Die sesde tuisswangerskaptoets toon dieselfde resultaat as die vorige vyf . . . jy is ongetwyfeld swanger. Onder normale omstandighede sou jy uit jou vel van vreugde wees, maar hierdie is allermins “normale omstandighede”.
As jy 30 jaar gelede aangekondig het dat daar ’n baba in jou baarmoeder broei, sou almal tevrede om jou gekloek het. Dit is nou te sê as daar ’n ring aan jou ringvinger gepryk het… as dit nié die geval was nie, het jy “skande” oor die familie gebring en is die baba óf opgegee vir aanneming óf jy is tot voor die kansel gedwing. Liefde was dus nie ’n onderwerp van bespreking nie, en al wat saak gemaak het, was dat jy “die regte ding” gedoen het. Maar was dit regtig die regte ding? En die regte ding vir wie? Is dit ’n goeie idee om jou tot ’n huwelik toe te wy “ter wille van die baba” as daardie kind in ’n liefdelose ouerhuis gaan grootword? Of is dit jou verantwoordelikheid om só ’n huwelik te máák werk? Moet jy jou kans op liefde en geluk vir ewig prysgee omdat jy een onbesonne nag deurgebring het saam met ’n man wat jy wéét nie goed vir jou of jou kind gaan wees nie? Ons het die hedendaagse scenario uit elke hoek bekyk…
“Vir ons het dinge goed uitgedraai”
Riana was geskok om twee rooi strepies op die swangerskaptoets te sien. Sy was swanger en dit ’n paar maande vóór haar troue met Werner. “Werner was wonderlik. Hy het my dadelik ondersteun. In plaas van weghol, het hy gesê hy wou nog altyd ’n kind gehad het. Ons sou vinnig ná ons troue ’n baba probeer kry het. Waar iemand anders dalk sou uitfreak, was hy opgewonde.”
Die bloedtoetse het die volgende dag haar swangerskap bevestig. “Ek was weer in trane – veral oor wat my pa sou sê – en ek was bang om my ouers daaroor in te lig. Werner was in die sewende hemel van blydskap dat ek wel swanger is. Hy het sommer dadelik van ons vriende begin bel! Ons het dieselfde aand ’n braai gehou om die swangerskap te vier.”
Sy sê sy is seker daarvan dat mense agter hulle rug geskinder het. “Ek glo nie dit maak saak nie. Dis ons verhouding en ons kind. Dit het wel meer finansiële druk op ons gesit. Ons het ’n huis voor ons troue gekoop en skielik moes ons nou vir ’n baba ook voorberei. Ek wens dus vandag nog vir ’n nuwe yskas en baie ander dinge.”
Riana het met ’n klein boepie voor die kansel gestaan, maar sê hulle is elke dag dankbaar vir hul eerste kind. “Ons het ’n baie gelukkige huwelik en het sedertdien nog ’n babatjie gekry. Die kinders doen ons huwelik goed. Om elke aand daardie gesiggies en lyfies in die bed te sien, is prysloos. Dit maak nie saak of dit gebeur het vóór of ná die troue nie.”
“Ons moes nooit getrou het nie”
Mark en Elize was ses jaar saam toe sy onverwags swanger raak. “Ons het lank reeds probleme gehad. Ons het teen die tyd wat sy swanger geraak het, reeds gepraat van uitmaak,” vertel Mark. Hy sê hy wonder steeds of Elize nie opsetlik swanger geraak het om die verhouding te probeer red nie. “Sy was op die pil en daarom het ons gedink dit is veilig. Nie dat ons baie intiem verkeer het nie. Dit is juis hoekom ek wonder of sy nie opsetlik swanger geraak het nie. Dalk het sy geweet dit is die regte tyd van die maand.”
Mark het Elize bygestaan en haar gevra om te trou. “Dit was van die begin af ’n gemors. Ek wou nie meer by haar wees nie en sy ook nie by my nie. Ons het probeer werk aan die verhouding, maar die skade was reeds gedoen. Ek is versot op my kind en sal hom nooit wegwens nie. Ons moes net nooit ter wille van hom getrou het nie.”
