Is daaglikse seks jul Nuwejaarsvoorneme? Op die oog af klink gereelde seks soos ’n goeie plan en ja, dit hou beslis voordele in, maar maak julle julself nie gereed vir teleurstelling nie?

Promosie

Hoe haalbaar is sulke gereelde seks en kan seks vir 365 nagte jou huwelik regtig verbeter? Is kwaliteit beter as kwantiteit? Of moet ’n mens streef na kwantiteit? Ons ondersoek die voordele en nadele van (baie) gereelde seks. Die algemeenste probleem wat ek in die praktyk sien, is hipo-aktiewe seksuele begeerte (oftewel ’n lae seksdrang). Daar is wel ook mense wat vra of ’n mens dan té veel seks kan hê? Wat navorsing aanbetref, is daar nie regtig ’n duidelike antwoord nie.

Die voordele van gereelde seks is:

  1. Dit is ’n goeie ontspanningsmiddel. Dit is tien keer meer doeltreffend as Valium en help om jou spanning te hanteer. Gedurende seks produseer ons liggame dopamien, endorfien en oksitosien, wat help om stres te verlaag, jou ’n gevoel van geluk gee en jou begeerte na jou maat weer versterk. Daarom kan dit ook wees dat hoe meer seks jy het (mits jy dit wil hê), hoe meer sal jy wil hê.
  2. Dit laat jou langer leef. Navorsing dui daarop dat mense in gesonde verhoudings wat gereeld gesonde seks het, langer leef. Een studie wat in die British Medical Journal gepubliseer is, sê mans wat gereeld gesonde seks het, kan tot twee keer langer leef as hul vriende wat nie seks het nie.
  3. Seks is baie goeie oefening. Dit versterk elke spier in jou liggaam en verbrand baie kilojoules. Jou asemhaling versnel ook. As jy net drie keer per week seks het, kan jy tot 7 500 kalorieë per jaar verbrand. Dit is dieselfde as om 120km te hardloop of meer as 31 500 kilojoules!
  4. Seks kan jou immuunstelsel versterk. Tydens seks word antigene soos immunoglobien vrygestel, wat verkoues en griep kan beveg.
  5. Seks is goed vir jou hart. Seks en selfs enige vorm van fisiese kontak kan jou bloeddruk verlaag.
  6. Seks verlig pyn. As jy krampe en pyne het (ook hoofpyn), kan ’n goeie sekssessie beter wees as ’n pynpil.
  7. Seks versterk jou rug-, kern- en pelviese vloer-spiere. Sterker pelviese vloer-spiere verbeter die intensiteit van jou en jou maat se orgasme. Dit kan vir beide vroue en mans ook die simptome van inkontinensie verlig of voorkom.
  8. Dit kan kanker voorkom, veral by mans. ’n Studie het getoon dat mans wat tot 21 keer per maand ejakuleer se kans om prostaatkanker te kry laer is as mans wat nie seks het nie.
  9. Seks is ’n goeie slaappil. Ná ’n orgasme word die hormoon prolaktien afgeskei, wat jou laat ontspan en slaperig laat voel.
  10. Seks kan jou tien jaar jonger laat lyk. Dit is goed vir jou hare, tande en laat jou vel gloei.
  11. Gesonde seks verhoog emosionele intimiteit en ’n gevoel van veiligheid in die verhouding.

Die nadele van baie gereelde seks

Promosie

Oor die algemeen is gereelde seks nie nadelig vir jou nie, mits jy en jou maat albei gelukkig is met die frekwensie van seks. Om elke dag of sewe of meer keer per week seks te hê, is heelwat meer as die hoeveelheid seks wat die meeste paartjies het. Die meeste paartjies het gemiddeld twee keer per week seks.

Aan die begin van ’n verhouding en in die verliefdheidsfase, wanneer die hormoon PEA afgeskei word, kan paartjies maklik elke dag seks hê en dit geniet. Soos die verhouding egter ontwikkel en die paartjie deur verskillende lewensfases gaan, kan die seksuele egter afneem.

Daar kan ook ’n libidoverskil ontstaan, waar die een persoon dalk ’n groter behoefte as die ander een het. Dit gaan oor balans, respek, kommunikasie en onderhandeling. Seks behoort nie die enigste aktiwiteit te wees wat julle saam geniet nie.

Indien die man of vrou hipo-aktiewe seksuele begeerte het (ongeag die oorsprong daarvan) en dit nie behandel word nie, kan die reëling om elke dag seks te hê baie ongesond wees en ernstige probleme veroorsaak. Seks voel dus soos ’n werk of ’n plig. Jy moet iets doen wat jy nie regtig wil doen nie en jou brein begin jou beskerm deur jou seksdrang verder te verlaag.

Indien ’n vrou enige vorm van seksuele pyn ervaar en steeds seksuele penetrasie het, gaan haar seksdrang verdwyn en gaan die pyn vererger tot ’n punt waar penetrasie onmoontlik is.

Om seks te hê omdat dit ’n ooreenkoms is, ongeag of jou maat ’n behoefte daaraan het of nie, is nie net disrespek en selfsugtig nie, dit is mishandeling. Die doel van die seksuele, wat intimiteit, sielskommunikasie en sensualiteit insluit, kan nie bereik word nie, want dit gaan dan oor die fisiese daad alleen.

Goeie gehalte seks, waar albei maats in die bui is en dit ’n liefdevolle, sensuele, bevredigende en suksesvolle ervaring is, is baie meer werd as seks elke dag wat geforseerd voel!

 

Deur Elmari Mulder-Craig

  • Elmari is ’n Europees-gesertifiseerde seksuoloog en verhoudingskenner.