“Altesaam 30 jaar gelede het ons mekaar op die tennisbaan ontmoet,” vertel Susan bekommerd oor Jack. “Ons het albei die buitelewe geniet en daarvan gehou om aktief te wees. Ons gesin is na aan mekaar. Ons het hard gewerk om die beste vir ons kinders te voorsien – wonderlike vakansies, herinneringe aan die kus en staptogte in die berge!

Vir baie jare het Jack lang ure gewerk. Hy het effens gewig aangesit ná ons getroud is, maar hy was altyd baie fiks. Dinge het egter sewe jaar gelede begin verander toe hy met diabetes gediagnoseer is. Jack het aanvanklik tablette gebruik, maar dit was later vir hom nodig om op insulien te gaan. Dit was ’n bose kringloop. Ons dokter verduidelik dat Jack nodig het om gewig te verloor, maar sy diabetiese tablette en insulien veroorsaak dat hy gewig optel. Sedertdien het Jack depressief geraak en selfs meer gewig aangesit. Sy persoonlikheid het verander en hy het teruggetrokke begin raak. Ons is nou al vir meer as ’n jaar lank nie intiem nie. Ek voel asof daar ’n donker kloof tussen ons ontstaan waaroor ons nie praat nie. Ek is bekommerd oor die gesondheid van sy hart. Sy pa is dood aan ’n hartaanval in sy vroeë vyftigs, kort na ons eerste kind gebore is. Dit voel asof ons ’n verlore stryd veg.”

“Susan en Jack se ervaring is nie uniek nie. Om die waarheid te sê, dit is verskriklik algemeen,” sê professor Derick Raal, ’n spesialis-endokrinoloog en hoof van die afdeling vir endokrinologie en metabolisme aan die Universiteit van die Witwatersrand se Mediese Fakulteit.

“Die kombinasie van vetsug en diabetes is spoedig besig om die wêreld se nommer een gesondheidsprobleem te word. In 2014 is sowat 8% van die wêreldbevolking, ongeveer 382 miljoen mense, hierdeur beïnvloed. Ons voorsien dat dit in die volgende tien jaar na meer as 380 miljoen sal verhoog en teen 2035 sal sowat een uit elke tien volwassenes diabetes hê.

Wat meer kommerwekkend is, is dat beide uitermatige gewigstoename en diabetes voorkombaar is. “Dit is wat ons ‘leefstyl-siektes’ noem,” verduidelik professor Raal. Dit is siektes wat deur ongesonde dieetkeuses en te min fisieke aktiwiteit veroorsaak word. Dit hou ook verband met mekaar. Daar is ‘n definitiewe korrelasie tussen oorgewig wees en die ontwikkeling van Diabetes later in mense se lewens. Gewigstoename is ’n voorloper van diabetes en diabetes self word dikwels met verdere gewigstoename geassosieer.

Die uitwerking van vetsug en diabetes kan ’n vernietigende invloed op intimiteit hê. Ongemak, onsekerheid oor prestasie en swak liggaamsbeeld kan veroorsaak dat mans onttrek. Beide obesiteit en diabetes word geassosieer met neurovaskulêre siekte, wat die algemeenste oorsaak van erektiele disfunksie (ED) is. Die feit is, ongeveer drie uit elke vier mans met diabetes kla oor ’n mate van ED.

Wanneer ons oor ED dink, dink ons dikwels daaraan as ’n manlike probleem. Maar ED het ook ’n diepgaande uitwerking op lewensmaats. As hy nie gemaklik voel daaroor om sy ED met haar te bespreek nie, mag sy dalk nie verstaan hoekom hul verhouding intimiteit kortkom nie. Sy voel dalk dat hy van haar onttrek en/of is bekommerd omdat hy nie soos voorheen kommunikeer nie. Hy raak meer teruggetrokke, bestee minder tyd saam met haar en vermy intimiteit weens ’n vrees vir mislukking.

Behandeling vir diabetes kan die gewigsprobleem vererger. Kort ná ’n diagnose reageer baie mense met diabetes goed op mondelinge tablette, maar soos wat die kondisie ontwikkel, sal die meeste mense uiteindelik insulien benodig om hul bloedsuiker onder beheer te hou. Sommige van hierdie behandelings veroorsaak in wese gewigstoename. Professor Raal is bekommerd hieroor. “Verdere gewigstoename kan dit moeiliker maak om pasiënt se diabetes te beheer en dit is verstaanbaar dat dit mense neerslagtig en depressief kan maak,” sê hy.

Diabetes gaan nie net oor hoë bloedsuikervlakke nie. Die kondisie self, en ook sommige van die behandelings, kan die bloedsuiker abnormaal laag laat val (hypos), ongemak veroorsaak, lighoofdigheid en – in meer ernstige gevalle – beserings veroorsaak wat verband hou met valongelukke of bewusteloosheid. Ander mense, diegene wat op ongereelde tye eet of nie gereeld genoeg eet nie, en diegene wat alkohol inneem, is veral vatbaar vir hipo-verwante probleme.

Alles is egter nie net slegte nuus nie. Deur fisiek meer aktief te raak en na ’n gesonder dieet oor te skakel, kan die beheer van diabetes dramaties verbeter en, in sommige gevalle, help om die hoeveelheid medikasie wat nodig is te verminder. Dit kan selfs daartoe lei dat sommige medisyne heeltemal gestaak kan word.

Daar is boonop nuwer behandelings beskikbaar wat nie ’n gewigstoename of hypos veroorsaak nie. Sommige van die nuwe behandelings help eintlik met gewigsverlies. Hierdie behandelings is opwindend, want dit beheer nie net diabetes om die risiko vir verdere senuwee- en orgaanskade te help verminder nie, maar verbeter mense se lewensgehalte ook dramaties en laat mense met diabetes toe om gemakliker te voel – beide fisiek en psigologies. Wat bydra tot beter verhoudings.

“Mense met diabetes moet aangemoedig word om die kondisie met hul dokter te bespreek,” sê professor Raal, “om ’n behandeling te kry wat geskik is vir hulle, hul ouderdom en hul leefstyl.” Die belangrikste is dat hulle moet weet daar is lewe na diabetes. Sommige klein veranderinge aan wat ons eet en drink, om op te staan voor die televisie en aktiwiteite saam met ons familie en vriende te geniet, en om die regte medikasie te kies, beteken dat daar vele lonende jare voorlê om tyd saam op die strand en in die berge deur te bring!