Is jy ’n drama queen sonder gelyke? Een wat daarvan hou om koppies en pierings rond te gooi wanneer manlief julle date night vergeet? Wel, jy sal bly wees om te hoor dat kenners meen konflik is koning! Dit is nou mits jy effens kan bedáár . . .Konflik is onvermydelik. Jy het dalk nog altyd gehou van ’n laatmiddagslapie oor naweke, terwyl dít juis die tyd is wanneer manlief sy nuwe tromstel nadertrek. Miskien dink jy dat jy ’n redelike goeie kok is, maar as jy luister na jou man se kommentaar, sou jy sweerlik sê hy het persoonlik vir Jamie Oliver opgelei! Dit is belangrik om te besef dat elke persoon ’n unieke individu is met sy of haar eie persoonlikheid. Dit beteken dat ’n man en vrou verskille gáán hê ten opsigte van hoe hulle die wêreld beskou en hoe hulle optree. Jy sal dit nou nie glo nie, maar jou man se aweregse humorsin (wat jou deesdae so irriteer) is juis wat jou na hom aangetrek het. Jy het dalk jou lieflingmaat se gemaklike, ondersteunende geaardheid geniet toe julle uitgegaan het. Nou, ná jul troue, is jy gefrustreerd omdat hy tevrede is met sy lae-inkomste beroep as vryskut-fotograaf – wat hy gekies het sodat hy genoeg vrye tyd het om oor naweke saam met jou te kan ontspan en te gaan surf. Onthou, dit is onwaarskynlik dat die meeste karaktereienskappe in jou maat sal verander. Die ideaal is dat julle leer hoe om op mekaar se positiewe eienskappe te fokus en hoe om die minder begeerlike eienskappe te aanvaar as deel van die pakket.

Promosie

Die eerste keer wat die vonke tussen jou en jou nuwe man spat, voel dit asof die wêreld vergaan. Jy glo julle staan op skei en jou wêreld tuimel inmekaar. Net om ’n rukkie later te ontdek dat dit maar net een van daardie rusies is wat onafwendbaar is wanneer twee mense ’n huis, ’n badkamer, finansies en ’n lewe deel. Jy ken waarskynlik paartjies wat mekaar gereeld “byt”, verneder en kritiseer. Só ’n huwelik is nooit gesond nie, maar kenners meen dat konflik ’n baie belangrike en normale deel van jou huwelik is. “Paartjies wat woede onderdruk, is twee keer so geneig om ’n vroeë dood te sterf as diegene wat uitdrukking gee daaraan,” sê Ernest Harburg, ’n sielkunde-professor aan die Universiteit van Michigan. Om oor iets te broei wat jou irriteer, om jou woede te onderdruk en om jou maat die silent treatment te gee, is nie komponente van gesonde konflikoplossing nie.

Ann Landers, ’n huweliks- en gesinsterapeut van California, sê: “Alle getroude paartjies moet die kuns van oorlog aanleer, net soos wat hulle die kuns van liefde maak aanleer. Goeie oorlog is objektief en eerlik – nooit kwaadaardig of wreed nie. Goeie oorlog is gesond en konstruktief en dit skep die beginsel van ’n gelyke vennootskap.”

UCLA-navorsers het gevind dat wanneer mans ná werk huis toe gaan, hul streshormoon kortisol dramaties verminder word wanneer hulle nie gelukkig getroud is nie. In kontras hiermee vermeerder vroue se kortisol wanneer hulle by die huis kom. Chroniese stres verhoog kortisol, wat kan lei tot gesondheidsprobleme soos depressie, chroniese moegheid en selfs kanker. Om toe te sien dat huwelike gesond is en kortisolvlakke laag is, moet albei maats ná werk afskakel, ouerskapsverantwoordelikhede gelyk verdeel en huistake deel. Dít, tesame met gesonde konflikoplossing, is waarskynlik die sleutel tot ’n gelukkige huwelik. “Wanneer paartjies bymekaar kom, is een van hul grootste take om ooreen te stem oor konflikoplossing. Niemand word opgelei om dit te doen nie. As hulle ouers goeie voorbeelde was, kan hulle dié naboots, maar gewoonlik is die paartjie oningelig oor die proses van konflikoplossing. Die belangrikste kwessie is: Wanneer die konflik plaasvind, hoe los jy dit op?

Promosie

Die vraag is: Hóé baklei jy?

