Die grootste verskil tussen gelukkige en ongelukkige paartjies is die manier waarop hulle hul huwelik se emosionele bankrekening bestuur. Hoe lyk julle bankbalans?
Een van die gevaarlikste foute wat ’n mens kan maak, is om te dink dat jou huwelik vanself gaan “gebeur”. Baie paartjies beplan hul troudag tot in die fynste besonderhede om seker te maak dat niks skeefloop nie. Hulle glo dat wat volg, vanself sal gebeur en al wat hulle hoef te doen, is om in die huweliksbootjie te dryf sonder enjin of spaan. Ja, ’n huwelik het wel baie genade nodig, maar as jy jou huwelik nét aan genade oorlaat, gaan jy jou lelik vasloop.
Dink oor die lang termyn
Die meeste mense wat ryk word, het ’n strategie. Mense wat slim belê, verstaan die langtermyn-vooruitsig van hul doelwitte en wy hulself daaraan deur gereeld te belê. ’n Finansiële adviseur sal ’n mens ook aanraai om jou rykdom te bou deur oor die lang termyn met gereelde tussenposes te belê, ongeag wat op die aandelemark plaasvind.
Of daar groei of ineenstorting plaasvind, jy moet aanhou belê – dit maak nie saak wát gebeur nie. Só sal jy nie kop uittrek wanneer dit oor die kort termyn sleg gaan nie, want dan verloor jy in elk geval alles wat jy belê het. Die huwelik werk ook só. Ongeag van die onderstrominge, of dit goed of sleg gaan, julle móét bly belê om seker te maak jul huwelik is oor die lang termyn suksesvol.
Paartjies se grootste probleem
Die grootste oorsaak van konflik is: Niks. Ja, jy het reg gelees. Mense skryf gereeld hul probleme toe aan seks, geld of skoonfamilie, maar uiteindelik is die grootste probleem ’n onvermoë om emosioneel met mekaar te konnekteer.
Die sielkundige, navorser, spreker, outeur en professor John Gottman, wat meer as vier dekades lank navorsing oor egskeiding-voorspelling en huwelikstabiliteit gedoen het (hy het sowat 3 000 paartjies oor dié tydperk bestudeer), het gevind dat jy ’n belegging in jou huwelik maak elke keer wanneer jy met warmte teenoor jou maat optree, julle ooreenkomste deurvoer, positiewe toekomsplanne skep en mekaar met liefde, waardering en dankbaarheid ophef.
Maar elke keer wat jy versuim om hierdie dinge te doen, raak jy oortrokke op jou rekening. ’n Positiewe balans in jou huwelik se emosionele bankrekening kan jou egter deur ’n krisistydperk help.
Hoe balanseer jy jou huwelik se emosionele bankbalans?
John het die volgende bevind: Om suksesvol in julle huwelik te wees, moet julle jul deposito’s vermeerder en jul onttrekkings minimaliseer. Wanneer julle baklei, is vier positiewe interaksies nodig om een negatiewe interaksie uit te kanselleer. Maar in jul alledaagse bestaan (buite ’n konfliksituasie) is 20 positiewe interaksies nodig vir elke een negatiewe interaksie.
Hoekom? Want wanneer daar konflik is, kan ’n negatiewe reaksie verwag word. Maar op ’n doodnormale dag betrap ’n negatiewe interaksie jou onverhoeds en het dit dus ’n groter impak op jul emosionele bankrekening. Daarom is gereelde beleggings in die vorm van daaglikse gewoontes noodsaaklik.
1. Maak van emosionele beleggings ’n gewoonte
Emosionele intimiteit is een van die belangrikste pilare waarop ’n huwelik rus. Julle kan ’n warm sekslewe hê, diensbaar teenoor mekaar optree en ’n sosiale lewe hê wat deur ander paartjies beny word – as daar egter nie emosionele intimiteit tussen julle heers nie, is daar groot moeilikheid.
