As jy een van die vele vroue is wat dink die “perfekte” vrouelyf waarborg ’n fantastiese sekslewe, lê jy die matras ver mis. Al wat nodig is vir gesonde bedsake, is ’n gesonde seksuele selfbeeld. Slaag jy die toets? Lees en vind uit, sê Elmari Craig.

Promosie

Hompe afstootlike selluliet. Borste wat lankal voor die eise van swaartekrag geswig het. Saalsakke, pleks van slanke, sexy heupe. Wat sien jý wanneer jy in die spieël kyk? ’n Onvolmaakte vrou wat nie verdien om liefgehê en geliefkoos te word nie? ‘n Vrou wat weens liggaamlike tekortkominge enige man met weersin eerder as seksuele begeerte sal vervul wanneer sy haar klere uittrek?

Wees getroos as dít werklik is hoe jy oor jouself voel. Die monster is nie die een wat desperaat vanuit die spieël na jou terugstaar nie – wél die ondier in jou kop wat jou wysmaak dat jy nie goed, mooi of begeerlik genoeg is om seksuele plesier te ervaar of gee nie.

Deel van jou seksualiteit

Promosie

’n Gesonde seksuele selfbeeld is ’n belangrike komponent van jou seksualiteit. Elke vrou is ’n unieke wese wat haar seksualiteit op ’n eiesoortige manier beskou, ervaar en uitdruk. Of sy dit op ’n positiewe of negatiewe manier ervaar, hang grootliks van haar seksuele selfbeeld af. ’n Mens se seksuele selfbeeld kan vergelyk word met ’n legkaart met verskillende dele – dit word gevorm deur opvattings oor en ’n ingesteldheid teenoor seks en seksuele plesier, asook deur waardes en beelde wat met jou liggaam en emosies verband hou. Seksualiteit het dus met veel meer as die blote seksdaad te doen. ’n Vrou se seksuele selfvertroue het twee groot vyande: haar liggaamsbeeld en “ideale’’ seks (onder meer veelvuldige gesamentlike orgasmes en eksotiese seksposisies) soos dit daagliks deur die media uitgebeeld word. Boonop leef ons in ’n kultuur wat nog nie heeltemal wegbeweeg het van die idee dat seks iets is om oor skaam te wees en dat dit ’n vrou se plig is om heeltyd seksueel beskikbaar en gereed vir haar maat te wees nie. G’n wonder nie dat ’n baie klein persentasie mense volgens statistieke met hul uiterlike voorkoms tevrede is. Hier te kort, daar te lank. Wat het dan geword van die soort selfvertroue waarmee die aktrise Shelley Winters destyds speels gesê het: “Ek is nie oorgewig nie, net nege duim te kort!”

‘n Demper op jou sekslewe?

Hoewel ’n negatiewe liggaamsbeeld vroue nie noodwendig daarvan weerhou om seksuele verhoudings te hê nie, kan die ontevredenheid en angstigheid oor die idee wat hulle van hulself het, mettertyd ’n demper op hul sekslewe plaas. Om seks te geniet terwyl jy naarstigtelik probeer om ’n sekere liggaamsdeel weg te steek is net so onmoontlik soos om ’n goeie bord kos te waardeer as jy jou neus toedruk terwyl jy eet.

Selfaanvaarding en -liefde – dus jou liggaamlike, emosionele en sielkundige verhouding met jouself – is ’n vereiste vir ’n gesonde, intieme verhouding. As jy goed voel oor jou lyf en jou seksuele begeertes verstaan en as deel van jou (unieke) samestelling aanvaar, kan dit wondere vir jou sekslewe doen. Om dít wat jy jare lank as ’n las beskou het in ’n bate te verander, klink dalk na ’n onmoontlike taak, maar as jy jou ingesteldheid bietjie-bietjie kan omswaai, is dit ’n heerlike uitdaging en ’n haalbare doelwit.

Dit kán verander

Die regte seksinligting en hulpmiddels kan jou lewe verander. Nie net seksspeelgoed nie, maar ook opvoedkundige lees- en kykstof. Ek ken vroue wat hul lewe lank anorgasmies was en vir die eerste keer hul sensualiteit en onderdrukte seksuele vaardighede ontdek het nadat hulle op aanbeveling van ’n terapeut ’n vibrator begin gebruik of op ander maniere begin eksperimenteer het.

Hoe meer vertroud jy met jou eie seksualiteit is – insluitend huidige en vroeëre persepsies en houdings teenoor seks – hoe meer selfversekerd en suksesvol sal jy in jou benadering tot seks wees. ’n Klein verandering in jou benadering kan tot ’n ongelooflike deurbraak lei én wondere vir jou selfbeeld doen. As jou seksuele selfbeeld gesond is, kan dit nie anders as om uit te kring en jou algehele selfbeeld ’n hupstoot te gee nie.

