Seks is opwindend, ja. Dis ’n lekker tydverdryf op ’n koue dag en dit bring pret in jou huwelik. Maar is dit werklik noodsaaklik?

Promosie

Talle lesers se huwelike ly onder seksuele probleme. Verskille in libido, seksuele disfunksie en seksuele ontevredenheid is alles oorsake wat stremming op ’n huwelik kan plaas. Talle mense gaan sonder seks deur hul huwelike. Kan ’n sekslose huwelik werk? Is ’n gesonde sekslewe regtig nodig? Hoe belangrik is seks in ’n huwelik?

Kenners meen dit is ’n noodsaaklikheid. Dit is immers die enigste iets wat jy en jou maat deel wat met niemand anders gedeel word nie. Dít is die verskil tussen huweliksmaats en kamermaats. En omdat dit so ’n intieme en uitsonderlike band skep, plaas dit twee maats op ’n heel ander vlak wat kommunikasie aanbetref. Dit maak twee maats weerloos voor mekaar. En in ’n huwelik is dit die gom wat help om ’n paartjie emosioneel aan mekaar te bind.

Ja, daar is seker die uitsonderings waar ’n man en vrou tevrede voel met ’n sekslose huwelik. Maar daardie uitsonderings is yl gesaai . . . en as die een nie presies soos die ander een voel wat ’n tekort aan seks aanbetref nie, sál dit probleme (en waarskynlik selfs affairs) teweegbring.

Promosie

Hiermee saam wil ons byvoeg: Deur jou aan te raai om seks op jou doenlysie te plaas, wil ons nie nóg druk op jou plaas nie. Ons kalenders is vol, ons slaap is kosbaar . . . maar seks is ononderhandelbaar. Die huwelik is God se plan en seks is deel van Sy plan vir ons huwelike.

Ons is geskape om seks te geniet! Daar is nie voorskrifte oor hoeveel seks jy moet hê en hoe gereeld jy dit moet hê nie. So ontspan in hierdie verband. Jou lewensmaat sal verstaan dat sekere seisoene ’n bietjie meer droogte oplewer, maar volgens Themarriageplace.com is ’n huwelik seksloos as ’n paartjie gemiddeld een keer of minder per maand seks het.

Daar is heelwat redes waarom ’n sekslose huwelik nié ’n opsie is nie. Seks laat jou maat geliefd en begeerlik voel, meen Shaunti Feldhan in haar boek, For women only: What you need to know about the inner lives of men.

Stel jou voor jou maat kom kruip elke aand langs jou in en staan elke oggend langs jou op sonder om ’n sweem van seksuele belangstelling in jou te toon. Seks kommunikeer aan jou maat dat hy of sy die belangrikste van alles en almal is. Dis ’n vorm van kommunikasie. Dis ’n vorm van vertroosting. Dis ’n vorm van gerusstelling.

En dit gee jou maat die selfvertroue wat elkeen in ’n huwelik behoort te hê. Daardie aandag en volkome toewyding aan mekaar kommunikeer: “Jy is vir my belangrik.” En die weiering van seks laat ’n gevoel van verwerping by menige lewensmaat.

Soos Shaunti sê: “As jy seks beskou as ’n suiwer fisieke behoefte, is dit inderdaad vergelykbaar met slaap. Maar sodra jy agterkom dat jou maat eintlik sê: ‘Dit is noodsaaklik  vir my om geliefd en begeerlik te voel, en dit is noodsaaklik om my spanning, vrese en eensaamheid teen te werk,’ plaas dit dinge in ’n ander kategorie.”

O ja, het ons vergeet om te sê seks is ’n stresverligter? Daar is boonop heelwat ander gesondheidsvoordele wat seks teweegbring. Dit hou die vlakke van oksitosien, estrogeen en testosteroon konstant, wat ook gevoelens van welstand, vertroue en toewyding skep. Dit bevorder ook kardiovaskulêre gesondheid, verminder die risiko vir prostaatkanker en verminder die moontlikheid van osteoperose.

Boonop verbrand jy 150 kalorieë vir elke halfuur se pret tussen die lakens. En jy slaap lekker! Seks veroorsaak ’n verlaging in liggaamstemperatuur en bevorder goeie slaap. Terwyl kenners gewoonlik oefening voor slaaptyd afraai, is seks ’n uitsondering!

Dis belangrik vir jou identiteit as ’n minnaar of minnares. Ja, jy is ’n ouer en ’n kind en ’n werkgewer of werknemer, jy is ’n vriend of vriendin . . . en te midde van al daardie rolle is dit maklik om te vergeet dat jy ook ’n mán of ’n vróú is. Jy is iemand wie se identiteit ook gedeeltelik hierin opgesluit lê. Só is dit belangrik vir ’n moeë mamma om te onthou dat sy ook ’n vurige Eva is en vir ’n oorwerkte pappa om te onthou sy vrou sien hom steeds as die hot shot uit haar studentedae.

Kom ons vertel jou nog ’n belangrike geheim: Hoe meer seks jy het, hoe meer sal jy wil hê! Só as jy waarlik nie lus is hiervoor nie, ignoreer wat jou kop of lyf jou probeer vertel en maak soos Nike sê: Doen dit net! Want as jy dit nie doen nie, beroof jy jouself van ongekende plesier, intimiteit en wonderlike vreugde wat hierdie band van intimiteit aan ’n paartjie bied.

Seks is lékker! Dis een van die lekkerste dinge wat jy kan geniet wat ook góéd is vir jou. Só as dit soms ’n bietjie moeite verg, doen daardie moeite, want die vrug van jou arbeid is stroopsoet!

 

Deur Annelize Steyn

Addisionele bronne: familyshare.com, allwomenstalk.com.