Ons weet dit is belangrik. Ons weet dit is lekker. Maar hoeveel seks is genoeg? En hoeveel is te veel? Is daar enigsins ’n magic number?
Vanaf die intrapslag in die wêreld in wanneer ons gebore word, word ons fisieke voorkoms en eienskappe vergelyk – met mekaar, met familielede. Dis net wat mense doen. Dit maak dus sin om te weet dat ons as grootmense ook ons seksuele gedrag, vermoëns en aantreklikheid met mekaar sal vergelyk. Die mans wil weet of hul penisse groot genoeg is en of hulle net sulke goeie minnaars is in vergelyking met hul eweknieë, die vrouens wil weer weet of hul borste en heupe mooier is as ander vrouens s’n en of hulle goeie minnaresse is sodat hulle hul eie mans sal kan behou.
Wanneer ons in ’n langtermyn verhouding is, wil ons weet: Het ons twee as ’n paartjie net soveel kere per week seks as al die ander paartjies van ons ouderdom en kultuurgroep? Ons kan nog aanvaar dat Ma en Pa (vir séker!) of ons tannie en oom byna nooit seks het nie, of selfs dat ons vriende van 22 jaar oud op wittebrood byna heeltyd seks het, maar hoeveel kere per week doen ons portuurgroep dit?
Paartjies vra my gewoonlik nie uit oor hierdie vraag as hulle oor die algemeen baie gelukkig is met hoe dikwels hulle seks het en albei ewe veel bevrediging daaruit kry nie. Paartjies waarin een graag meer en een dalk selfs graag minders seks wil hê – dis hulle wat hierdie vraag vra.
Waaroor gaan dit eintlik?
Eintlik het mense seks nie net omdat hulle op dié manier voortplant nie, maar omdat hulle geweldig intens emosioneel kan konnekteer (’n baie belangrike behoefte) deur seks te hê. Baie kenners meen byvoorbeeld dat seks vir mans spesifiek een van die makliker maniere is waarmee hulle emosies kommunikeer (eerder as met woorde).
Is julle doel as paartjie om twee tot drie keer per week seks te hê? Dalk wil julle eintlik nou ander soorte tegnieke probeer of dalk seks hê wat julle beter laat voel? As julle meer van iets wil hê wat een of albei van julle eintlik nie bevredig nie, gaan meer daarvan beslis nie help nie.
Dit gaan eintlik oor gehalte van konneksie.
Hoeveel is te min?
Moontlik een of meer kere minder as waarvoor jy as individu lus gehad het.
Hoeveel is te veel?
Moontlik een of meer kere meer as waarvoor jy as individu lus gehad het.
Wat speel ’n rol in die hoeveelheid kere per week?
Waar jy is in jou menstruele siklus is, hoe lank julle al ’n verhouding het, jou gesondheid en emosies. Nog bepalers is hoe dit in jul verhouding gaan, of jou maat fisiek naby jou is of nie, en hoeveel een of beide van julle in ’n spesifieke situasie ’n kompromie sal tref. Dit alles speel ’n baie groot rol in hoe dikwels julle as paartjie gaan seks hê op ’n spesifieke tyd in jul verhouding.
Hoe dikwels het ander paartjies seks?
As jy ander mense vra, gaan navorsers vir jou syfers aanbied van studies waarin daar nie eens duidelik gedefinieer is wat “seks” beteken nie; jou vriende gaan vir jou sê wat hulle dink jy nodig het om te hoor.
As jy graag wil weet hoe dikwels ander paartjies seks het sodat jy dit met jou eie situasie kan vergelyk, vra jouself af hoekom jy regtig wil weet. Wat dink jy gaan jy daaruit kry om ’n getal te weet? As jy weet, gaan jy voel julle moet dié wat meer dikwels seks het inhaal of gaan jy dalk besluit julle oordoen dit . . . en afskaal?
Die kanse is baie goed dat sommige paartjies meer dikwels as julle seks het en die kanse is baie goed dat sommige paartjies minder dikwels as julle seks het.
’n Ander fokuspunt
Baklei teen die behoefte om ’n syfer aan julle sekslewe te koppel. Statistiek gaan julle beslis nie help nie.
Dalk is dit beter vir julle om op ’n reis te gaan waarop julle ontdek dat dit op die ou end glad nie saak maak hoeveel keer per week julle seks het nie. Dalk moet julle aanvaar dat sommige ander paartjies meer en ander minder as julle seks het. Dalk moet julle eerder fokus op ’n werklike konneksie met mekaar.
As julle werklik konnekteer, word seks soos daardie besonderse etes – die heerlikste geregte en smake word opgetower wanneer iemand ’n nuwe resep probeer. Of wanneer iemand by die huis kom en sê: “Ek is só lus om hierdie gereg vir jou te maak!”, of wanneer jy begin het met kosmaak, jou man kom staan styf teenaan agter jou, vra met mening hoe hy jou kan help en julle saam ’n heerlike gereg maak wat julle albei vir altyd onthou. Dan blink sy oë as hy sien jy eet lekker of hy kan nie ophou waardering uitspreek wanneer hy elke happie proe nie . . .
Dr Wilmé Steenekamp