Hoe skep jy hierdie emosionele intimiteit? Deur elke dag bewustelik teenoor jou maat op te tree. Kyk jou maat in die oë wanneer hy met jou praat. Reageer op wat sy sê. Doen moeite om jou maat te help as hy/sy hulp nodig het. Luister met ’n sagte hart. Gesels oor koeitjies en kalfies, maar moenie nét oor koeitjies en kalfies gesels nie (belê dus gereeld kommunikasie in jou huwelik). Gee jou maat komplimente.
Die lys van maniere waarop jy dit kan doen, is eindeloos, maar hier is ’n paar idees om jou aan die gang te kry:
• Wanneer jou maat weer sy/haar hart blootlê, moet dit nie afmaak as niks nie. Moet ook nie kritiseer of vir hom/haar lag nie, maar ondersteun hom – selfs al het jy nie raad nie. Jou maat moet weet dat die emosionele sekuriteit wat tussen julle heers, hom vrywaar van jou kritiek en dat jy altyd in sy/haar span is.
• Stel belang in jou maat se wêreld. Hy/sy kan jou obsessie met die Kardashians nie kleinkry nie en jy kan weer nie verstaan hoe hy/sy vir ure lank kan krieket kyk nie. Weerhou jouself daarvan om vir die soveelste keer ’n snedige opmerking te maak wanneer jou maat voor die kassie sit, gaan sit langs hom/haar en vra: “Verduidelik gou bietjie vir my hoekom daardie span nou gescore het.” Stel belang in mekaar se wêrelde en leer só jou maat se diepste wese ken.
• Praat oor dinge wat nie maklik is om te bespreek nie. Ja, daar is onderwerpe wat taai is om oor te praat omdat dit so seer maak (soos kindertyd-wonde), moeilik is om te takel omdat dit julle moontlik uit jul gemaksone haal (soos gesprekke oor begrafnis versus verassing) en waaroor jy bloot te skaam is om te gesels (soos sake tussen die lakens). Onthou egter dat dit nodig is vir julle om mekaar se harte hieroor te ken.
• Gee jou maat elke dag minstens tien minute van jou onverdeelde aandag. Tyd is een van die belangrikste beleggings wat jy in jou huwelik kan maak. Ja, natuurlik streef elke paartjie daarna om elke dag ure lank te gesels, maar in ons dolle gejaag is dit nie altyd haalbaar nie. Skep dus ’n ritueel waar julle byvoorbeeld smiddae ná werk net tien minute lank afskakel van alle tegnologie of die kinders se versoeke, en net saam ’n glas wyn ingooi of in die kamer sit en gesels terwyl julle jul werksklere uittrek. Kyk na mekaar, luister na mekaar en maak mekaar jul eerste prioriteit bó absoluut álles.
• Sien jou maat se moeite raak. In ons alledaagse kommunikasie met mekaar is daar fyn nuanses. Lyftaal, oogkontak, subteks . . . dit is maklik om jou maat se pogings tot toenadering mis te kyk. Die koffie wat sy vir jou na jou studeerkamer bring, is moontlik ’n poging om net met jou kontak te maak. Kyk op van waar jy op jou rekenaar werk en glimlag vir haar. Hy kom staan agter jou wanneer jy kos maak. Draai om en gee hom ’n stywe druk. Dis belangrik om jou maat se pogings te herken, dit met ontsag te hanteer en met versigtigheid daarop te reageer.
• Gee jou maat die voordeel van die twyfel. Wanneer jou maat op ’n sekere manier optree, is daar twee maniere waarop jy kan reageer – deur haar óf die voordeel van die twyfel te gee óf onmiddellik haar bedoelings te wantrou. Kies die eerste manier. Glo altyd dat daar ’n goeie rede is vir jou maat se optrede en dat hy/sy julle beste belange op die hart dra. En as jy werklik twyfel, moenie aannames maak nie, maar vra jou maat reguit daaroor uit.
