Miskien het jy seks leer ken as “Sies!” en “A-nee-a!”. Dit is nou etlike jare later, jy is getroud en jy weet vandag dat seks eintlik ’n Godgegewe gawe is, maar wat help dit nou? Hoe herprogrammeer jy jou brein om seks in ’n positiewe lig te beskou? Elmari Craig gee raad…

Promosie

Johan (39) is ’n finansiële adviseur en Riëtte (37) ’n arbeidsterapeut. Hulle is twaalf jaar getroud en het twee jong kinders. Die seksuele kant van hul huwelik was egter van die begin af problematies. Johan sê: “Riette hou eenvoudig nie van seks nie. Dit is asof sy dit as vuil en sondig beleef. Sy kan doodeenvoudig nie seks met oorgawe geniet nie.”

Dit is ’n probleem waarmee geweldig baie paartjies worstel en ongelukkig gaan dit hier dikwels oor diepliggende persepsies oor die seksuele. Dit is gewoonlik ’n neweproduk van ons Calvinistiese agtergrond dat baie mense steeds van die standpunt uitgaan dat seks net vir voortplanting bestaan, eintlik sonde is en iets is wat ons behoort te geniet nie. Ongelukkig het die kerke en teoloë oor die eeue heen probeer om deur allerhande reëls en regulasies ’n demper op die mens se seksualiteit te plaas.

Die gevolg was dat gelowiges dikwels met ’n klomp skuldgevoelens oor seks gelaat is. Ek hoor daagliks hierdie persepsies in my spreekkamer. Vir baie van ons is dit argaïese uitgangspunte en kan ons kognitief daarvan verskil, maar dit is ook so dat baie van ons, sonder dat ons dit eers besef, steeds van hierdie negatiewe idees oor die seksuele in ons onderbewuste, of ons bloudruk, saamdra.

Promosie

’n Ouerhuis met ’n Victoriaanse morel

Ons houding ten opsigte van die seksuele word verder ook deur ons agtergrond en die manier bepaal waarop ons kennis van seks aan ons oorgedra is, met ander woorde, die aard van die seksualiteitsopvoeding wat ons ontvang het. Baie van ons het in ’n ouerhuis met ’n Victoriaanse moreel grootgeword. Ouers het in baie gevalle die seksuele onder die komberse toegehou. Nie net was hulle skaam en skugter om met hul kinders daaroor te praat nie, hulle was selfs teenoor hul huweliksmaats ongemaklik en skaam! Ouers het hul kinders nie van kleins af geleer dat hulle seksuele wesens is nie; dat seks ’n wonderlike gawe van God is om binne ’n sekere raamwerk te geniet nie. Hulle het dikwels die onderwerp probeer vermy en hul eie seksualiteit probeer onderdruk – wat die natuurlike onnatuurlik maak en skewe en negatiewe houdings kweek.

Dikwels is hierdie negatiewe houdings verder versterk deur ’n afkeurende en bestraffende houding oor natuurlike situasies soos byvoorbeeld wanneer kinders hul geslagsorgane natuurlikerwys ontdek of ontdek dat masturbasie lekker is. Menige pasiënt in my spreekkamer ervaar as volwassenes probleme in hul seksuele verhouding weens ouers wat hul bestraf het of selfs geslaan het as hulle as kind “gevang” is dat hulle hulself bevredig. As kind maak jy dan ook sekere gevolgtrekkings en besluite oor seks. “Seks is vuil,” “Seks is verkeerd,” “Ek mag nie seks geniet nie”.

Soms gaan die trauma selfs verder en sê ouers reguit aan kinders: ”Moet net nie swanger raak nie, ek sal jou die huis belet,” of “Moet net nie ons familie in die skande steek nie” of, soos een van my pasiënte se ma haar ingelig het: “Dit is ’n vrou se plig om seks vir haar man te gee. Verwag egter dat dit baie seer gaan wees – die pyn gaan so erg wees dat jy sal wens jy gaan liewer dood!”

’n Gebrek aan seksopvoeding

Seksopvoeding, of die gebrek daaraan, en ons godsdienstige siening van die seksuele gaan dikwels hand aan hand. Daar word vertel dat die preutse koningin Victoria van Brittanje geskok was oor al die verwysings na seks in die Bybel. Sy was bekommerd dat dit haar kinders kon prikkel en sleg kon beïnvloed as hulle dit sou lees, daarom het sy alle Bybeltekste wat na die seksuele verwys met papier toegeplak.

