in ruil daarvoor te verwag), is jy onregverdig.

Moenie aanneem dat sy 24/7 gereed is vir seks nie.

Jy en Vroulief het dalk verskillende aptyte. Aanvaar dit so. Moenie aanneem dat sy in die bui behoort te wees, omdat jý in die bui is nie. En as sy ‘nee’ sê, aanvaar dit met grasie, of gebruik al jou sjarme om haar te verlei, sonder dat sy eers agterkom dat dit is waarmee jy besig is!

Moenie toelaat dat haar sukses jou intimideer nie.

Die feit dat haar salaristjek een meer nul as joune het, beteken nie dat haar loopbaan belangriker as jy is nie. Dit is ook nie ’n weerspieëling van jóú onsuksesvolheid nie.Daar is baie mans wat om hierdie rede suksesvolle vroue vermy, of wie se huwelike as gevolg hiervan op die rotse beland. Daar is selfs mans wat hul vrouens afbreek en verneder, sodat hulle later nie meer genoeg in hulself glo om hul drome na te jaag nie.

As jy só ’n man is, verdien jy nie jou vrou nie!

Addisionele Bronne: www.stbotanica.co.uk; www.mybrotha.com; www.hellobeautiful.com