2. Maak van geestelike beleggings ’n gewoonte
’n Mens is só geneig om jou geestelike toewyding vir Sondae te los, dit in ’n afsonderlike “Sondag-boksie” te pak en die res van die week daarvan te vergeet. Maar geestelike beleggings is iets wat jy elke dag behoort te doen, eintlik elke enkele sekonde van die dag. Omdat jou verhouding met God jou hele lewe bepaal, behoort dit deur te sypel in elke besluit wat jy neem, elke kyk wat jy gee en elke woord wat jy spreek. Die huwelik is ’n heilige instelling en daarom kan geestelike beleggings jou huwelik ’n ontsettende kragtige groei-inspuiting gee.
Hier is spesifieke maniere waarop jy dit kan doen:
• Leef met dankbaarheid teenoor God vir jou maat. Jou huweliksmaat kom van nêrens anders nie, as direk uit God se hand. Dank Hom daarom vir die wonderbaarlike manier waarop Hy julle paaie laat kruis het. God het ook ’n spesifieke plan in gedagte gehad toe Hy julle saamgevoeg het. Julle is dalk teenoorgestelde pole (wat ’n magdom konfliksituasies tot gevolg het), maar só vul julle mekaar op ’n baie spesiale manier aan. Dank God dus vir alles aan jou maat wat vir jou kosbaar is, maar ook vir alles wat jou irriteer. Maak ook ’n punt daarvan om God vir jou maat te bedank in sy/haar teenwoordigheid.
• Dra julle hoogtepunte en laagtepunte aan Hom op. Prys die Here wanneer dit goed gaan. Prys Hom sommer hardop vir die lekker beker gekoopte Latte wat julle kan bekostig, of die warmkombers waarop julle slaap. Loof Hom wanneer julle in in jul nuwe huis intrek, en juig oor ’n gesonde sekslewe. Wanneer dit nié so goed gaan nie, praat met Hom oor jul konfliksituasie. Vra Hom hoe julle dit saam kan oplos en om vir julle die roete te wys wat julle moet stap. Bid vir enige probleem wat julle as paartjie moet trotseer, maar bid ook vir mekaar as dit kom by die individuele oorloë wat julle voer.
• Wysheid is nog een van jul kernbeleggings. Moenie net Hooglied lees nie, bestee ook genoeg tyd aan Salomo se Spreuke. Koop huweliksdagboeke, woon kerkkampe by en leer by medegelowiges.
• Bespreek julle geloof met mekaar en maak daarvan ’n gesonde debat. Miskien verskil jul aanbiddingstyl en dalk verkies julle verskillende denominasies. Julle voel dalk nie dieselfde oor vergifnis nie en julle verwagtinge van die Ewigheid stem dalk nie ooreen nie. God het julle geskape en Hy het julle só gemaak dat julle nie altyd dieselfde oor dinge dink of hoef te dink nie, ook nie oor geloof nie. Dit is nie ’n ramp nie, maar ’n wonderlike uitdaging om te debatteer en vir julle om meer oor mekaar te leer, selfs al kan jy jou maat nie van jou uitgangspunt oortuig nie.
• Maak geloof daadwerklik deel van jul opvoedingstaak. Wees ’n eenheid as dit kom by jul kinders se opvoeding oor geloof. Gesels met hulle as ’n span en vertel hulle op ’n praktiese vlak watter wonderlike werk God in jul lewens as ’n paartjie gedoen het. Wanneer hulle klein is, hou saam Bybelstudie deur Bybelliedjies vir jul baba te sing terwyl julle met hom speel. As hulle ouer is, lees saam vir hulle dialoog uit die Kinderbybel of vertel jul eie weergawe van Bybelverhale (julle kan die stemme afwissel – jy is Dawid en manlief maak Goliat se diep stem ná). As hulle tieners is, help hulle om die uitdagings van groepsdruk te weerstaan en as hulle volwasse is, bid gereeld vír en saam met hulle vir die regte lewensmaats.
