“Absence makes the heart grow fonder”, lui die Engelse gesegde. Daar is paartjies wat glo dat afstand juis die doepa kan wees wat hul huwelik nodig het en dat ’n sogenaamde sabbatstyd hulle van ’n definitiewe egskeiding kan red.
Wanneer dinge in jou huwelik donker lyk, groei daar emosionele afstand tussen julle. Terwyl sommige paartjies juis op enige manier moontlik hierdie afstand wil oorbrug, meen ander dat ruimte juis dít is wat nodig is om hul huwelik uit die moeilikheid te red. Aktrise Emma Thompson het verlede jaar gesê sy glo elke huwelik kan voordeel trek uit ’n “huweliksvakansie”. Terwyl daar mense is wat heelhartig met haar saamstem, is daar dié wat glo dat ’n tydelike skeiding slegs probleme verdoesel in plaas daarvan om dit op te los.
Flic Everett, ’n voorstander van die huwelik-sabbat, glo dit het haar huwelik gered. Sy meen dit is anders as ’n trial separation in die sin dat daar nie die dreigende moontlikheid van permanente verwydering heers nie. In ’n sabbatstyd beplan beide partye om terug te keer na die huwelik en woon hulle slegs vir ’n spesifieke tydperk afsonderlik van mekaar.
MAAR IS DIT DIE ANTWOORD?
Dr Fran Walfish, ’n kinder-, verhoudings- en gesinsterapeut van Beverly Hills, meen dat vroue kan herlaai sonder om ’n sabbatstyd te neem. Fran voel dit is ’n ongesonde antwoord op huweliksprobleme en ’n selfsugtige besluit teenoor kinders. Dis maklik om weg te hardloop, maar beter om te werk aan jou huwelik.
Om jou huwelik of verhouding vir ’n tydperk op ys te plaas, is dikwels die finale spyker in die doodskis. ’n Skeiding is waarskynlik net ’n uitstel van die onvermydelike en ’n ompad na egskeiding.
Linda* en haar man was sewe jaar saam en een jaar en vier maande getroud. Vir hulle was ’n tydelike skeiding nié die antwoord op hulle probleme nie. Hulle het reeds in hul uitgaandae (in hul vierde jaar saam) hul eerste time out van drie weke gehad. In die eerste jaar van hul huwelik het hulle weer deur ’n moeilike tyd gegaan en weereens besluit op ’n time out. Ná die tweede keer weg van mekaar, het dit net vir twee maande goed gegaan voor hulle geskei is.
Paartjies is dikwels nie goed genoeg toegerus om op hul eie deur hul probleme te werk nie. Corné Brink, ’n kliniese sielkundige van Potchefstroom, sê daar is deesdae ’n toename by huwelikspare om ’n sabbatstyd van hul huwelik te neem om sodoende hul huwelik te probeer red. “Om hierdie opsie te gebruik, is egter soos om jou huwelik op ’n dobbelspel te plaas, want dit is riskant en kan lei tot ’n egskeiding.”
’n Sabbatstyd spreek nié die probleme in die huwelik aan nie, aangesien die skeiding meer vrae kan laat ontstaan. Dit kan ook gebeur dat die huweliksmaat wat die sabbatstyd voorstel, vind dat die lewe makliker en minder kompleks is en dat hy/sy goed op hulle eie kan klaarkom. Dieselfde probleme wat gelei het tot die behoefte aan ’n sabbatstyd, is egter steeds teenwoordig.
’n Sabbatstyd kan ook ’n baie negatiewe invloed hê as daar kinders in die huwelik is, meen kenners. Hulle vrees dat hul ouers moontlik kan skei en hul onsekerheid oor die toekoms kan lei tot gedragsprobleme, depressie, angs ens. Dit kan ook ’n negatiewe konnotasie oor verhoudings by kinders skep en selfs lei tot die kinders se eie problematiek in verhoudings in die toekoms, veral as dit by vertroue kom.
As jy werklik jou huwelik wil red, is dit nie wys om met jou maat te disconnect deur ’n sabbatstyd nie, maar connect eerder met terapeutiese saamwees-tyd en met die hulp van ’n verhoudingsterapeut.
IS EIE TYD ’N OPSIE?
Dit beteken nie dat ’n mens 24 uur per dag, sewe dae per week en 365 dae per jaar, in mekaar se geselskap moet deurbring nie. Eie tyd is nie net ’n moontlikheid nie, maar ’n noodsaaklikheid vir die meeste huwelike, meen kenners. “Om van tyd tot tyd ’n paar dae of paar ure weg van jou maat te wees, is gesond en terapeuties,” verduidelik Corné. Dit is nie ’n bedreiging vir jou huwelik nie, maar eerder voordelig.
VERHOUDINGSAFRIGTER RINATTA PARIES SÊ:
- Herken dat jy en jou maat tyd weg van mekaar ook nodig het om heel mense met ’n eie identiteit te wees en om mekaar soveel meer te waardeer wanneer julle wel by mekaar is. Gesels oop en eerlik hieroor met mekaar.
- Julle hoef ook nie kilometers weg van mekaar af deur te bring nie, maar kan besluit dat ’n Woensdagaand van 18:00 tot 21:00 jul eie tyd is, waar elkeen sy eie gang kan gaan. Hy kan byvoorbeeld tyd op sy rekenaar deurbring terwyl jy lees sonder dat daar enige oordeel is.
- As jy of jou maat huiwerig is om mekaar enige eie tyd te gun, is daar moontlik ’n onderliggende probleem en waarskynlik ’n vertrouens- of beheerkwessie. Dit is ’n goeie idee om die hulp van ’n kenner in te roep om julle te help om dieper te delf.
Deur INTIEM Redaksiespan
Addisionele bronne: www.dailymail.co.uk, www.medicaldaily.com