Mark reken hy en Elize sou vandag ’n beter verhouding gehad het as hulle nooit getroud is nie. “As ons aan ons verhouding gewerk het as vriende en eerder beplan het hoe ons dit vir ons kind gaan laat werk, sou ons beter af gewees het. Ons is nou besig om te skei en dis lelik. Dis ’n bakleiery en ons kind sit in die middel. Ek wens dit vir geen kind toe nie. Hy bly vir my die belangrikste.”
Hulle was reeds vir berading, vertel hy. “As die verhouding verby is, help berading nie. Ek klink dalk negatief, maar ons is regtig nie meer lief vir mekaar nie. Ons is twee mense wat ’n kind saam het. Dis nie die moeite werd om jouself en jou familie deur ’n trouery en dan ’n egskeiding te sit net omdat jy ’n kind saam het nie. Dis altans hoe ek daaroor voel.”
“Ek het ’n ander opsie oorweeg”
Susan is ’n enkelouer van ’n eenjarige seuntjie en sê dis meeste van die tyd ongelooflik moeilik. “Ek het swanger geraak nadat ek en die pa slegs vier maande saam was. Hy het ’n kind by ’n vorige meisie van hom ook. Hy wou niks met my en die kind uit te waai hê nie.” Sy is alleen deur haar swangerskap.
“Ek het ’n aborsie oorweeg, ja. Ek dink enigiemand wat swanger raak sonder om getroud te wees, oorweeg dit in haar onderbewussyn. Dit is te danke aan my ouers se ondersteuning dat ek nie daardie roete gevolg het nie. Hulle het my dadelik ondersteun.” Dit was baie moeilik nadat die baba gebore is, want sy moes alles self doen. “Ons woon by my ouers, maar die versorging van my baba is steeds my verantwoordelikheid. Hulle staan nie in die nag op om my baba te vat as hy nie wil slaap nie. Ek het nageboortelike depressie gekry en het gesukkel om te borsvoed. My baba was baie keer siek en het al ’n paar keer in die hospitaal beland. Elke keer is dit net ek wat na hom omsien. Gewoonlik is dit juis die kere wat my ouers weg is vir die naweek dat hy siek raak.”
Alhoewel die pa van die baba aanvanklik niks met haar en die baba te doen wou hê nie, is sy nou in ’n onderhoud-geskil met hom betrokke. “Hy maak nou aanspraak op ons kind. Hy het nog nooit belanggestel nie en nou wil hy hê ons kind moet by hom gaan bly! Dit is alewig ’n gesukkel. Hy het nog nie ’n sent bygedra tot die onderhoud van ons kind nie. Ek sal veg tot aan die einde om my kind by my te hou!”
Wat sê die samelewing?
Een van die grootste verskille tussen buite-egtelike swangerskappe vandag en 20 jaar (en langer) gelede is die feit dat daar vandag baie meer openlik oor die onderwerp gepraat word as voorheen. Dit wil ook voorkom asof die huidige generasie anders daarna kyk. Wat wonderlik is, is die feit dat daar deesdae (na die aanvanklike skok) dikwels fees gevier word oor die baba se koms, soos in Riana en Werner se geval. Dit is, ná alles, ’n groot seëning en bitter belangrik dat die kindjie in hierdie wêreld verwelkom moet word!
Vroeër jare was buite-egtelike swangerskap byna ’n vloekwoord en ’n skande vir die familie en veral ’n klad op die swanger meisie se naam. Hoewel die samelewing ongetwyfeld meer verdraagsaam geword het, is ongehude swangerskap steeds iets wat die wenkbroue laat lig en gewoonlik die betrokke ouerpare van die ongehude paartjie skok.
Die media en bekendes laat ongehude swangerskap (en sogenaamde “liefdesbabas”) al baie meer algemeen lyk, hoewel dit steeds nie iets is wat sommer net goedsmoeds aanvaar word nie. In plattelandse gemeenskappe is dit beslis ook moeiliker as in die stad, waar jy meer anoniem kan rondbeweeg. Ongehude swangerskap bly ’n omstrede saak en daar word dikwels betwis dat die ma soms swaarder ly onder verwerping as die vader van die kind.