3. Maak van fisieke beleggings ’n gewoonte
Fisieke intimiteit is nodig vir julle om nader aan mekaar te groei en naby aan mekaar te bly, maar passie en romanse is net so belangrik om julle huwelik te onderskei van ’n doodgewone vriendskapsband.
Hier is ’n paar maniere waarop jy op ’n fisieke vlak in jou huwelik kan belê:
• Verminder die sentimeters tussen julle. Maak ’n punt daarvan om mekaar nié te veel persoonlike ruimte te gee nie! Ja, enige mens het soms sy persoonlike ruimte nodig, maar maak seker daar is nie te veel daarvan tussen julle nie. Wanneer julle die opsie het om op verskillende rusbanke televisie te kyk of saam op ’n klein bankie te sit, kies eerder die oënskynlik ongemakliker opsie sodat julle lyf teen lyf kan sitlê. Staan by mekaar in ’n sosiale omgewing in plaas van elkeen in sy eie hoek van die vertrek.
• Maak fisieke kontak met mekaar wanneer julle kan. Daar is soveel geleenthede hiervoor. Hou haar vas wanneer sy voor haar klerekas staan en besluit wat om aan te trek, soen hom in sy nek terwyl hy staan en tande borsel, hou hande vas as julle in die supermark-ry staan. Elke mens het ’n inherente behoefte aan menslike aanraking. As dit nie gebeur nie, ontstaan iets wat bekendstaan as “velhonger”, skryf Suzanne Degges-White, ’n sielkundige op Psychology Today. Mense wat alleen bly, kry maklik velhonger, maar ’n paartjie wat soos skepe in die nag by mekaar verby leef, kan dit ook ervaar. Hierdie honger kan ernstige emosionele en fisieke gevolge hê, soos depressie, pyn en angs. Maak seker dit gebeur nie met een van julle twee nie!
• Inisieer seks – minstens een keer per week. Ja, julle het dalk ’n gesonde sekslewe, maar wie is die “bestuurder” en wie is die “passasier”? ’n Gesonde sekslewe word deur albei partye bestuur. Julle moet albei ewe veel inisiatief neem en daar is verskeie redes hiervoor. Elke persoon wil voel dat hy begeer word. As jy wag dat manlief elke keer toenadering soek, kan hy voel dat jy bloot die party is wat “instem” sonder om dit ooit werklik te begeer (lees: sonder om hóm ooit werklik te begeer). Om seks te versoek, is ook ’n vorm van weerloosheid, aangesien jy jouself in ’n posisie stel om verwerp te word, sóú die ander party weier. Dit is nodig om soms weerloos voor mekaar te wees.
• Belê avontuur in jou sekslewe (en in jou huwelik oor die algemeen). Jy belê ook in jou sekslewe wanneer jy voortdurend nuwe dinge soek om jul slaapkamer opwindend te hou. Hiermee sê ons beslis nie dat jy nodig het om elke seksspeelding op die mark te beproef nie (hoewel dit so af en toe ook ’n goeie finansiële belegging in jul sekslewe kan wees), maar ons waarsku julle wel om nie in ’n saai roetine te verval nie. Wissel dinge af deur sommer vroegoggend of in die middel van die dag in die kooi te spring (as julle geneig is om ’n quickie voor slaaptyd in te werk). Wissel julle posisies af – skep sommer jul eie posisies en doop dit die De Wet-koeksister of die Joubert-skêr. Belê ook romanse in jou huwelik. Dit kan deel van jou sekslewe vorm, of buite die slaapkamer bestaan en uiteindelik aanleiding gee tot ’n vonk in die slaapkamer. Verras jou maat met jou inisiatief en kreatiwiteit, en jul huwelik se bankbalans kry sommer ’n reuse hupstoot.
