In ‘n artikel wat verlede jaar op ons webtuiste geplaas is, het die mans hul harte oopgemaak en verduidelik hóékom hulle buite-egtelike verhoudings aanknoop. ‘n INTIEM-leser het besluit om op dié redes te reageer …

Promosie

Charmaine Murray (35) staan tans in haar tweede huwelik. Ná haar eerste huwelik het sy “online dating” beproef en – tot haar skok – agtergekom sy is die ‘ander vrou’. Sy het sonder haar wete met ‘n getroude man uitgegaan en dit eers uitgevind ná die man skielik verdwyn het. Hy was in ‘n motorfiets-ongeluk en drie maande lank in ‘n koma. “Sy vrou het ons boodskappe in daardie tyd op sy telefoon gekry en as ek terugkyk op die ervaring, was daar 101 tekens wat ek nie dadelik kon sien en agterkom nie, maar eendag gaan ek nog oor al hierdie tekens skryf.”

Charmaine is weer getroud en tans is sy en haar man op die herstelpad ná ontrouheid van sy kant af. Dit het gebeur op die internet en op geselsforums. “Deur die vyf jaar wat ons saam is, het ek  – soos baie van vandag se vroue – meer truuks gedoen as enige sirkus-apie. Ek het dinge gedoen en gesien waaroor ek eers baie skuldig gevoel het, maar vandag besef ek dat alles wat ek deur moes maak, deel was van ‘n groter plan om ander mense te inspireer en te help om hul huwelike aan God terug te gee. Die enigste persoon wat jou huwelik kan red, is die Here en soms moet ‘n mens eers self die seer ervaar om te kan verstaan watter seer jy veroorsaak het – of ek nou bewus daarvan of nie. Ek is nie spyt of skaam oor my pad nie. Hoe anders kan ‘n mens getuig as jy nie self daardeur is nie…?”

Ná ons verlede maand die artikel “Affairs: Wat sê ons manne?” deur seksuoloog, psigoterapeut, huweliksberader en kliniese hipnoterapeut Elmari Craig publiseer het, het dit Charmaine ernstig geraak en wou sy repliek lewer op die mans se kommentaar. Sy was immers beide kante van die spektrum en kan uit ervaring praat…

Promosie

Wat ek graag vir die manne wil sê …

“As ‘n vrou wat die pad saam met haar man stap, en ‘n vrou wat openlik veg en bid vir elke huwelik om terug te keer na die Here, was ek nog nooit só kwaad en seer na ek dié artikel gelees het nie. Elke vrou wat ek ken – of hulle nou gelukkig getroud is en of hulle in dieselfde bootjie sit as ek – het dit gelees en saam met my die seer en kwaad gevoel. ‘n Buite-egtelike verhouding is verkeerd. Elke man en vrou is deur die Here vir mekaar gemaak om in ál mekaar se behoeftes te voorsien en mekaar in al ons tekortkominge aan te vul. Dit is ons werk om saam daarin te werk, te groei en saam oud te word.”

Charmaine vertel dat niemand die effek van ‘n affair verstaan as hulle nie self daardeur gegaan het nie. “Ons vroue lees artikels soos dié en bly maar net stil. Die wêreld het besluit. Die wêreld het geoordeel. Die wêreld het dit regverdig. Hoe sê ‘n mens in elk geval vir iemand anders dat dit nie net ‘n buite-egtelike verhouding is nie, dit is ‘n reeks verhoudings wat aangehits word deur die beskikbaarheid van massas op ‘swinging sites’ en ‘no strings attached hook-ups’. Watter man erken daardie deel? Watter man erken al die skelm geselsies op Whatsapp en Facebook?”

“Geen vernedering is groter vir ‘n vrou as die skaamte wat sy wegstseek nie. Wat ons doodmaak, is die besef dat dit nie ‘n geïsoleerde voorval was nie. Wat ons doodmaak is om te sit en uitpluis wat eg en waar in ons eie huwelike was. Wat ons doodmaak is die leuens en die antwoorde wat net nooit kom nie. Wat ons doodmaak, is die feit dat ons voel ons moet stilbly. Wat ons doodmaak, is om rondom ons te kyk en te sien hoe algemeen en normaal die wêreld affairs maak, asof óns mal en verkeerd is.”