Navorsing toon dat dit nie gaan oor óf ’n paartjie baklei nie, maar oor hóé hulle baklei. Dit gaan oor stemtoon, houding, woordkeuse en of daar geluister word of nie, meen ’n artikel in die Wall Street Journal. Op die webtuiste newsroom.blog.cnn.com skryf Kim Leatherdale, ’n bekende verhoudingskenner: “Die punt is: Hóé jy baklei, is belangrik. Tensy een of beide van julle jul gedagtes en gevoelens voortdurend opkrop, sál julle oor dinge verskil (en ja, opkrop is ongesond). Julle kan verskil, die verskil bespreek en selfs ooreenkom om te verskil terwyl julle mekaar bly respekteer. Ek dink die grootste fout wat mense maak, is om te dink dat baklei ’n verskriklike oorlog beteken. As dit is hoe julle rusies sien, dan is dit nie gesond vir jou, jou maat of jul verhouding nie. As baklei beteken om te verskil, by die kruks van die saak uit te kom en agter te kom waar julle albei staan – op ’n respekvolle manier – dan is dit gesond.”

Sheri en Bob Stritof skryf op about.com: “Om regverdig te baklei met respek vir mekaar, is ’n kritiese huweliksvaardigheid wat jy moet aanleer.” Hulle meen dat hóé mense baklei vir sielkundiges meer kan vertel as waaroor hulle baklei. As dit reg gedoen word, kan dit ’n huwelik selfs versterk, sê hulle. Die sleutel tot ’n gelukkige huwelik is dus onder meer gesonde konflikoplossing, wat beteken om uit te druk presies hoe jy voel. Een van dié belangrikste dinge sover dit argumentering aangaan, is dat elke persoon moet weet daar word na hulle geluister om hul punt oor te dra. Deur só te baklei, is ’n paartjie gelukkiger (en gevolglik minder geneig om te skei).

Watter juffer is jy?

Die gesinsterapeut Virginia Satir het vyf maniere geïdentifiseer waarop mense kommunikeer wanneer hulle verskil:

1. Mevrou Olga Ooreenstemmend:
Jy skroom nie om op ’n reguit, eerlike manier met jou maat te praat nie. Tog bly jy respek teenoor hom betoon. Jy sê wat jy regtig voel en dit is ook wat deur jou lyftaal gereflekteer word. In plaas daarvan om te sê: “Jy luister nooit wanneer ek praat nie!” sê jy eerder: “Ek voel soms asof ek teen mure vaspraat.”
2. Mevrou Beatrice Beskuldigend:
Gewoonlik begin jou aanval met iets soos: “Jy neem nóóit my gevoelens in ag nie!” of “Jy onthou nóóit om die vullissakke uit te neem nie!” Jy val manlief aan omdat hy anders dink as jy en jy skroom nie om hom op ’n harde manier te kritiseer, uit te skel en hom sommer met ’n houtvaas by te dam nie!
3. Mevrou Vanessa Versoenend:
Solank jy die vrede kan bewaar, is jy dolgelukkig. Jy stem saam met wat ook al jou man van jou wil hê. As hy dink dat hy na werk ’n koue bier verdien terwyl jy die kinders met hul huiswerk help, beaam jy dit – al voel jy binne-in asof jy wil ontplof.
4. Mevrou Riana Redelikheid:
Jy ontken manlief se gevoelens deur dikwels tough love toe te pas. As hy ongelukkig is oor iets in die huis, sal jy sê: “Ag kom nou, dit is nie so erg nie.” As hy effens depressief voel, is jou woorde: “Ruk jou reg, die Tweede Wêreldoorlog was erger.” Jy het dalk die beste intensies, maar dit voel vir hom asof jy sy emosies misken.
5. Mevrou Irma Irrelevant:
Jy reageer nie direk teenoor hom wanneer julle verskil nie. As hy weer een van daardie onderwerpe aanroer wat jy liefs sal wil vermy, maak jy ’n grappie of verander die onderwerp.

So, hoe affekteer die verskillende kommunikasie-verskilstyle ’n verhouding? Paartjies wat op ’n ooreenstemmende manier kommunikeer, is geneig om ’n huwelik te hê wat floreer. Omdat hulle konflik respekvol hanteer, voel hulle goed oor mekaar en oor hul vriendskap. Konflik is normaal in enige huwelik. Huweliksmaats bou vertroue en intimiteit deur hul sienings eerlik, verantwoordelik en respekvol oor te dra. Hierdie soort kommunikasie is ’n sleutel-bestanddeel vir ’n langdurige huwelik.