Dié wenke sal jou help om die pad na ‘n gesonde seksuele selfbeeld baas te raak:

  • Herinner jouself daaraan dat miljoene mense van alle groottes, vorms en kleure elke dag seks het en dit geniet. Wees realisties. Die meeste vroue het ’n duidelike idee van hoe hulle graag sou wou lyk. Dié idee is oor baie jare gevorm en gaan nie oornag verander nie, maar werk daaraan. Vra jouself af waarom dit vir jou so belangrik is om ’n bepaalde rokgrootte te dra en of dit werklik ’n verskil sal maak as jou bo-arms of bene twee sentimeter dunner is.
  • Jy kan nie jou oë sluit vir die invloed van die media en omringende gemeenskap nie, maar jy kán dit met ’n knippie sout neem. Moenie na ander se slimpraatjies luister nie. As dit jou en jou maat gelukkig maak om drie keer per dag seks te hê, is daar niks mee verkeerd nie.
  • Maak ’n lysie van jou “gunstige’’ liggaamlike eienskappe, soos mooi hande, hare, oë, ens. Vul die lysie gereeld aan. Waardeer ook jou talente – veral dié wat met romanse en bedsake te doen het. As jy die lysie met jou maat deel, is die kanse goed dat hy met nog ’n paar pluspunte vorendag sal kom. Die meeste mans is nie naastenby so krities soos vroue nie.
  • Staan kaal voor die spieël, kyk met aandag na jouself en raak gewoond aan jou eie naaktheid. Soek dié keer sterk punte, pleks van sogenaamde tekortkominge. Waardeer die uniekheid van jou liggaam.
  • Aanvaar komplimente met grasie en gló dit.
  • Kyk ’n slag so krities na ander soos na jouself. Jy sal agterkom dat daar meer “gewone” mense as “perfekte” mense rondom jou is.
  • Begin “groepsterapie” deur jou bekommernisse met vriendinne te deel. Jy sal gou besef dat die meeste van hulle dieselfde onsekerhede ervaar. Gesels ook oor die oorsprong van negatiewe gevoelens.
  • Verbeter jou selfbeeld deur iets te verander wat jou goed laat voel, soos om jou bril deur kontaklense te vervang of ’n  nuwe haarstyl of -kleur te kry.
  • Leer hoe om te masseer – dit sal jou waardering vir jou eie en jou maat se liggaam verhoog.
  • Lees selfhelpboeke oor jou liggaams- en selfbeeld. Min van die huidige generasie volwassenes is as kinders aangemoedig om met hul geslagsorgane vertroud te raak en só in voeling met hul eie seksualiteit te kom. Gebruik ’n  handspieël en leer jouself ken. Eksperimenteer – al beteken dit jy moet ’n paar risiko’s neem. Onthou, seksuele vervulling is ’n gawe, nie ’n sonde nie. Jy verdien en het die reg om seks te geniet en dit vir jou maat genotvol te maak.
  •  Onthou: Jou man se grootste behoefte op seksuele gebied is dat hy wil voel dat hy sy vrou kan bevredig, dat sy seks geniet en aktief deelneem aan die liefdespel. Hy sien dus nie eens die ekstra rolletjie hier en daar raak nie!

Benodig jou seksuele selfbeeld aandag?

Antwoord die volgende tien vrae eerlik:

  • Voel jy gemaklik met naaktheid in die bed?
  • Fantaseer jy soms oor seksuele situasies?
  • Is jy tevrede met jou liggaam en sonder voorbehoud daaroor wanneer jy en jou maat intiem verkeer?
  • Voel jy gemaklik daarmee as die lig aan is tydens seks?
  • Is masturbasie vir jou aanvaarbaar?
  • Sal jy seksuele hulpmiddels gebruik?
  • Trek jy soms sexy aan omdat dit jou meer begeerlik of aantreklik laat voel?
  • Glo jy jou maat sal jou nog net so begeerlik vind nadat jy kinders gehad het?
  • Kan jy seks ten volle geniet, al weet jy die kinders kan julle dalk “betrap”?
  • Glo jy jy verdien om seksueel bevredig te word soos en wanneer dit jou pas?

Uitslae

As jy op agt of meer vrae “ja” geantwoord het, het jy ’n gesonde, positiewe seksuele selfbeeld. As jy op vyf tot aft vrae “ja” geantwoord het, kan jy werk aan ’n meer positiewe benadering tot jou eie seksualiteit. As jy op minder as vyf vrae “ja” geantwoord het, benodig jou seksuele selfbeeld dringende aandag.

Vroue is só geneig om krities – en dikwels oorkrities na hulself te kyk. Hulle is goedhartig teenoor ander, maar nie teenoor hulself nie. Gee om vir jouself en wees lief vir elke sentimeter van jou lyf. Loop kaal in jou huis rond en wéét: Jy is ’n volkome vrou en dít is genoeg om lief te hê.