Charmaine meen dat affairs niks met “macho dimensies” te make het nie, en slegs ‘n daad van selfsug is. Dit is om jou rol as hoof van jou gesin te ontken. En mans vertel so maklik vir ander wat in hul huwelike en by hul vroue ontbreek (maar nooit vir hul vroue self nie), tot dit te laat is. Elke tipe verhouding vat ‘n stukkie van jou vrou af weg. Elke whatsapp-geselsie. Elk gesprek met jou vriende op die gholfbaan oor jou ‘oorwinnings’ vat ‘n stukkie van jou vrou weg.” Charmaine ‘antwoord’ op elkeen van die manne se redes…

AAN ANTON, 46. (“Die huwelik is te voorspelbaar…”)

’n Voorspelbare huwelik kan bínne die huwelik opgelos word, deur self onvoorspelbaar te wees. Hoeveel gedaanteverwisselings het jý tydens jou huwelik ondergaan? Dit is ook glad nie lekker vir ‘n vrou om te weet dat hy elke Maandagaand van 19:15-19:30 voor die spieël staan om sy neushare te snoei en Dinsdagaand sy skurwe hakke skuur voor hy in die bed klim nie (Nee, hy tel nie die neushare en voetskummel op nie). Raai wat? Ons is lief vir julle ten spyte van. So, wanneer sy dieselfde klere en style dra en jy haar komplimenteer terwyl jy in jou kop wens sy wil iets anders probeer, is dit jou skuld. Verras haar met koopbewyse en make-overs met ‘n nota wat sê: “Dankie dat jy ‘n leeftyd van eenvoud en herhaling saam met my bestee. Gaan en geniet ‘n nuwe avontuur vir die dag en wees waaghalsig. Jy verdien dit!”

AAN HENK, 39. (“Die vonk en romantiek ontbreek”)

Hoeveel lekker dinge was jóú idee? En hoeveel keer was jou antwoord: “Ons kan doen net wat jy wil?” Gaan lees deur al jou ou Whatsapp en e-pos gevegte – daarin lê baie antwoorde. Wanneer mens iets moet regverdig, lees jy dit mis. Dit is nie net jou vrou se werk om romanse en vonk te bring nie. Hoeveel keer het jy skelmpies die kar gelaai met ‘n “ry gou saam met my” net om haar te verras met ‘n piekniek op ‘n afgeleë plek om net weer te kan opvang? Of het die beplanning van so ‘n idee vir jou oorweldigend gelyk?

AAN DANIE, 49. (“My vrou verstaan my nie”)

Sy verstaan jou waarskynlik nie, omdat sy voel sy ken jou nie meer nie. As jy sê jy is die broodwinner, neem ek aan sy werk nie? Of dat jy haar salaris as minderwaardig beskou. Jou groei het baie buite die huis gebeur. Hoeveel het jy gewerk? ‘n Vrou is nogal geneig om minder ondersteunend te wees as werk of enigiets anders meer gewig dra as haar huwelik of gesin. Jy het dalk tred met haar verloor. Het jy haar elke stap laat voel sy is deel van jou groei? Het sy gevoel julle groei saam as een in alles wat julle doen? En hoe gereeld het jy in ‘n geveg geskree en haar herinner aan die feit dat jý die broodwinner is? Al is ‘n vrou ‘n huis-mamma, wil sy steeds deel wees van alles in jou lewe en moet jy haar dieselfde tipe belangstelling en ondersteuning gee as wat sy vir jou gee – al is dit wanneer sy ‘n koek vir die kerk bak.

AAN MORNÉ, 41 (“My vrou stel nie in my belang nie”)

Dit is ons plig teenoor mekaar om tyd te maak vir mekaar. Ons is geneig om skuldig te voel wanneer ons iemand afskeep – en dan vermy ons mekaar omdat ons nie wil erken ons is verkeerd nie. Ons is bang om te sê ‘jammer’, want ons voel dit wys swakheid. Maar weereens maak ander verhoudings dit nie reg nie. Dit vererger dinge net. Ek was self skuldig daaraan om my man af te skeep. Soms is die beste antwoord om net te gil: “Stop!” Bring allles tot stilstand en kry haar aandag sonder om haar te beledig. Vind uit hoekom sy so ver van jou af voel. Sê vir háár hoe jy voel, nie vir iemand anders nie.”