16 Riglyne om jou te help om regverdig te baklei

1. Loop jou vrees vir konfrontasie trompop.
Is jy een van daardie mense wat konfrontasie vermy? Jy het dalk grootgeword met die idee dat konflik vernietigend is. “Paartjies wat op dié manier dink, is vasgevang in ’n siklus van selfveroordeling,” sê pastoor Luke Perry. “Dit is dikwels vanweë ’n verlies aan aanvaarding in die grootwordjare. Wanneer hierdie vrees ’n persoon beheer, kan konfrontasie baie pynlik wees.” Oorwin jou vrees deur te begryp dat die regte manier van konflikoplossing uit liefde plaasvind.
2. Neem verantwoordelikheid vir jouself en jou gedrag.
Dink voor jy iets sê of doen en erken as jy ’n fout gemaak het. Moet jou maat nie vir alles die skuld gee nie. As jy sonder brandstof gaan staan het omdat manlief die laaste keer met jou kar gery en die laaste brandstof uitgery het, is dit nie alleenlik sy skuld nie. Dink daaraan voor jy soos ’n tiran te kere gaan. Dit was jou verantwoordelikheid om te kyk of die tenk vol is.
3. Bespreek die konflik so gou as moontlik.
’n Irriterende kwessie wat toegelaat word om te broei, skep emosionele afstand tussen jou en jou man. Dit sweer soos ’n splinter onder ’n mens se vel. As iets jou pla, konfronteer dit dadelik. As dit jou onverdeelde aandag verg, kies ’n tyd wanneer julle alleen is, en as dit moet, vra vir alleentyd om die saak op te los.
4. Sê presies wat jou pla!
Wanneer jou Adam vir die soveelste keer die botterbakkie vol Marmite smeer, moenie dink: “Ai, ek oorreageer nou seker weer nie. Dit is nie die ergste nie – ten minste maak hy vir homself ’n broodjie as hy honger is!” Deur ’n irritasie te probeer regverdig, gaan dit nie laat verdwyn nie. Jou irritasie sal later na vore kom in die vorm van sarkasme, kritiek of woede. Wanneer jy kies om potensiële konflik oor te sien, laat jy toe dat wrewel broei en jy gee jou maat toestemming om met sy gedrag voort te gaan. Jy hoef nou nie soos ’n matrone te klink nie, maar vir ’n huwelik om op ’n gelyke voet voort te bestaan, moet albei eggenote verantwoordelikheid aanvaar vir hul aksies.
5. Bly by die onderwerp.
“In die meeste huwelike is konfrontasie die geweerlood wat die Derde Wêreldoorlog ontketen,” skryf Simon Presland op die webtuiste lifetoolsforwomen.com. “Verdediging skop in. Aantygings vlieg heen en weer. En teen die tyd wat die stof gaan lê het, het die huweliksmaats mekaar gebombardeer met alles wat gebeur het sedert die dag wat hulle getroud is.” Moenie ou koeie uit die sloot grawe nie. Dit is nie die moeite werd nie! Ou koeie verhoog net frustrasie en verminder hoop. Hanteer een seer punt so gou soos dit gebeur, dan kan dit nie gebruik word as ammunisie in toekomstige gevegte nie.
6. Fokus op jou eie gevoelens.
Wanneer jy praat, sê “Ek voel seergemaak,” of “Dit voel vir my asof . . .” Deur jou eie gevoelens daar te stel in plaas daarvan om die skuld op jou maat te pak, vererger jy net die probleem. Plaas die fokus op hoe jý voel en vermy dit om hom te vertel hoe hy sy persoonlikheid moet verander.
7. As jou maat sê jy doen dit, is dit waarskynlik waar.
As manlief vir jou sê dat jy nes jou ma optree wanneer jy geïrriteerd raak, is jou eerste reaksie dalk om te skuil agter ontkenning. Maar as jou maat sê jy doen iets irriterends, vertrou hom of haar! Kyk verby jou skild en vra hom: “Hoekom pla dit jou?” Luister wat hy sê en probeer sy punt insien – en om te verander!
8. Moenie sy karakter aftakel nie.
