Waar oom Jaap destyds vir sus Sarie by die tuisnywerheid oor ’n varsgebakte melktert geknipoog het, lyk ontrouheid vandag heel anders. Dis so eenvoudig soos die kliek van ’n knoppie . . . of is dit?

Sosiale media is ons redding, maar ook ons ondergang. Dis goed en sleg en een van talle dinge wat veilig in een persoon se hande kan wees, maar baie gevaarlik in die volgende. Dit het ons lewens só geïnfiltreer dat dit onmoontlik is vir ons verhoudings om onaangeraak te bly daardeur. Ons maak vriende, deel menings, herleef ou vriendskappe en smee nuwes . . .

JA vir kuberverhoudings!

Annelie* het haar man toevallig ontmoet deur ’n gemeenskaplike vriend op Facebook. Hulle het vir drie maande aanlyn gesels voordat Danie* haar een aand te hulp gesnel het ná iemand by haar huis probeer inbreek het. “Só met die gesels op Facebook het hy my vertel hy werk by ’n beskermingsdiens in dieselfde dorp waar ek woon. Ek het hom gekontak en gevra om te kom help na die inbraak. Dit was liefde met die eerste oogopslag.” Ná ’n verhouding van drie jaar is hulle getroud en hulle is steeds baie gelukkig. “Danie het ’n week ná ons ongewone ontmoeting by my ingetrek en ons is nog nie een dag spyt daaroor nie. Ek sê dankie vir Facebook, wat my aan my man voorgestel het!”

Alhoewel vriendskappe op sosiale media aanleiding kan gee tot romantiese verhoudings, is dit beslis nie ’n gegewe dat dié wat aanlyn sosialiseer oor die tou sal trap en hulle maats verneuk nie. ’n Gesonde verhouding laat spasie toe vir platoniese vriendskappe buite die huwelik – ook met die teenoorgestelde geslag. Navorsing toon dat aanlyn-vriendskappe net so vervullend kan wees soos kameraadskap in lewende lywe.

Studies dui ook toenemend daarop dat die bou van ’n sosiale netwerk ’n positiewe invloed het op welstand en ’n gevoel van ondersteuning. Boonop is die sosiale netwerk-teorie dat individue wat vriendskappe uitsoek en graag sosialiseer in die regte lewe, ook geneig is om hul vriendekring aanlyn uit te brei. As dit kom by affairs, is aanlyn-vriendskap per se dus nie die sondebok nie, maar eerder die betrokke persone se motivering en bedoeling. Die digitale snelweg bied verskeie voordele vir vriendskappe, onder meer die volgende:

  • Vriende kan enige plek ter wêreld in kontak bly.
  • Kommunikasie via die Internet is gerieflik, vinnig en goedkoop.
  • Digitale kanale kan aangewend word as ’n komplementerende medium om bestaande vriendskappe te bou en te versterk.
  • Aanlyn-platforms bied die geleentheid om vriendskappe te bou op grond van eensgesindheid, soos gemene belangstellings, beroepsrigtings, akademiese agtergrond en stokperdjies.
  • Introverte kry die geleentheid om vanaf ’n gemaklike afstand en teen hul eie pas aan vriendskappe te werk.
  • Sosiale media-platforms bied die geleentheid om professionele netwerke te laat groei en jou loopbaan te ontwikkel.

NEE vir kuberverhoudings!

Hoewel dit duidelik is dat sosiale media wondere kan verrig vir verhoudings, kom sommige kuberverhoudings tog teen ’n prys . . .

Janine* en André* van Bloemfontein het die spreekwoordelike perfekte huwelik gehad. “Dit was algemeen bekend in ons vriendekring dat my man mal is oor my en ek het nooit eers gedink dat hierdie seerste seer oor my pad sal kom nie,” vertel Janine.

Vir meer as ’n dekade lank het hulle gesukkel om swanger te raak en uiteindelik, na in vitro-bevrugting, is Ilke gebore. Toe Ilke ses maande oud was, het sy gesondheidsprobleme ontwikkel, wat genoodsaak het dat Janine vir die daaropvolgende jaar meestal in die hospitaal by haar was. “Na Ilke se eerste verjaardag het ek agtergekom André is minder betrokke by ons huis en gesin. Hy was baie opvlieënd en het dinge radikaal anders gedoen, soos om groot finansiële besluite op sy eie te neem. Hy was permanent op sy selfoon en elke keer as ek hom gekonfronteer het, het hy gesê hy kommunikeer met sy familie.”

