’n Geskatte 150 miljoen mans wêreldwyd ly aan erektiele disfunksie en minder as 10% soek hulp daarvoor. Dit is egter ’n behandelbare probleem en jou rol as lewensmaat is groter as wat jy waarskynlik dink…

Promosie

“Dit het ons lank geneem om te erken William het ’n probleem,” vertel Diana (48), ’n kommunikasiebeampte van Durban oor haar man se erektiele disfunksie (ED). “Daar was twyfel en selfverwyt aangesien ek bly glo het die oorsaak lê by my.”

In ’n stadium het sy selfs geglo dat William ’n buite-egtelike verhouding het. Die verhouding was op die randjie van die afgrond. Nadat William sy probleem met ’n doktersvriend bespreek het, het hy op dié se voorstel mediese behandeling vir sy probleem begin ontvang. Dit het so maklik geklink. “Ek het geglo hy gaan daardie aand ’n pilletjie pop en dat hy binne oomblikke gereed sal wees vir marathon-seks, maar ek het ’n groot fout gemaak…” Die romantiese aand wat Diana beplan het, was ‘n mislukking en die uiteinde was wedersydse verwyt en ‘n baie lang pad na herstel vir die verhouding. Dit kon egter soveel makliker gewees het as sy van die begin af geweet het wat erektiele disfunksie en die behandeling daarvoor behels…

LIG JOUSELF IN OOR ED: Erektiele disfunksie is die onvermoë om ’n ereksie te kry of lank genoeg te behou sodat seksuele omgang kan plaasvind. Die toestand word nie tot sekere mans beperk nie en elke Adam kan die slagoffer daarvan wees. Bykans alle mans ervaar in ’n stadium van hul lewens ’n voorsmaak van ED aangesien stres ’n groot rol speel by die onvermoë om ’n ereksie te bereik. Dit is egter wanneer ereksieprobleme ’n chroniese toestand word, dat dit as erektiele disfunksie, oftewel impotensie gediagnoseer word.

Promosie

MOENIE DIE PROBLEEM INTERNALISEER NIE: Wanneer dit kom by die vereenvoudiging van ED, speel die media dikwels ’n oorkoepelende rol. Agter die romantiese musiek en glimlaggende paartjie wat eintlik ’n oplossing vir hul probleem gevind het, is gewoonlik ’n verhaal van ’n vrou wat deur trauma gaan omdat sy glo dat haar maat haar nie meer aantreklik vind nie. Dit veroorsaak ’n bose kringloop – haar maat beskou haar seergemaakte gevoelens as ’n aanval op sy probleem, trek terug en só vergroot ’n reeds bestaande kommunikasiegaping die afstand tussen hulle.

WEES BEWUS VAN MOONTLIKE OORSAKE: Vroue glo dikwels hul mans het ’n buite-egtelike verhouding en hul agterdogtigheid is dikwels verdere olie op die spreekwoordelike vuur. Daar kan baie oorsake wees. Hoewel ED as ’n seksuele kwessie beskou word, is fisieke oorsake soos hoë cholesterol en diabetes dikwels die kern van hul probleem en kan medikasie wat hierdie toestande behandel, dikwels die toestand verlig.

KOMMUNIKASIE IS NOODSAAKLIK: Onthou dat, as die maat van ’n man wat aan impotensie ly, jou rol onontbeerlik is om seker te maak jul verhouding bly gesond en bevredigend. Kommunikasie is uiters belangrik en dit is nodig vir jou om sáám met jou maat hierdeur te werk. Dit help nie om die probleem te ontken nie. ED kan sy tol op selfs die sterkste verhouding eis.

ERKEN DIE PROBLEEM: Om te erken dat hy ’n probleem het, is ’n goeie begin. Deel jul gevoelens met mekaar en bring enige negatiewe emosies wat julle koester, in die ope. Onthou dat ’n man deur verskeie worstelinge, soos selftwyfel, gaan en ED dikwels as ’n aanslag op sy manlikheid sien. Dit kan vererger hoe langer die probleem voortduur.

ONDERSTEUN HOM VOORTDUREND: As julle erken het die probleem bestaan, kan julle saam soveel moontlik hieroor nalees en ’n afspraak by die dokter maak vir ’n volledige mediese ondersoek. Luister na die moontlikhede en besluit saam met hom op behandeling wat by jul leefstyl gaan pas. Help jou maat om ’n meer gesonde leefstyl te kweek en ondersteun hom deur byvoorbeeld die cholesterol-inhoud in sy dieet te verlaag of hom aan te moedig om op te hou rook.

PRAAT MET HOM DAAROOR: Jou maat moet weet jy verwyt hom nie en hy staan nie alleen in die situasie nie. ED is ’n algemene probleem en geensins ’n weerspieëling van sy manlikheid en begeerte vir jou nie. Herinner hom gereeld daaraan dat dit geensins die einde van jul sekslewe beteken nie en dat, sou die behandeling nie werk nie, daar baie ander moontlikhede is.

BLY PRAKTIES INGESTELD: Hoewel julle gereeld oor jul emosies en gevoelens in die verband moet praat, is dit wys om prakties te bly as dit by die behandeling kom. Bly positief en bespreek daadwerklik wat julle behoeftes is en hoe julle dit gaan vervul. Ondersoek alternatiewe tegnieke om seksuele bevrediging te verkry sonder om jou maat onder druk te plaas. Hou die romanse aan die brand, al kan julle ’n tyd lank nie seks hê nie.

DOEN MOEITE MET JUL SEKSLEWE: As julle gereed is om die seksuele verhouding te hervat, is dit belangrik om die perfekte atmosfeer te skep sonder om hom onder te veel druk te plaas. Doen wat vir julle natuurlik kom en moenie die perfekte aand verwag nie. Kies ’n goeie tyd wanneer die kinders weg is en julle albei tot laat die volgende oggend kan slaap. Onthou dat medikasie nie sonder stimulasie werk nie en dat jy steeds ’n rol moet bly speel om hom seksueel opgewek te kry. Wees bewus van die feit dat julle dit dalk nie die eerste keer gaan regkry nie. Medikasie werk die beste wanneer dit sonder kos en alkohol ingeneem word, so wanneer jy ’n intieme kersligete beplan, eet vroeg genoeg sodat daar tyd is vir die medikasie om sy werk te doen.

Leer mekaar seksueel van voor af ken en onthou om intimiteit, toegeneentheid en humor deel van die verhouding te maak. Moet egter nooit ’n grap maak oor sy probleem nie. Dit is en bly vir hom ’n sensitiewe onderwerp. Onthou, as dit nie ’n eerste keer werk nie, probeer weer. Daar is wonderlike behandeling beskikbaar. Lig jouself in oor die moontlikhede en weet dat erektiele disfunksie nie die einde van julle eens opwindende sekslewe hoef te beteken nie.

Addisionele bronne: webmd.com en impotence-guide.com