Die moontlikhede wat die samelewing daar stel:
Daar is hoofsaaklik vyf opsies wat ongehude swanger paartjies in Suid-Afrika oorweeg:
Die ouers kan die kind binne ’n huweliks- of saamwoonverhouding grootmaak. Beide kante van dié munt kan problematies wees. Vroeër jare was dit baie meer algemeen om te trou (die sogenaamde “móét-troue”) en ’n swangerskap is dikwels geheim gehou totdat daar dan uit die bloute enkele maande ná die troue ’n baba opgedaag het. Deesdae is paartjies meer lugtig vir trou en die baba word dikwels eers in ’n saamwoonverhouding grootgemaak met ’n troue wat eers ’n jaar of later (indien enigsins) volg.
Die kind kan deur ’n enkelouer grootgemaak word. Enkelouerskap was voorheen minder algemeen, hoewel dit voorgekom het in gevalle waar die pa dalk weggegaan het en die ma van die kind dan óf na ’n tehuis vir ongehude moeders gestuur is óf die kind grootgemaak het met die ondersteuning van haar ouers of ander goedgesinde familielede. Vandag is enkelouerskap baie meer algemeen, hoewel die meeste enkelouers onderhoud van die ander party eis aangesien enkelouerskap groot finansiële druk meebring.
Die baba kan vir aanneming opgegee word. Aanneming was nog altyd ’n sterk en gewilde opsie vir ’n ongewenste swangerskap. Vroeër sou ongehude moeders nie altyd amptelik deur die welsyn die baba laat aanneem het nie, maar familie van die ongehude paartjie het soms die baba grootgemaak as hul eie kind. Daar is tans lang waglyste van hoopvolle paartjies wat graag babas wil aanneem, plaaslik sowel as internasionaal. Aanneming bly een van die beste opsies indien die paartjie nié self die baba kan of wil hou nie.
Die kind kan moontlik eers (tydelik) in pleegsorg geplaas word. Pleegsorg is nie ’n permanente oplossing nie en is voorheen meestal net deur nabye vriende of familie gedoen totdat ’n ander oplossing gevind kon word. Pleegsorg is steeds nie ’n permanente of algemene oplossing nie. Aanneming word in só ’n geval meestal eerder oorweeg.
Afhangende van die morele beswaar al dan nie, kan ’n aborsie oorweeg word. Aborsies was vroeër iets waaroor daar skaars gefluister is. Aborsies was toe nog onwettig in Suid-Afrika en ongehude moeders moes dit (onwettig) in die buiteland of in ’n Afrika-buurland laat doen. Met die wettiging van aborsies in Suid-Afrika is dit ’n baie meer algemene opsie as voorheen, maar daar is steeds baie sterk morele teenkanting teen die beëindiging van ’n lewe. INTIEM neem ook sterk standpunt teen aborsie in. Dit mag dalk nou vir ’n jong ouer na die enigste opsie lyk, maar die nagevolge is ewig en daar is soveel ander moontlikhede wat ’n onbeplande kind ’n kans op geluk gun en by die ma nie ’n ewige letsel van skuldgevoelens gaan laat nie.
Moet jy trou of nie?
Wat egter in dié artikel ter sprake is, is die huwelik (met ander woorde opsie nommer een). Móét jy daardie roete stap, of nie? Moet ’n paartjie wat onbepland swanger geraak het trou ter wille van hul ongebore kind of nie? Dr Charlene Lauff, ’n sielkundige van Kimberley, sê die antwoord is ’n onomwonde nee. “’n Mens trou slegs wanneer twee mense lief genoeg vir mekaar is en voel hulle hoort by mekaar.” Geen kind kan ’n huwelik red of verseker dat twee mense ’n lewe saam kan bou nie. As jy om die verkeerde redes trou, loop dinge gewoonlik skeef en lei dit tot groter hartseer.”