Dié storie vertel verder dat dit later geblyk het dat, geprikkel deur hul nuuskierigheid, dit die enigste dele van die Bybel was wat haar kinders met fanatiese ywer gelees het – deur die toegeplakte dele oop te maak, te lees en weer toe te plak! Daardie Bybel moes vol plakkertjies gewees het, want die Bybel verwys baie na seks. Die hele Hooglied is aan hierdie tema gewy.

Tog sukkel ons dikwels met onnodige skuldgevoelens oor al die taboes en reëls oor seks wat sogenaamd deur die Bybel en die kerk aan ons voorgehou word.

Die liggaam is ‘vleeslik’ en net vir voortplanting bedoel

Volgens Joke Nicol in haar boek, Naak en Naby, is ons Westerse moreel ook sterk deur die Griekse, dualistiese mensbeskouing beïnvloed. Daarvolgens neig ons om te voel dat die mens uit twee komponente bestaan, naamlik ’n liggaam en ’n gees. Die gees is die hoër en die liggaam die laer deel. Die liggaam is “vleeslik” en sy tipiese behoeftes word dikwels as sondig beskou. Volgens hierdie beskouing is seks in die huwelik slegs toelaatbaar as dit ’n doel dien, naamlik voortplanting. Dit mag geensins verheerlik word nie, laat staan nog geniet word!

Volgens prof. Hennie Stander is daar dikwels in die kerk se geskiedenis probeer om te bewys dat seks eintlik net vir voortplanting bedoel is. Hierdie oortuiging het selfs daartoe gelei dat sommige teoloë verder daaruit afgelei het dat ’n man en vrou ook nie seks kan hê as die vrou reeds swanger is nie. Teoloë het allerlei vindingryke argumente gebruik om hul argument te probeer bewys. Hulle het byvoorbeeld geredeneer dat wanneer ’n boer koring op sy land gesaai het, hy nie weer nuwe saad sal saai voordat die koring eers opgekom en geoes is nie. Net so kan jy ook nie weer saad in jou swanger vrou “saai” voordat die baba gebore is nie.

Net so is daar baie jare lank geglo dat masturbasie sleg en sondig is, of dat ’n goeie, Christen-vrou nie seks behoort te geniet nie, en dat net “slegte vroue” seks inisieer en geniet.

Die Bybel se persepsie van seks

Prof. Hennie Stander meen dat die rede waarom Christene dikwels spanning tussen ’n Geesbeheerde lewe aan die een kant, en ’n spontane, plesierige, seksuele lewe aan die ander kant ervaar, dikwels in die verlede en wanopvattings oor die Bybelse persepsies van seks lê. Reeds in die Nuwe Testamentiese tye was Christene ongemaklik met die idee dat seks enigsins ’n rol in ’n Geesbeheerde lewe te speel het.

In talle van die Nuwe Testamentiese gemeentes het daar mense rondgegaan wat gesê het dat die seksuele liefde geen plek in ’n Christen se lewe het nie. Talle Bybelskrywers het egter hul bes probeer om hierdie dwalinge te bestry, maar selfs vandag is daar nog oorblyfsels van hierdie negatiewe sienings.

So bestaan daar dus baie mites en negatiewe houdings teenoor die seksuele. Dit is ook so dat die méns seks dikwels verkeerd en buite die Bybelse konteks hanteer, wat dit dan problematies, negatief en ”vuil” maak. Dit is en was egter nooit God se bedoeling met die seksuele binne die huwelik nie.

Die vraag is dan wat ons moet doen as ek of my huweliksmaat hierdie negatiewe houding teenoor seks het?

Die oplossing? Kry die regte inligting.

Die eerste en belangrikste oplossing is om kognitief die regte inligting oor die seksuele te kry, hieroor te lees, met jou maat hieroor te praat, en indien nodig, ook deur terapie jou negatiewe gevoelens en houding wat op die onbewuste vak lê, te verander.

Joke Nicol en prof. Hennie is dit eens dat die ou, negatiewe standpunte nie in ooreenstemming met die Bybelse boodskap oor seks is nie. Trouens, dit is baie duidelik in die boek Hooglied dat seks hier as die hoogste uitdrukking van die liefde tussen man en vrou geskets word. Dit word in die konteks van plesier en genot geskets.

