Wat laat jou tone tintel en jou bloed bruis? Is dit sy glimlag wat sê: “Ek wil jou nóú verower”, of is dit haar boudjies in ’n noupassende rooi rokkie? Turn-on’s is ’n baie persoonlike ding. Hier verklap ons ’n paar verrassende lusmakers . . .
“Dis snaaks hoe dit wat ’n mens in ’n man wil hê, verander namate jy ouer word,” vertel ’n vriendin nou die dag. “Toe ons studente was, was kuite en ’n mooi sangstem my swak. As ’n ou my kon serenade by my koshuisvenster en hy het boonop ’n paar stewige kuite gehad met die wegstap, was ek sold . . . en by sold beteken ek dat hy met my sou kon maak wat hy wil in die hitte van die oomblik!”
Sy het voortgegaan deur te vertel hoe dit verander het namate sy ouer geword het. Sy het met ’n man met ’n paar mooi kuite getrou, maar haar man se sangtalent strek nie ver nie. “Tog, as hy my in die mood wil kry, gaan sy kuite vandag niks vir my doen nie. Dis wanneer hy ons jongste in die bed sit of vir my kyk asof hy tot in my siel wil kyk, wat vandag vir my die truuk doen. Dís vir my ’n turn-on . . .”
Op webmd vertel ’n professor wat anoniem wil bly hoe hy vroeër gegaan het vir die wilde look wat baie vlees gewys het, maar hoe sy turn-on’s verander het sedert hy tien jaar gelede getroud is. “Ons het kinders, so daar is nie baie turning on nie,” spot hy. “Net om tyd saam deur te bring, is ’n turn-on. Dis die intimiteitsperiode. Cuddling het meer kosbaar begin word.”
Seksterpeut Stephanie Buehler vertel: “Mans wil meer toenadering hê soos hulle ouer word. Wanneer hulle jonger is, kan hulle daardie deel oorslaan en tot aksie oorgaan. Maar veral in hul 40’s, 50’s en 60’s gebeur dinge nie meer so outomaties nie en het hulle opwarming nodig.” Vir die meeste mans is ’n vrou wat inisiatief neem, ’n groot turn-on. Maar watter dinge nog? Hier is ’n paar van die minder algemene turn-on’s:
- Hanteer ’n boormasjien. Daar is net iets aan ’n vrou wat self ’n deur kan hang of ’n handsaag met selfvertroue kan hanteer, meen die manne wat weet!
- Maak ’n bobaas skaapboud/trinchado/beesstert. Navorsing toon die reuk van pampoenpastei en laventel verhoog die bloedvloei na ’n man se penis en wek hom op. Dit maak hom ontspanne. Dit help natuurlik as jy kook in net ’n voorskoot!
- Doen joga. Jy voel hoe die sweet jou afdrup terwyl jy jou ledemate in allerlei obskure posisies hou, maar al wat hy sien is sy vroutjie wat al hoe meer buigbaar raak – swaai-aan-die-kandelaar posisies, hier kom ons!
- Bestuur met mening. Mans hou van vroue wat goed bestuur. Nie Driving Miss Daisy nie, maar iemand wat nogal spoed kan geniet en sonder ’n probleem kan parkeer. Sommige mans dink dit wys sy weet wat sy doen én sy is ’n uitdaging!
- Dra wit onderklere. Ja, mooi ragfyn goedjies is goed op die oog, bely die manne, maar wit onderklere sinspeel op onskuld – wat altyd vir mans ’n bekoring inhou.
- Praat in ’n rasperstem. As jy nie geseënd is met daardie tipiese husky stem nie, moet jy miskien maar wag tot jy laringitis het voor jy die charm aandraai! So nie, word wakker en praat met jou “oggendstem” . . . dit behoort die gewenste uitwerking te hê – veral op sy morning glory!
- Dra jou heels. So mal soos ouens dikwels sê hulle is oor ’n girl in jeans en tekkies, so seker kan jy wees dat ’n paar hoë hakke die ding vir hom doen!
- Dra sy hemde. Daar is net iets wat ’n man mal maak van ’n vrou in sy werkshemp of T-hemp. As jy boonop die hemp natmaak, selfs beter!
- Wees avontuurlustig. Manne hou van girls wat kan sweet! So, klim saam met hom berg, spring saam met hom van ’n brug af (aan ’n tou natuurlik) en ry saam met hom fiets. En sweet saam met hom in die bed!
- Gebruik jou humor. ’n Vrou wat kan lag vir haarself is ’n groot turn-on, meen die manne. So, werk aan jou arsenaal grappies of gebruik net jou wit en sien wat gebeur in die slaapkamer!
Natuurlik is daar altyd plek vir die staatmakers, soos rooi onderklere, stywe jeans en sexy WhatsApps, maar dié paar voorstelle behoort jou gedagtes weer op loop te stuur. Gebruik jou eie kreatiwiteit en jy sal nog vele turn-on’s so tussendeur ontdek . . .