Die sewe doodsondes (Spreuke 6:16-19) genaamd hoogmoed, hebsug, wellus, woede, vraatsug, afguns en luiheid kan julle huwelik baie nadelig beïnvloed as julle nie op julle hoede is nie. Beveg dit met alles in julle.
Julle huwelik is soveel kosbaarder as wat julle besef. Maak julle oë oop hiervoor in jul huwelik. As julle sáám hierteen veg, kan julle mekaar versterk. Hier is ’n paar wenke om die sewe doodsondes se invloed in jul huwelik te pypkan.
Hoogmoed
Hoogmoed in die huwelik is om te dink jy is verhewe bo jou maat, die beter een. Die een wat gedien moet word, in plaas daarvan om te besef dat julle mekaar moet dien. Hoogmoed moenie ’n geniepsige kettie wees waarmee jy jou maat elke nou en dan bykom nie. Jy kan maklik in die slaggat trap om te dink dat jý darem nie naastenby so baie foute soos jou maat het nie. Hoogmoed en trots loop hand aan hand. Moenie bang wees om te erken wanneer jy ’n fout gemaak het nie. Hoogmoed kom dikwels ook voor in ’n huwelik wanneer jy jou maat afkraak en beskuldig om jouself beter te laat lyk. Die keersy van hoogmoed is om jou maat altyd eerste te stel en altyd die voordeel van die twyfel te gee.
Hebsug
Die vretende behoefte om altyd méér en méér van alles te wil hê, is baie eie aan die tyd waarin ons leef. Hebsug dui nie net op geld nie, maar ook dinge soos aansien en ’n ongesonde honger na sukses. Moenie toelaat dat jou hebsug belangriker as God en jou maat word nie. Hier is dit belangrik om te onthou waarom julle in die eerste plek verlief geraak het op mekaar. Dink terug aan wat die essensie van jul liefde vir mekaar is. Skuif die strandhuis, blink motor en duur juwele opsy. As hebsug enigsins sy adderlike kop wil uitsteek in jul huwelik, kan julle mekaar uitdaag om op ’n manier by minderbevoorregtes betrokke te raak, waar julle prakties kan sien dat die lewe en jul huwelik soveel meer is as tydelike hebsug en selfsug.
Wellus
Wellus kan beteken dat jy jou maat met iemand anders se eggenoot vergelyk. Wellus in die vorm van pornografie kom ook voor wanneer jy onbillike eise en voorstelle aan jou maat maak. Beskerm jou hart, moenie toelaat dat jy vir een oomblik jouself voorstel saam met ’n ander maat nie. Hierdie monster is een wat julle nooit moet voer nie. Wellus vermom homself dikwels in die onskuldige gewaad van iets wat “eenmalig” en “onbelangrik” is. Moenie vir hierdie slim truuk val nie! Een huweliksmaat kan en moet nooit alleen hierteen baklei nie. Hier is spanwerk en konsensus baie belangrik. Bid en waak teen wellus in jul huwelik. Wellus is nie ’n onderhandelbare “plesiertjie” nie. Stop dit. Vermy dit. Verafsku dit.
Woede
Daardie rooi en bewende gesig, opgeblaasde wange, stilstuipe of skreeusessies is iets wat van tyd tot tyd by enige getroude paartjie voorkom. Maar: Hoe beheer julle hierdie woede? Hoe hanteer julle die kwessies wat in die eerste plek tot die woede gelei het? Woede-uitbarstings kan veral aan die kinders in julle gesin ontsettende skade berokken. As jy vir jou maat kwaad word, getuig die manier hoe jy daardie woede hanteer iets van jou karakter. Waak daarteen om jou maat in die verleentheid te stel met jou woede. Sorteer kwessies uit, en vra mekaar om vergifnis as jy toegelaat het dat jou woede en emosies jou beheer.
Vraatsug
Vraatsug, net soos hebsug, verwys na die “alles gaan net oor my”-sindroom. ’n Vraat is iemand wat meer vat as wat hom toekom. Daar is ’n spreekwoord wat sê vrate word gemaak en nie gebore nie. Jy het beheer hieroor, jy moet net beheer neem hiervan. Vraatsug kom in baie vorme, jy kry ook aandagvrate en tydvrate. Moenie dat vraatsugtigheid tussen jou en jou maat kom inkruip nie. Maak tyd vir mekaar, waar julle mekaar in die oë kan kyk en belangrike dinge met mekaar kan deel.
Afguns
Afguns is beter bekend as die groen monster wat maak dat jy nie deel in jou maat se sukses of geluk nie, maar maak dat dit vir jou ’n doring in die vlees word. Jy het géén rede om afgunstig op jou maat te wees nie. Waarom op aarde sal jy nie elke sonstraal wat op jou gunsteling persoon skyn vir hom of haar gun nie? Moet jouself nie misgis nie: Julle is nie mededingers nie, julle is spanmaats. Gooi maar daardie maatband waarmee jy alles tussen julle so graag meet, weg. Afguns kan jou só vergiftig dat jy later heeltemal onredelik word. En dít sal jou maat van jou af wegstoot. Ondersteun mekaar eerder, dra mekaar se laste, deel in mekaar se suksesse én mislukkings. Moenie plannetjies smee om jou maat te pootjie nie, maar wees jou maat se rots sodat julle sáám die storms van die lewe kan trotseer.
Luiheid
Luiheid kan in verskillende gedaantes in jul huwelik verskyn. Dit verwys nie noodwendig na die alewige nat handdoek op die badkamervloer of vroulief se deurmekaar motor nie. Luiheid kan beteken dat julle nie genoeg moeite doen met jul geestelike lewe nie. Dit kan beteken dat julle moontlik nie aktief genoeg is nie – hetsy dit na jul gesondheid of aktiewe betrokkenheid in die geloofsgemeenskap verwys. Spoor mekaar aan, praat mekaar moed in en inspireer mekaar! Moet nie couch potatoes van die lewe wees nie, pak iets aan wat jul lewe kan verryk!
Waak daarteen dat die sewe doodsondes jul huwelik bedreig. Die sewe doodsondes hoef nie jul huwelik ’n doodskoot te gee nie, maar smoor dit in die kiem voordat julle dit nie meer kan beheer nie. Inteendeel, tree doelbewus voorkomend op. Betrek jou maat in jou lewe: Vertel hom of haar van jou drome, vrese en werkskrisisse. Vertel vir jou maat hoeveel jy hom of haar begeer en hoe belangrik hy of sy in jou lewe is. Lééf die lewe saam! Werk daaraan om met sagte oë na mekaar en na jul foute te kyk.
Deur Lize Groenewald