AAN PIETER, 56 (“My vrou se prioriteit is die kinders”)

Dit maak my hartseer om dié te lees. Ons vergeet so gou die pappas se rol en ek moes self met my tweede huwelik leer dat ons ons mans eerste moet plaas en ons kinders daarná. Dit is hoe die Here dit beplan het. Waar anders moet ons kinders leer hoe om ‘n gesonde huwelik te hê en vir hul gesinne te baklei? Die besef in die situasie kom altyd te laat. Ek mag dalk net 35 wees, maar ek het al self gesien hoe moeilik dit dinge maak. ‘n Mens moet aanpas by nuwe omstandighede. In plaas daarvan om te fokus op dít wat julle nie meer gemeen het nie, begin nuut en gaan eksperimenteer met dít wat julle gemeen kan hê. Dit is tog immers hoe dit met ‘n nuwe verhouding ook werk, is dit nie?

AAN SIEBERT, 38 (“My vrou gee my nie erkenning nie”)

Ek is ook al aangespreek as ek met my man snedig geraak het, maar gewoonlik raak ek so wanneer hy my seergemaak het. Ook in die tye wanneer ek voel: “As jy kan, kan ek ook.” Vroue raak nie oornag so nie. Daar is gewoonlik iets wat ons tot daar dryf. As sy wel vanaf julle eerste ontmoeting so was, hoekom het jy met haar getrou en hoekom pla dit jou nou eers? Engelssprekende persone het ‘n gesegde wat lui: “Man up!” Staan vir jouself op. My man (ten spyte van alles) sit my op my plek as ek dit doen. Bygesê: Ek doen dit ook eers ná ek hom uitvang …

AAN KAREL, 44 (“Seks het saai en voorspelbaar geword – die énkele kere wat ons wel seks gehad het”)

Het jy haar gevra (sonder om haar aan te val of vermakerig te wees) hoekom sy nie wil seks hê nie? Vroue onttrek gewoonlik van seks wanneer iets hul pla. Ons sal dit nie net uitblaker as dit oor dieper dinge gaan nie. Mans se oer-oue takt maak dit onmoontlik. Teen watter standaarde is jul sekslewe gemeet? Met wat het jy jou vrou vergelyk? Ek persoonlik weet dat sodra ek moet hoor ons vlammetjie kort ‘n ekstra vonkie, begrawe ek my lus. Diep. Die vraag is natuurlik ook hoeveel vurige verhoudings in jou geskiedenis lê en of jy al per ongeluk laat uitglip het: “Saartjie het dit altyd so gedoen …”

My kommentaar op die ander moontlike oorsake …

  1. Vroue gaan ook deur ‘n middeljare krisis (menopouse). Waar mans s’n emosioneel is, is vroue s’n fisiek én emosioneel: Menopouse. Maar ‘middeljare krisis’ is ‘n term wat daar gestel is sodat mans hul sportmotors kan regverdig. En sommige mans besluit om meer as net ‘n kar in te ruil vir ‘n nuwe model. Ek het my ma deur menopouse sien wostel – Tatum Channing is steeds nie my stiefpa nie!
  2. Persoonlike krisisse: Die Bybel sê ‘n man sal sy ouers verlaat en met sy vrou trou. Twee word een. So, as my man ‘n persoonlike krisis het, is dit my krisis ook – ons is dan een? Ek het my pa afgestaan aan die dood, my man se buite-egtelike verhoudings deurgemaak, my suster sien Abu Dhabi toe trek, finansiële krisisse hanteer … een na die ander. Die laaste slag was my seuntjie wat ‘n operasie moes ondergaan vir sy gebreekte arm. Raai wat? Nog nie een keer het ek gaan kyk hoeveel manne ek kan inryg en hoeveel avonture ek kan beproef nie. Ek het bly bid. Net soos jou vrou vir jóú bid in elke seisoen van jou lewe. Sy gaan saam met jou daardeur, hoekom gaan soek jy buite na iets anders?
  3. Seks maak of breek ‘n huwelik en dit breek veral ‘n huwelik wanneer daar ‘n ander party in die prentjie is. Vir vroue is seks ‘n emosionele ding. As jy dus soos ‘n emosionele klip teenoor jou vrou is, verwag vanaand ‘n klip in die bed. As jy pornografie as maatstaf gebruik, verwag teenkanting van haar af. As jy heeldag met ander mense gesels en nie meer woorde oor het vir jou vrou nie, verwag dat haar belangstelling gaan kwyn.

So, hoe dink ék kan buite-egtelike verhoudings voorkom word?