Diep in haar binneste het Janine geweet dis nie waar nie. Sy het nooit op sy foon gekrap nie en hom die voordeel van die twyfel gegee. Maar een middernag het daar ’n boodskap op André se foon deurgekom en iets het vir haar gesê om dit te lees. Dit was ’n seksueel smeulende boodskap van ’n vrou. Sy het verder teruggegaan op die boodskappe en sy manier van skryf en praat herken. Daar was talle boodskappe en stemopnames op sy foon, en Janine kon aflei dat hy met talle vroue foonseks gehad het. “Dit is soos ’n dolk in jou hart, maar ek weet dit is nie in my man se aard nie. Hy is nie ’n womanizer nie, hy het net aandag gesoek – ’n behoefte wat ek nagelaat het om te vervul. Daarom het ek hom ’n kans gegee.”

André en Janine woon tans beradingsessies by en alhoewel Janine beklemtoon dat die vergifnisproses nie maklik is nie en die vertrouensband gebreek is, probeer sy dit verwerk en vergewe hom oor en oor. “Jou gedagtes is jou heel grootste vyand, maar ons huwelik is absoluut die moeite werd om voor te veg.”

Janine is net een van die talle slagoffers van kuber-ontrouheid, affairs wat aanlyn begin en groei – ’n neiging waarvan ons voorgeslagte salig onbewus was. Vandag sal die meeste van ons erken dat sosiale media ’n gerieflike medium is en dat aanlyn-vriendskappe niks snaaks is nie . . . maar agter ’n “onskuldige vriendskap” skuil ’n potensiële affair, of selfs net ’n “eksperiment” wat gou in ’n verslawing kan ontaard.

Wat kwalifiseer as kuber-ontrouheid?

Dr Marlene Wasserman, bekende seksuoloog, alombekend as Dr Eve en skrywer van die boek Cyber infidelity – The new seduction, verduidelik dat kuber-ontrouheid gekenmerk word deur twee persone wat albei in vaste verhoudings is en dan aanlyn ontrou is. Hierdie ontrouheid vind in “real time” plaas, waar albei persone terselfdertyd aanlyn is en interaksie met mekaar het waar hulle hul fantasieë deel. Dit kan vorder tot kontak via geselstoepassings soos What’s App en Skype, en dan uiteindelik na telefoonoproepe en ontmoetings.

Paartjies wat gekonfronteer word met kuber-ontrouheid, stroom deur Dr Eve se spreekkamer. Vandat die webtuiste AshleyMadison.com (’n webtuiste waar getroudes en paartjies in vaste verhoudings aanlyn-verhoudings kan aanknoop) in Julie 2012 na Suid-Afrika gekom het, het Dr Eve ál meer paartjies gehad wat haar in verband met kuber-ontrouheid wou spreek.

Kuber-ontrouheid is ál meer relevant in vandag se tyd, waar mense baie tyd aanlyn spandeer. Hoekom? “Dit is een van die nuwe vorme van verhoudings. Dit is ’n toevoeging tot ’n huwelik. Dit is ’n nuwe manier om jouself aan ander te verbind wat baie verleidelik én bevredigend is. Dit is moeilik om dit te beheer omdat dit op mobiele toestelle plaasvind en ’n mens dit byna kan doen sonder om daaroor te dink. Ek dink dit dwing mense om oor hul verhoudings te praat en nuwe reëls vir hul verhoudings neer te lê. Dit daag die ou gebruike van monogamie, seksuele getrouheid en vaste verbintenisse uit,” verduidelik Dr Eve.

Die rede waarom mense gefassineer is hierdeur, is omdat hulle dit nie as verneuk beskou nie. “Hulle beskou dit bloot as onskuldige praatjies. Aangesien daar geen ‘regte seks’ plaasvind nie, voel dit skuldvry. Mense dink dat dit nie hul maats benadeel nie. Eers wanneer hulle uitgevang word, ervaar mense intense pyn. Die grootste aantrekkingskrag lê in hoe wonderlik dit jou laat voel – dit is maklik, jy het nie nodig om mooi aan te trek nie, daar is geen konflik om te hanteer nie en die gesprekke is baie intens. Mense is bereid om baie van hulself te deel en dit kan ook baie seksueel van aard wees,” verduidelik Dr Eve. Jy kan ook bloot afskakel wanneer jy genoeg gehad het. In werklikheid is verhoudings baie meer uitdagend.

