Masturbasie of selfbevrediging kom daarop neer dat die individu sy/haar seksuele behoeftes self bevredig – gewoonlik deur stimulasie met die hand of ’n vibrator. Dit is ’n praktyk wat gewoonlik ontwikkel tydens die seksuele ontwakingsproses gedurende die puberteitsjare. Dit word deesdae deur seksuoloë, predikante en ontwikkelingsielkundiges gesien as deel van die normale seksuele ontwikkelingsproses by die mens.
God het ons as seksuele én emosionele wesens geskape. Indien hierdie normale drange onderdruk word, kan dit moeiliker wees om die alledaagse versoekinge wat ons pad mag kruis, te weerstaan. Baie Christene ervaar egter steeds onsekerheid oor masturbasie. Tradisionele uitsprake hieroor was gewoonlik negatief en skep vandag nog vir baie mans en vroue onnodige skuldgevoelens.
Masturbasie as sulks is egter nie verkeerd nie. Genesis 38:9 is in die verlede gebruik om masturbasie as sonde te tipeer. Prof. Hennie Stander en Dr. Renier Holtzhausen verwys egter in hulle boek, God makes sex great, juis na hierdie teks. Onan se broer Er, is dood voordat hy en sy vrou Tamar kinders gehad het. Volgens die gebruik van daardie tyd, het Juda sy seun Onan gevra om Tamar swanger te maak om kinders vir sy oorlede broer te verwek. Onan het egter van die onttrekkingstegniek (coitus interruptus) tydens orgasme gebruik gemaak om te voorkom dat Tamar swanger raak (Genesis 38:9). Dit was nie die feit dat Onan die onttrekkingstegniek gebruik het wat God as sondig beskou het nie, maar eerder Onan se selfsugtige redes hiervoor. Dit was naamlik dat enige kinders wat uit hierdie verbintenis verwek sou word, ook van sy vader Juda sou erf, en dus Onan se erfporsie sou verklein.
Baie Christene het hierdie verhaal egter geïnterpreteer as dat Onan gemasturbeer het en daarvolgens is masturbasie as sonde veroordeel. In sy boek, Dit is tyd dat Christene anders dink en praat oor seks, stem Ralph Barnard saam dat masturbasie nie verkeerd is nie. Masturbasie word dus gesien as deel van die normale ontwikkelingsproses by die mens en selfs as ’n noodsaaklike voorbereiding vir ’n gesonde sekslewe op ’n later ouderdom. Dit is dus uiters noodsaaklik dat ouers nie ’n negatiewe houding oor masturbasie sal inneem nie, en nie sal oorreageer wanneer kinders masturbeer nie. Dit kan later katastrofiese gevolge inhou in terme van hulle normale seksuele funksionering as volwassenes.
Ouers kan die boodskap oordra dat seksuele drange normaal is en dat self-ontdekking van die geslagsdrang eerder met verwondering gepaard moet gaan. Vir klein kindertjies het masturbasie nie ’n seksuele konnotasie nie, maar is dit eerder ’n geval van “ek het iets ontdek wat lekker is”. Kinders en adolessente moet dus net daarop gewys word dat dit gedrag is wat nie in die openbaar hoort nie, maar in hul eie privaatheid gedoen moet word.
In vandag se moderne lewe waar seksueel oordraagbare siektes en HIV aan die orde van die dag is, en kinders al hoe vroeër seksueel ryp word, is dit ’n belangrike en veilige manier om hul normale seksuele drange te bevredig. In ’n gelukkige, stabiele huweliksverhouding kan masturbasie ook op verskeie maniere positief aangewend word. Dit vervul ’n belangrike funksie in terme van ’n alternatief tot die tradisionele seksdaad waar die libido, of seksdrang tussen huweliksmaats verskil. Die ideaal is egter dat masturbasie nie as ’n solo-aktiwiteit in die geheim beoefen word nie, maar dat dit as deel van die liefdespel geïnkorporeer word. So kan die seksuele lewe van ’n paartjie verryk word.
Seksuele intimiteit verhoog as huweliksmaats veilig genoeg bymekaar voel om saam te kan masturbeer. Dit mag dalk aanvanklik vreemd voel en klink, maar met oefening kan dit vir beide maats uiters eroties wees. Dit is veral vir mans uiters eroties en stimulerend om te sien hoe hul huweliksmaat haarself bevredig. Masturbasie kan ook uiters waardevol wees in die ontdekking van jouself as seksuele wese, sowel as om jou maat te laat verstaan wat jy eroties en stimulerend vind. Hoe moet hy weet wat vir jou lekker is as jy nie self weet nie…?
Dit kan ook met groot sukses gebruik word as ’n tegniek om voortydige ejakulasie by die man, of ’n onvermoë by die vrou om orgasme te bereik, te behandel. Wanneer ’n man vertraagde ejakulasie het, met ander woorde hy sukkel om te ejakuleer, kan gesamentlike masturbasie effektief gebruik word as voorspel tot penetrasie. Dit is egter belangrik om daarop te let dat masturbasie (soos ook seks in die algemeen) nie as ’n wapen teen die huweliksmaat gebruik mag word nie. “As jy my nié my sin gee nie, is daar nie meer seks tussen ons nie”. Die ander party wend hom/haar dan tot masturbasie met die boodskap: “Ek het jou tog nie nodig nie”. Emosionele intimiteit wat die basis van ’n gesonde emosionele en seksuele huweliksverhouding is, gaan dan tot niet. Die hoogtepunt van seksuele bevrediging kan slegs verkry word deur seksuele en emosionele kontak met jou lewensmaat.
Mites oor masturbasie:
- Masturbasie is sonde
- Masturbasie sal jou hare op jou hande laat kry
- Masturbasie sal mettertyd jou maat vervang
- Orgasmes deur middel van masturbasie is nie dieselfde nie
- Masturbasie is nie regtig seks nie
- Net mans masturbeer
- Masturbasie is ’n seksuele afwyking
- Getroude vrouens behoort nie te masturbeer nie
- Masturbasie is net vir kinders
Artikel deur Elmarie Craig