4. Maak van finansiële beleggings ’n gewoonte
Ja, jy móét finansieel in jou huwelik belê. Dit kan ook help om in bogenoemde drie afdelings van jul huwelik te groei. Soms sal jy die keuse moet maak – gaan jy ’n geleentheid by jou werk nastreef en nog ’n paar rande inwin, of gaan jy eerder daardie geld van die hand wys en die tyd op jou maat spandeer?
Die idealistiese ding om te sê, is dat liefde nie geld kos nie, maar kom ons wees eerlik: Dit ís noodsaaklik vir jou om geld in jou huwelik te belê. Dit is nodig om te spaar vir julle toekoms en dit is nodig om finansieel stabiel te wees om jou huwelik te vrywaar van onderliggende spanning.
Hier is ’n paar maniere waarop jy op ’n finansiële vlak in jou huwelik kan belê:
• Stel ’n begroting vir date night op. Dit moet deel van jul maandelikse uitgawes wees, soos boet se tennislesse en sussie se dramaklasse. Maak die begroting ook ruim genoeg sodat julle verskillende tipes dates kan beproef (nie elke keer pizza en wyn op die sitkamerbank nie – hoewel daar niks fout is hiermee nie!).
• Maak ’n punt daarvan om jou maat met geskenke te bederf. Ja, die meeste van ons sal sê dis nie nodig nie, maar dit is tóg lekker om te voel jou maat waardeer jou en dat hy/sy dit wys met ’n bos blomme, ’n goeie bottel jenewer of kaartjies vir jou gunsteling band.
• Koop kennis om jou huwelik te versterk. Wanneer jy ’n nuwe stokperdjie onderneem, bestee jy waarskynlik geld aan ’n nuwe boek of twee, jy kyk YouTube-video’s, jy woon uitstallings en demonstrasies daaroor by. Dieselfde geld vir jou huwelik. Koop daardie boek wat julle kan help om konflik te hanteer, koop die toep, woon huwelikseminare en huwelikskampe by, en bestee geld op die ses-weke uitdaging, wat beloof om ’n inspuiting vir jul huwelik te wees.
• Begroot vir ’n wegbreeknaweek of twee per jaar. Hoewel date night wonderlik is om in voeling met mekaar te bly, is dit soms nodig om die kinders en die honde weg te stuur, die huis toe te sluit en heeltemal saam met jou maat te ontsnap – bos toe, see toe, berge toe . . . Maak daarom minstens een wegbreeknaweek per jaar deel van julle begroting. As julle dit twee keer per jaar of selfs kwartaalliks kan doen, soveel beter!
• Bestee daardie rande om jul huwelik lekkerder en makliker te maak. Daardie twee-uur koffiewinkel-koffie wat julle kan help om net weer op te vang, die skottelgoedwasser wat aan julle meer tyd vir mekaar besorg (in plaas daarvan dat een agter die opwasbak moet staan) en daardie terapiesessies waar julle kan leer hoe om mooier met mekaar te praat wanneer julle baklei . . . dit is alles goeie beleggings in jou huwelik.
• Hou die vlam aan die brand. Soms is ’n bietjie paraffien nodig om die vlammetjie aan die brand te hou en dit sal beteken dat jy nou en dan geld op mooi onderklere mag – nee, móét – bestee. Of op kerse wat die hele slaapkamer vol brand. Of lekkerruik-masseerolie . . .