  • Ondersteun mekaar in alles. Erken mekaar in alles. En gee krediet waar dit jou maat toekom.
  • Kweek ‘n wedersydse gevoel van “ons het mekaar nodig”. Wees diensbaar vir mekaar.
  • Gee jou vrou rustigheid en help haar in die huis – jy sal verbaas wees oor hoe warm die lakens kan word!
  • Stuur jou kinders op ‘n vasgestelde tyd kamer toe. Elke aand moet julle gesels oor die dag se gebeure. Date nights hoef nie gekompliseerd te wees nie.
  • Moenie pornografie kyk nie. Moenie kyk na hoe ander se behoeftes op allerhande webtuistes lyk nie. God het elke man en vrou vir mekaar gemaak – om mekaar perfek te kan bevredig.
  • ‘n Opwindende sekslewe kom van twee kante af. Stoute praatjies wat ander mense en onmoontlike posisies behels, gaan haar laat weghol. Of sy gaan instem uit desperaatheid om haar man te behou en vir maande soos gemors voel omdat sy dit gedoen het. Sy gaan ook voel dat sy nie by jou pas nie, omdat dit nie is waarvan sy hou nie. Pornografie is nie opwinding nie!
  • Wys elke dag vir haar jou toewyding.
  • Onthou dat twee een word. Dat jy en jou vrou saam as een groei. Daar is nie persoonlike ruimte in een persoon nie. As julle nie saam gaan groei nie, sal julle in aparte rigtings groei. As julle as ‘n eenheid optree, sal julle as ‘n eenheid dink en mekaar aanvul in al die groeiseisoene.
  • As jy voel dat jou vrou nie meer so goed lyk nie, probeer onthou wanneer laas sy opgetof het vir jou. Kan jy nie onthou nie? Dit is min of meer wanneer jy opgehou het om haar raak te sien en erkenning te gee. Probeer jy ook om nie as jy van die werk af kom, of oor naweke, nie dadelik in jou pantoffels en onderbroek te verklee nie…
  • “Happy wife, happy life”. Moenie jou vrou afskeep, afkraak, wegstoot nie. Vroue is eintlik maklik om gelukkig te hou. Wees net dáár. Hou haar hand vas en kyk vir haar as sy met jou praat.

Wie se skuld is dit?

As jy die verhouding aanknoop, is dit jou skuld. Niks is só erg dat jy dit nie kan deurwerk of besluit om te skei nie. Niks, maar niks, regverdig die seer van ‘n buite-egtelike verhouding nie. Het jy jou deel gedoen om saam met jou vrou alles deur te werk vóór dit gebeur het? Het jy vir huweliksberading gegaan voor jy die verhouding gehad het? Jy kan nie ná die tyd die skuld wil plaas as jy nie voor die tyd alles op die tafel gelê het en jou vrou die kans gegee het om aan jul huwelik te werk of haarself te verdedig nie. Geen vrou stamp haar man in ‘n ander vrou se arms nie.

Die enigste ding wat buite-egtelike verhouding gaan vermy, is wanneer almal hul huwelik aan God teruggee. Dit was Sy heel eerste verbond. Sy grootste en mooiste geskenk aan Sy kinders. Ons praat te veel met ander mense en te min met God. Die Bybel gee jou elke instruksie vir hoe om die hoof van jou huis te wees. God het seks vir ons gemaak en min mense besef dat seks ook ‘n vorm van danksegging aan God is. Danksegging vir die ander helfte van jou wat nou deel van jou geword het. Danksegging vir liefde wat net God kan skep.

Ons Evas is gemaak om te reageer. So, as jy jou vrou reg hanteer, gaan sy jou reg liefhê. As jy haar veilig laat voel, gaan sy by jou toenadering kry. As jy vir haar sekuriteit gee, sal sy aangetrokke voel tot jou. As sy sien jy is ‘n pa vir die kinders soos God ‘n pa is vir ons, gaan sy smelt nog voor jy kon hallo sê. ‘n Vrou se voorkoms en dade wys wie haar man werklik is.

Artikel deur Annelize Steyn

***

Wil jy seker maak dat jou huwelik hou? Wil jy vir jou kinders ‘n goeie voorbeeld wees van ‘n gelukkige en gesonde huwelik?

Is jy gereed om in jou huwelik te belê?

Is jou moeg vir ‘n lou-warm huwelik?

Besef jy hoe kosbaar jou huwelik is en dat jy voortdurend daaraan moet werk?

Dan is dit nou die tyd om INTIEM / Marriage Capsule 7 stap uitdaging in jou huis te nooi!

‘n Beter huwelik is binne jou bereik KLIEK NET HIER!