Charlene beklemtoon dat enige vrou wat buite die huwelik seksueel aktief is, haarself die vraag moet afvra: Is ek gereed vir enkelouerskap? As dié gedagte jou nie afskrik nie, maak net seker dat jy dit werklik alleen kan doen, veral in terme van finansies en ’n goeie ondersteuningsnetwerk. Wat gebeur met jou kleinding as jy weer moet begin werk? Wie gaan jou help as jy soms net te moeg en uitgeput is om uit die bed op te staan?
“’n Kind is eintlik twee mense se verantwoordelikheid en dis moeilik om die vrag alleen te dra as jy nie ’n behoorlike ondersteuningsnetwerk het nie. Wees vooraf eerlik met jou maat en bespreek die moontlikheid van swangerskap. Daar moet geen onduidelikhede of verwagtinge deur enige party wees nie.” Wat dink hy byvoorbeeld van aborsie? Hou hy van kinders? Wil hy graag eendag ’n gesin hê? Is jul verhouding van só ’n aard dat julle lief genoeg vir mekaar is om in elk geval te trou, met of sonder ’n onbeplande swangerskap?
Die groot gom in ’n verhouding is kommunikasie. Soms is ’n mens egter só verlief dat jou hormone met jou weghol voordat julle regtig oor die toekoms gepraat het. Maak die tyd stadiger en kyk ernstig na jul verhouding. As julle reeds seksueel aktief is en jy nie regtig weet hoe hy sal voel as jy swanger sou raak nie, maak ’n afspraak met hom. Kies ’n tyd en plek wanneer julle albei rustig en ontspanne kan gesels. Wees eerlik met mekaar en praat reguit oor jul toekoms. As julle sien dat julle nie regtig raakpunte het nie en oor sleutelkwessies verskil, is daar nie werklik ’n realistiese toekoms vir jul verhouding nie. Jy sal gou weet waar julle met mekaar staan. As jy skrikkerig is om die onderwerp van trou en kinders aan te roer, weet jy waarskynlik beter as enige ander persoon dat jul verhouding waarskynlik tydelik van aard is en dat ’n onbeplande swangerskap ongewens sou wees.
Wat sê die kerk en die wet?
Sedert nuwe wetgewing in 2005 ingestel is, het die biologiese vader van ’n ongebore kind of kinders veel meer regte as voorheen. Volgens hierdie wetgewing sluit ouerregte bepaalde regte én verantwoordelikhede in, soos dat ’n ouer of ouers vir die kind moet sorg, gereelde kontak met die kind moet hê, as ’n voog moet optree en moet bydra tot die kind se onderhoud.
Biologiese ma’s het steeds by verstek volle ouerskap, of sy met die biologiese pa getroud is of nie. ’n Pa het dieselfde regte en verantwoordelikhede as die ma mits hy met haar getroud is, of indien hy met die ma getroud was toe die kind verwek is of tydens die geboorte, of enige tydperk tussen die verwekking en geboorte.
Bogenoemde geld ook indien die pa en ma tydens die geboorte ’n permanente saamwoon-verhouding het, of as die pa suksesvol aansoek doen om as ouer geïdentifiseer te word of vir ’n redelike tydperk geldelik en andersins tot die kind se opvoeding bydra (of probeer bydra). Indien die pa nie as wettige ouer geïdentifiseer wil word nie, moet hy steeds geldelik tot die kind of kinders se opvoeding bydra. ’n Gesinsadvokaat moet enige verskille wat die ouers oor hul regte en verantwoordelikhede mag hê, besleg.
Die Algemene Sinode van die NG Kerk het in 2002 sy standpunt dat seks buite die huwelik nie die Here se wil is nie bevestig, en ’n beroep op sy lidmate gedoen om ’n heilige lewenswandel in dié verband na te streef. Dit beteken egter nie dat die kerk ’n paartjie wat “oor die tou getrap” en swanger geraak het, verdoem nie.
