Lag is goed vir elke individu – en vir elke paartjie! Dit stimuleer jou immuunstelsel, verlig spanning, verlaag jou bloeddruk en verhoog die natuurlike pynverligters in jou bloed. Die voordele is legio.
Daar het onlangs ’n maatjie by my kinders kom kuier en ons het eendag noodgedwonge met die spannetjie 400km ver gereis (200km heen-en-weer). My oudste het ’n grappieboek in die kar gehad en hulle het daardie boek die hele tyd benut. Soveel van ’n ononderbroke gegiggel het ek lanklaas in my lewe gehoor!
Al was die meeste van die grappies baie flou en het ek en my man ons probeer “afsluit” van die sirkus agter ons, kon ons nie help om self te ruk soos ons lag oor die uit-die-maag-gelag agter ons nie. Ek was naderhand skoon moeg vir hul lyfies wat soveel gelag moes verduur, maar het na die tyd heel goed gevoel en gewonder wanneer ons grootmense so vervelig geraak het . . . blykbaar lag die gemiddelde vierjarige sowat 300 keer per dag – teenoor die gemiddelde 40-jarige wat dit slegs vier keer per dag doen!
Ek onthou die dae toe ek en my maats ons letterlik wou natmaak van die lag. Daardie tye wanneer ons in die skoolsaal vir geen rede onder die son begin lag het en die onkeerbare buie met mening moes probeer onderdruk weens die fronsende blik van die skoolhoof . . . dit was só erg, maar só lekker! Dink ’n bietjie aan wanneer jy en jou lewensmaat laas onblusbaar gelag het.
Lag is ’n kragtige wapen wat ’n kil atmosfeer onmiddellik kan opwarm, grense kan afbreek tussen mense wat ongemaklik na mekaar staar en ’n gevoel van samehorigheid kan skep. Vir jou huwelik om te oorleef, is humor tussen maats uiters noodsaaklik! Lag is aansteeklik en dis die enigste “siekte” wat jy graag wíl aansteek.
As ’n lagbui lanklaas die rondte gedoen het in jul huwelik, inisieer dit op die volgende maniere:
- Gee vir hom ’n “deurdagte geskenk”. Laat druk vir hom ’n T-hemp wat sê: “Ek is die gelukkigste man op aarde, want ek is getroud met die warmste vrou op twee bene!” Of: “Ek sê nie ek is Batman nie. Ek sê net dat niemand nog ooit vir my en Batman sáám in ’n vertrek gesien het nie . . .” Of: “My vrou se man se vrou is ongelooflik!”
- Keer ’n rusie om in ’n lagbui! Hiervoor moet jy egter jou tydsberekening fyn beplan. Moet dit ook nie waag wanneer julle werklik oor iets ernstigs baklei nie. Maar wanneer julle volgende keer vassit oor iets simpels, begin om sy lyftaal na te maak in die middel van die rusie. Of begin met hom baklei in ’n vreemde aksent!
- Skuif sy kar wanneer hy dit nie weet nie. Parkeer sy kar in jou garage, of draai sy kar om sodat die voorkant agtertoe wys en die agterkant vorentoe. Of parkeer dit ’n paar meter weg van waar hy dit laas geparkeer het. Eers gaan dit hom bloot net verwar, maar wanneer hy agterkom wat jy gedoen het, sal hy die prank geniet.
- Terg jou maat (goedig). Is daar iets wat hy nie kan verdra nie? Soos tamatiesous op brood? Skryf vir hom ’n liefdesboodskap met . . . wel, tamatiesous op ’n roosterbroodjie! Is hy ’n Sharks-fanatikus? “Bederf” hom met ’n Blou Bul-trui! Wees egter sensitief en moet hom nie terg oor enige onsekerhede (soos sy boep of sy yl hare) nie.
- Laat lag hom in sy taal. Elke persoon is sensitief vir ’n sekere tipe humor. Dalk geniet hy galgehumor, dalk is dit Laurel en Hardy wat hom aan die lag kry. Miskien is dit ou Leon Schuster-flieks. Maak seker jy weet wat sy lagspiere aan die gang kry en sorg dat jy hom ’n goeie dosis hiervan gee.
- Verander sy selfoon se ringtone na iets toe wat glad nie by hom pas nie! As hy ’n rocker is, maak sy ringtone ’n klassieke Mozart-nommertjie. As hy Afrikaanse musiek nie kan uitstaan nie, gebruik ’n Kurt Darren-liedjie. En as hy nog altyd erg geïrriteerd was met byvoorbeeld Britney Spears, laai die liedjie “Hit me baby, one more time” op sy foon. Hy sal baie verward wees as sy foon die eerste keer lui (veral in die openbaar) en dan behoort hy die ironie raak te sien en net so lekker soos jy te lag!
- Op die blog Mother’s Niche skryf een leser dat sy graag vir haar man ’n kosblik pak, maar nie voordat sy ’n hap uit sy koekie of toebroodjie gebyt het nie. As dit hom nie laat lag wanneer hy sy kosblik oopmaak nie, sal niks nie.
- Wanneer hy weer na die een of ander vervelige televisiereeks kyk, steel die afstandbeheer by hom en verander die klank na mute. Dink nou jou eie absurde dialoog uit vir die karakters op televisie en hardloop weg wanneer hy die afstandbeheer by jou probeer afneem.
- Wanneer hy nie by die huis is nie, eet soveel knoffelbrood soos jy kan verdra. Wag hom in met jou sexyste kledingstukkies en glimlag stout wanneer hy jou sien. Stap nou verleidelik nader en kondig in jou sexy stem aan hoe jy nie kan wag om hom die beste soen van sy lewe te gee nie! Blaas ekstra hard in sy gesig terwyl jy dit sê. As hy sy geluk nie kan glo nie, sal hy so lank as moontlik jou knoffelasem probeer uitstaan voordat hy iets sê of subtiel wegdraai . . . tot een van julle nie meer jul lag kan hou nie!
As jy eers aan die gang kom, sal jy die idees nie kan keer nie. Wees net voorbereid – as jy ’n Whackhead-tipe grappie op manlief getrek het, sal hy waarskynlik dieselfde met jóú doen. En as jy dit kan uitdeel, moet jy dit kan ontvang ook! Behou jou sin vir humor en dit kan dalk net ’n lekker liefdestaal tussen julle word, wat julle beslis jonger as jul jare sal hou!
Deur ANNELIZE STEYN