Die groot verskil tussen blote vriendskap en kuber-ontrouheid is wanneer geheimhouding ’n rol speel. Gevaarligte behoort te flikker wanneer jou maat uitermatige privaatheid eis, baie besitlik is oor sy selfoon of tablet, baie afgetrokke is of baie tyd aanlyn spandeer.

Dr Eve sê dat paartjies beslis aanlyn-vriende kan hê, solank as wat dit nie ’n geheim is nie en jy gemaklik daarmee is dat jou maat jou aanlyn-gesprekke mag lees.

Wanneer julle met kuber-ontrouheid in jul huwelik of verhouding gekonfronteer word, móét julle hulp kry. Gaan sien ’n terapeut en lees meer oor kuber-ontrouheid. As vertroue en intimiteit eers geskend is deur kuber-ontrouheid, is dit baie moeilik om dit weer te herstel. Dit kan selfs moeiliker wees as om van ’n regte affair te herstel omdat tegnologie só ’n groot rol in ons lewens speel.

Hoe hou jy kuber-vriendskappe platonies?

Dis belangrik om te besef hoe broos jou huwelik is in die dag en eeu waarin ons leef. En dit is ook noodsaaklik om te weet wat die gevaartekens is sodat jy bedag kan wees daarop wanneer jou huwelik in ’n gevaarsone inbeweeg:

  • Bou en koester ’n sterk verhouding met jou eggenoot deur oop en eerlik te kommunikeer, en jou maat spasie te gun om dieselfde te doen. Prioritiseer pret, humor en avontuur saam met jou man of vrou. As jy die behoefte het om jou selfoon weg te steek of ‘n wagwoord daarop te sit, is dit ‘n groot rooi lig vir jou huwelik.
  • Monitor die trant van jou aanlyn-gesprekke voortdurend. Vra jouself af of jy gemaklik sal wees as jou man/vrou deel was van die gesprek of toegang het tot jou sosiale media-profiel.
  • Gesels met jou maat oor grense. Is beide van julle byvoorbeeld gemaklik daarmee om kontak te hou met eksmeisies of -kêrels? Watter gesprekspunte en temas is nie vir julle aanvaarbaar nie? Bespreek ’n paar moontlike scenario’s en hoe jy verwag jou maat daarop behoort te reageer.
  • Vind ’n gepaste manier om vir jou aanlyn-vriend of -vriendin te noem dat jy (gelukkig!) getroud is.
  • As jy vind dat jy romantiese gevoelens begin koester, fantaseer oor jou aanlyn-vriend of -vriendin of planne begin beraam om mekaar aflyn (in die geheim) te ontmoet, moet rooi ligte vir jou flikker. Beëindig eerder die vriendskap en onthou die gras is nie noodwendig groener aan die virtuele kant van die draad nie.

 

Het jy geweet?

  • AshleyMadison.com – ’n webtuiste waar mense wat getroud is of in vaste verhoudings is aanlyn-verhoudings kan aanknoop, het meer as 230 000 geregistreerde gebruikers in Suid-Afrika. (’n Groep genaamd Impact Team het die webtuiste in Julie gehack en die gebruikersdata-basis gesteel. Hulle het gedreig om die databasis bekend te maak, sou die webtuiste nie verwyder word nie en wel later hul dreigement deurgevoer).
  • Die grootste persentasie mans wat deel is daarvan, val in die ouderdomsgroepe 30-39 jaar (33%) en 40-49 jaar (36%).
  • Die grootste persentasie vroue wat deel vorm van com, is in dieselfde ouderdomsgroepe van 30-39 jaar (39%) en 40-49 jaar (32%).

 

Deur Intiem redaksiespan

Addisionele bronne: Cyber infidelity – The new seduction. Virtual people, real friends: www.theguardian.com; The quality of online, offline and mixed-mode friendships among users of a social networking site: www.ccyberpsychology.eu/view; The social and psychological impact of online social networking: APS National Psychology Week survey: www.pshychology.org.au.