Doktor Ben du Toit van die NG Kerk Sinode van die Wes- en Suid-Kaap sê swangerskappe buite die huwelik is nie ’n swart of wit kwessie nie. Daar is ook nie regtig “amptelike besluite” van die kerk hieroor nie. “Wanneer ’n swanger, ongetroude vrou of paartjie by die kerk raad soek, gaan die leraar nie ’n spesifieke uitweg aan hulle opdring nie. Sosiale strukture en gesinne neem vandag verskillende vorms aan. Die ideale gesin bestaan uit ’n getroude man en vrou, met of sonder kinders, maar dit is dikwels nie haalbaar nie. Enkelouers is algemeen en daar is selfs gesinne waar kinders, byvoorbeeld weens vigs, na mekaar of na hul ouers moet omsien.
“Wanneer ’n predikant só ’n paartjie van raad moet bedien, moet hy/sy deeglik na hulle luister en alle faktore in ag neem. Berading neem in gevalle soos hierdie ’n multidissiplinêre benadering aan: Insette van byvoorbeeld maatskaplike werkers en sielkundiges word verkry. Die idee is om die beste toekoms vir die baba te probeer verseker.”
Die heel belangrikste: Die kind
Uiteindelik behoort ’n paartjie se verantwoordelikheid heel eerste te wees by daardie kind wat, sonder dat hy/sy ’n keuse daarin gehad het, in die lewe gebring is. Aanvanklik gaan dit oor die kind se versorging en beswil, en ’n mens wil sover moontlik daarna streef om hom in ’n huis vol liefde groot te maak. Maar hoe beïnvloed dit ’n kind se lewe wanneer hy of sy uitvind dat mamma eers baby booties en doeke in plaas van ’n trouring en ’n bruidsrok gekoop het?
Volgens Lausanne Hugo, ’n spelterapeut en kinderberader by die Vita Nova Beradingsentrum, sal die impak van ’n “móét-troue” op ’n kind grootliks afhang van hoe die ouers die saak hanteer, asook van die unieke karaktereienskappe van die kind. “Om vir ’n kind te sê dat hy verantwoordelik daarvoor is dat sy ouers moes trou, kan talle negatiewe psigologiese gevolge op ’n kind hê. Kinders kan nie verantwoordelik gehou word vir die keuses en aksies van volwassenes nie en só ’n las moet ook nie op hulle geplaas word nie.”
Wanneer ’n kind vir sy ouers se slegte huwelik geblameer word, ontstaan daar ’n groot moontlikheid dat die kind skuldgevoelens oor sy bestaan kan ontwikkel. Hierdie denke kan lei tot ’n swak selfbeeld, emosionele en gedragsprobleme, en ook sy verhouding later met sy eie huweliksmaat en kinders beïnvloed. Só ’n kind kan ook ’n verhoogde sin van verantwoordelikheid vir sy ouers se geluk ervaar en die huwelik aan die gang probeer hou, selfs al is daar konflik.
Is dit beter vir ’n kind om in ’n huwelik gebore te word, al is die huwelik nie so gelukkig nie?
Indien die verhouding tussen die biologiese ouers nie goed is nie, kan dit verdere trauma by die kind veroorsaak. Wanneer die ouers erge konflik beleef, gaan hulle sukkel om hulle rolle as verantwoordelike ouers te vervul. Die kind gaan grootword in ’n spanningsvolle omgewing en verantwoordelik voel vir sy ouers se ongelukkigheid.
“Met die implementering van struktuur en voorspelbaarheid kan biologiese ouers veiligheid vir kinders skep sonder om getroud te wees,” sê Lausanne “Trou vir die regte redes en maak seker dat die huwelik sterk en gesond is. Indien biologiese ouers besluit om te trou, is dit hulle verantwoordelikheid om ’n sterk huwelik te bou en om ‘pa te staan’ vir hulle keuse.”
Hoe laat jy jou kind goed voel oor sy situasie?