Dit is onwys om jou maat se karakter aan te val. Sien die kwessie as ’n probleem – nie jou maat nie. “Dit is hoe God ons hanteer,” vertel pastoor Luke Perry. Hy vertel ons van oneindige aanvaarding, maar konfronteer ons oor sake wat nie in lyn is met Sy Woord nie.” Bly gefokus op die kwessie ter sprake. Dit sal jou help om objektief te bly en jou gedagtes duidelik oor te dra. Moet nooit jou maat uitskel nie. Deur hom lelike name te noem, reflekteer jy jou frustrasie en maak jou maat net verdedigend. As ’n rusie by uitskel uitkom, wen niemand nie. Moet ook nie jou maat slegmaak by jou kinders of enigiemand anders nie. Almal het nodig om soms hul frustrasies uit te laat, maar om ’n vriend, kind of familielid hiervoor in te span, bevoordeel niemand nie. Dit is nie regverdig nie. As jy nie self die konflik in jou huwelik kan oplos nie, kry ’n gesinsterapeut om by af te pak of lees huweliksboeke saam met jou maat.
9. Leer onderskei tussen gevoelens en gedagtes.
Ons gevoelens kom vanuit onsself – nie van ander mense af nie. As jy jou gevoelens aan ander mense toeskryf, verloor jy die reg om dit te besit, te verander of daaruit te groei. Suksesvolle huwelikskonflik-oplossing gaan daaroor om jou emosies op hul plek te sit.
10. Konfronteer met die waarheid. Bevestig met liefde.
Die beste manier om oor iets negatiefs te praat, is om met iets positiefs te begin. “Ek is mal daaroor as jy tyd saam met die kinders deurbring. Dit is vir hulle net so lekker. En dit is hoekom dit vir Melissa so seergemaak het toe jy die hokkiewedstryd gemis het. Hoekom het jy dit nie maar ’n prioriteit gemaak nie?” Dit is een voorbeeld hiervan. Gee jou maat die geleentheid om te reflekteer op die probleem wat jy voorgestel het. Jou maat kom dalk nie agter dat dit wat hy doen jou ontstel nie. En as jy hom ’n kans gee om dinge deur te dink, kan hy/sy jou dalk net verras!
11. Moenie slaan, skreeu, spoeg of gooi nie.
Om fisiek te raak, is heeltemal onaanvaarbaar en daar is geen voordeel in enige gesprek wat so laag gedaal het nie. Om regverdig te baklei in die huwelik, bly in voeling met jouself en jou emosies. Leer om te herken wanneer jou geduld en woede opbou. Leer ken jou beperkinge. ’n Vyf minute breuk van ’n hittige rusie kan wondere verrig. Jou limiet is waarskynlik anders as jou maat s’n. Leer joune (en jou maat s’n) ken.
12. Leer om te luister.
Leer om na jou maat te luister ná jy hom gekonfronteer het. Net soos wat jy gehoor wil word, so wil jou maat ook gehoor word. As daar seergemaakte gevoelens is, wees geduldig terwyl julle hierdeur werk. Wanneer jy jou maat vra om dinge vanuit jou perspektief te beskou, wees bereid om sy kant ook in te sien. Is daar aanpassings wat jy moet maak? Konfrontasie kan ’n geleentheid wees om nuwe dinge oor hom te leer en ’n groter spanbouvaardigheid aan te leer.
13. Haal diep asem.
Dit klink so eenvoudig, maar ’n goeie wenk vir regverdig baklei in ’n huwelik is om asem te haal. Wanneer die meeste mense konsentreer, hou hulle hul asem op. Dit dwing die liggaam om in oorlewingsrat in te gaan. Dit op sigself verminder jou vermoë om te luister. Fokus op jou asemhaling – só kan jy ’n kalm en nugter bespreking hê wat daartoe sal lei dat albei geëerd, gekoester en verstaan voel.
14. Konfronteer jou maat om te genees, nie om te wen nie.
Sommige maats sien konflik en konfrontasie as ’n wen-verloor situasie. Een moet as die wenner uit die stryd tree en noodwendig is die ander een dan die verloorder. Om reg te wees, is vir hulle veel belangriker as die verhouding self. Om ’n hartseer kwessie uit te sorteer, gaan egter nie oor wat reg en verkeerd is nie. Jou doelstelling moet nie wees wie wen nie, maar om konflik te herstel en die harmonie in jul verhouding reg te stel. Indien moontlik, moet die oplossing tot ’n probleem albei partye bevoordeel. As albei goed voel oor ’n oplossing, sal dit die emosionele band tussen hulle herstel.
(lifetoolsforwomen.com en Boundaries in Marriage deur Heather McKechnie)

“Deur te leer om regverdig te baklei in die huwelik, is ’n aaneenlopende proses,” sê McKechnie. “Niemand is daartoe in staat om altyd hierdie eenvoudige reël in gedagte te hou nie. Hoewel, met meer oefening en empatie, kan dit ’n integrale deel word van ’n verrykende en toegewyde verhouding.”

Addisionele bronne: marriage.about.com; suite101.com; .ehow.com