Hooglied maak dit verder ook duidelik dat die seksuele spel ’n geskenk van God is wat uitgeleef en as ’n loflied teenoor die Skepper geniet behoort te word. Die Bybel maak dit duidelik dat seks daar is sodat jy en jou maat jul seksuele drange kan uitleef. Die Bybel praat van seks as ’n vreugde wat in mekaar gevind word.

Die klem word ook in Genesis 2 op die seksuele interaksie ter wille van genot geplaas en nie op seks ter wille van voortplanting nie, ter wille van rekreasie en nie prokreasie nie. Genesis 2 se standpunt oor seks en seksualiteit is duidelik: dit is ’n geskenk van God wat bedoel is om geniet te word en waarmee ons mekaar moet bedien.

Prof. Hennie maak ook die interessante stelling dat die Bybel baie eksplisiet oor seks is. Seks word openlik en eerlik bespreek, tog voel ’n mens nooit “vuil” as jy dit lees nie. “Dit word elke keer met soveel mooiheid geskilder dat dit lekker is om daardie gedeeltes te lees.”

In 1 Timoteus 4:2-3 skryf Paulus aan Timoteus in Efese: “Hierdie dwaalleraars is skynheilige leuenaars wie se gewete toegeskroei is. Hulle verbied mense om te trou en om bepaalde soort kosse te eet.” Dit is duidelik dat die dwaalleraars met allerhande wette na die gelowiges gekom het. Een daarvan was dat God nie wil hê dat ’n mens moet trou nie – en by implikasie seksuele genot moet hê nie.

Hierdie dwaling is ook na ander stede versprei en Paulus spreek dit in sy brief aan die gelowiges in Korinte en ook aan die in Kolosse aan. Paulus weerspreek die idee dat gelowiges nie eintlik seks behoort te hê nie.

Elke gelowige kan dus weet dat God ook die seksuele kant van die mens geskape het en dat Hy ons toelaat om dit te geniet. Daarom dat God so openhartig in die Bybel oor seks praat. Die Bybel frons nie oor die seksuele nie, maar is positief daaroor.

Sien dit dus as ’n uitdaging as jy besef jou houding en benadering teenoor die seksuele is steeds negatief. Kry die regte inligting, lees oor die onderwerp en gaan gesels met kenners wat jy vertrou. Raak bevry van onnodige skuldgevoelens en indien jy nie kognitief jou negatiewe persepsies kan verander nie, gaan spreek ’n terapeut wat jou kan help om by die onbewustelike bloudrukke uit te kom en jou persepsies daar in die onderbewuste te verander. Dwing jouself om jou negatiewe persepsies ter wille van jouself en jou huwelik te verander. Groei en ontwikkel persoonlik en verander jou denke oor seks.

Dikwels gebruik ons hierdie negatiewe persepsies as maklike verskonings vir ander onderliggende redes vir ’n negatiewe houding, soos byvoorbeeld seksuele trauma of ander probleme in die huwelik. Wees dus eerlik met jouself en verander jou denke positief deur positiewe bevestigings neer te skryf, dit daagliks te herhaal en dit te glo. Beleef dan hoe ’n gesonde en verrykende sekslewe soos God dit bedoel het, die sement van die huwelik is; hoe so ’n gesonde sekslewe ook geestelike oorlogvoering kan wees om jou huwelik teen die aanslae van die wêreld daarbuite te beskerm.

Laat die volgende aanhaling uit Vir Mot – Mot op Griet die nuwe motto van jou huwelikslewe word: “Geloof is die sterkste. Liefde die mooiste. Seks altyd die lekkerste.”

Voorbeelde van positiewe bevestigings:
“Seks is ‘n gawe van God.”
“Ek is ’n pragtige, sensuele wese.”
“God het vir ons seks gegee om te geniet.”
“Seks is wonderlik.”

Hooglied 8: 6-7
Hou my teen jou soos die seëlring op jou bors, soos die seëlring aan jou arm. Die liefde is sterker as die dood, die hartstog magtiger as die doderyk; die brand en vlam soos vuur. Strome water kan die liefde nie blus nie, riviere kan dit nie afkoel nie.

Hooglied 4:9-11
Jy het my hart gesteel, my beminde bruid, jy het my hart gesteel met een kyk van jou oё, met een skakel in die ketting om jou hals.
Ek hou van jou liefkosings, my beminde bruid, jou liefkosings is beter as wyn, jou parfuum ruik lekkerder as al die lekkerruik-kruie.
Jou lippe proe soos heuningstroop, my bruid, jou tong soos heuning en dikmelk, en jou klere ruik na die Libanon.