Die ideaal sou wees dat, indien jy en jou maat onbepland swanger raak, julle só lief is vir mekaar dat julle trou, ongeag die swangerskap en nie as gevolg van die swangerskap nie. Eendag gaan julle dalk ’n paar ongemaklike vrae moet beantwoord. Moenie aan die kinders verduidelik dat hulle die “rede” is waarom julle moes trou nie. Dit is onregverdig en veroorsaak gevoelens van verwerping. Indien hulle dit weldra uitvind, verduidelik aan hulle dat dinge nie altyd gebeur soos mens dit beplan nie. Help hulle om te verstaan dat alle kinders spesiale geskenkies van God is, maak nie saak hoe en wanneer hulle gebore is nie, en dat mamma en pappa oneidig lief vir hulle is.
Uiteindelik is ’n onbeplande swangerskap juis dit – onbepland. En dat dit ’n paartjie se lewens tydelik gaan verontrief is waar, omdat dit nie by hul huidige planne “inval” nie. In ’n ideale wêreld sou paartjies nie buite-egtelike seks hê nie en ás hulle wel seks het, sou dit met ’n maat wees met wie hulle bereid is om die res van hul lewens deur te bring. Ongelukkig leef ons in ’n tydsgees waar dit nie meer die geval is nie.
As jy onbepland swanger geraak het, kyk mooi na die pa van jou kind en besluit of jy hom liefhet en ’n huwelik met hierdie persoon kan laat werk. As julle onseker is, gaan sien ’n terapeut wat julle kan help om die besluit te neem en, indien julle wel besluit om te trou, julle kan help met huweliksvoorbereiding in hierdie ongewone omstandighede.
Wanneer jy jou besluit moet neem, wees heeltemal eerlik met jouself. Jy het dalk nie nou geld vir die droomtroue wat jy altyd wou gehad het nie (daardie geld gaan vir babawiegies en stootwaentjies), maar is dit ’n rede om jou kind pa-loos te laat grootword?
Terselfdertyd dink jy dalk aan jou gevoelens jeens die pa en dink dalk: Daar is absoluut niks in gemeen tussen ons nie. Jou besluit om nié te trou nie, voel miskien op die oog af vir jou selfsugtig, maar as jy nou reeds weet jy gaan ongelukkig getroud wees, wil jy hê die kind moet die slagoffer van ’n liefdelose huwelik wees?
Oorweeg jou opsies, stel vas wat die ware redes vir jou besluit is, praat met die mense wat jou liefhet en berus by die feit dat jy ’n besluit neem wat uiteindelik jou kind sal bevoordeel en dat alles deel van God se plan vir jou is – ook hierdie babatjie vir wie jy oneindig lief sal wees.
Handige nommers Die Pregnancy Help Network (Africa Cares for Life) help om jou leiding te gee rakende jou onbeplande swangerskap: https://pregnancyhelpnetwork.org.za/.
LifeLine Suid-Afrika is ’n 24-uur krisis-intervensiesentrum. Dit is ’n “emotional first-aid station” en hulle bied gratis, vertroulike telefoniese berading, verkragtingsberading en traumaberading sowel as ander dienste. Skakel hul hulplyn by 011 715 2000 of besoek hul webtuiste by www.lifeline.org.za.
As julle onbeskermde seks of onbeplande seks gehad het, is daar ’n gratis 24-uur hulplyn beskikbaar met inligting oor noodkontrasepsie en waar jy dit kan kry. Die noodlyn se nommer is 0800 246 432.
Famsa ondersteun families in stresvolle situasies en bied berading en opvoeding om die huwelik en ander gesinsverhoudings te versterk. Famsa het kantore landwyd. Soek aanlyn vir die webtuiste en kontakbesonderhede van die FAMSA tak naaste aan jou.
Een van postnatale depressie se oorsake is ook onbeplande swangerskap. As jy buitengewone depressie ná die geboorte van jou baba ervaar, skakel die Post-Natal Depression Support Association of South Africa se hulplyn by 082 882 0072 / 021 797 4498 of besoek hul webtuiste by https://disabilityconnect.co.za/post-natal-depression-support-association-of-south-africa-pndsa/.
As jy beplan om jou baba op te gee vir aanneming, is daar verskeie bronne aanlyn beskikbaar.
Deur die INTIEM Redaksiespan
Addisionele bronne: jouwereld.co.za, beeld.co.za.