5. Maak van positiewe gedagtes ‘n belegging…
Dr Caroline Leaf, ‘n Christen-neurowetenskaplikes wat fokus op die verskille tussen manlike en vroulike breine en hóé om jou brein te leer hoe om positief te dink, vertel dat giftige denke in fisieke, emosionele en verstandelike spanning kan ontaard, wat weer ‘n voorloper tot siekte kan wees. Dit kan ook jou huwelik vergiftig. Giftige gedagtes sluit in: Onvergewensgesindheid (bitterheid, verwyt, woede, haat en geweld), passief-aggressiewe gedrag (om een ding te dink en ‘n ander ding te doen, om nie te sê hoe jy voel nie, om ‘n vrees vir konflik te hê), om ‘n vrees vir ander te hê (om alles altyd te analiseer en krities op ander of jouself te wees), selfhaat (om te dink jy is nie goed genoeg nie), skuldgevoelens (gevoelens van waardeloosheid en skaamte te koester), om negatiewe woorde te uiter (soos “ek kan nie”… ). Volgens Caroline het God egter ‘n meganisme in ons breine ingebou wat ons die vrye wil gee om inligting te aanvaar of te verwerp. Ons het die opsie om negatiewe inligting uit ons gedagtes te verwerp voor dit ons houding en emosies skade doen. Daar is twee groepe emosies: positiewe, geestes-gebaseerde emosies en negatiewe vrees-gedrewe emosies. Geloofsgebaseerde emosies soos liefde, vreugde, sagmoedigheid, selfbeheersing en vergewensgesindheid het goeie houdings en gedagtes tot gevolg.
John praat van ‘Positive Sentiment Override’’ (PSO) of die Positiewe Perspektief. Dit is iets waaraan paartjies elke dag kan werk. Om ‘n Positiewe Perspektief op jou maat en verhouding te hê, help jou om probleme beter op te los in ‘n konfliksituasie, meer pogings tot herstel aan te wend en jou maat oor die algemeen in ‘n meer positiewe lig te sien.
• As jy ‘n positiewe houding jeens jou huwelik het, is die stryd halfpad gewonne. Moenie saam-kla oor jou maat langs die braaivleisvuur of by die girls night nie. Wees positief oor jou huwelik. Om die waarheid te se, skep ‘n daaglikse gewoonte om positiewe interaksies met jou maat te hê. Sê dankie, gee komplimente, en neem tyd om dinge uit te lig wat jou maat goed sal laat voel.
• Leer jouself om met ‘n dankbare gees in jou huwelik te lewe en elke klein gebaar van jou maat se kant af raak te sien. Die koppie koffie in die oggende, die bystand wanneer jy skottelgoed was, die sagte stem waarmee jou maat jou antwoord…
• Pas jou voorkoms op en doen moeite daarmee om goed vir jou maat te lyk. Dit is te maklik om jouself in ‘n gevestigde verhouding te laat gaan. Dit het nie net ‘n negatiewe effek op hoe jou maat jou sien nie, maar ook op hoe jy oor jouself voel.
• Belê elke dag humor en lighartigheid in jou huwelik. Dit is nie net ‘n afleiding van ‘n moeilike situasie nie – dit help mense waarlik om moontlikhede raak te sien, meen Barbara Fredirickson, ‘n sielkundige aan die Universiteit van North Carolina en outeur van Positivity. Positiewe gedagtes gee aanleiding tot ‘groter prentjie visie’, en dit lei tot voordele soos periferiese visie en verhoogte kreatiwiteit. Positiewe emosie gee lewe aan dankbaarheid, inspirasie en nuuskierigheid.
En laastens: Belê in jouself. Wees die optimale jy wat jy kan wees. Jy kan nie aan jou maat petrol voorsien as jou eie tenk nie vol is nie. Bly nuuskierig en groei. Jaag jou drome ná en doen wat jy kan om innerlik gelukkig te wees sodat jy daardie geluk weer terug in jou huwelik kan ploeg.
Onthou ook om gereeld jul huwelik se bankbalans na te gaan. Jy dink dalk dat dinge gesond lyk, maar met nadere ondersoek is julle diep in die skuld. Die goeie nuus is egter: Met ’n bietjie toewyding kan julle gou uit jul negatiewe situasie kom. Volg ons wenke en sien hoe jou huwelik se waarde groei – en kort voor lank is julle huweliksbiljoenêrs!
Addisionele bronne: www.projecteve.com, www.all4women.co.za, www.focusonthefamily.com, www.msn.com. www.thriveglobal.com