Julle trou en seks is opwindend! Julle geniet die op-die-ingewing-van-die-oomblik-kombuisblad-variëteit . . . tot jou voete begin jeuk vir ’n pienkvoet.

Promosie

Wanneer jy en manlief besluit dis nou tyd om regtig ’n babatjie te maak, word seks ’n heel ander storie . . . Skielik weet albei van julle presies wanneer jy ovuleer, wanneer elke dag van jou maandelikse siklus is en wanneer jou menstruasie dalk ’n halwe dag laat – of nog erger – vroeg is. Skielik sê julle dinge soos: “Skat, wanneer is dit nou tyd?” of “Liefie, jy moet huis toe kom – ek dink ek ovuleer. Ons sal dit vandag, môre en oormôre twee keer moet doen!” Alles goed en wel, maar tussendeur dit alles sê niemand “Sjoe ek is nou só lus vir jou!” nie!

Om te probeer swanger raak, beteken julle beweeg in ’n siklus van verwagting en teleurstelling wanneer jy begin menstrueer of wanneer die swangerskaptoets weer negatief is. Seks raak baie maklik ’n meganiese taak, eerder as ’n liefdespel.

Hoe om seks ’n plesier te hou:

Promosie
  • Beplan gereeld om lekker dinge saam te doen wat niks met seks te doen het nie.

– Eet lekker maaltye saam, kyk flieks, doen iets wat julle laat lag, speel en hê pret.

– Vryf jou maat se hande of voete met handeroom terwyl julle sommer deel wat julle op die hart het.

  • Skryf ’n paar dinge wat julle van mekaar waardeer, op ’n stukkie papier neer. Sit die briefies van tyd tot tyd iewers strategies neer vir die ander een om te kry.
  • Leer luister met empatie – sit jouself in jou maat se skoene en luister sonder om ’n mening te vorm of terug te reageer – luister net en vra vrae.
  • Maak ’n seksfles – skryf ook op stukkies papier neer wat jou maat vir jou kan doen en plaas dit in ’n glasfles. Elkeen haal van tyd tot tyd ’n papiertjie uit en voer dít wat daarop staan uit.
  • Maak ’n punt daarvan om romantiese afsprake te reël en gesels dan ook oor:
    • Dinge wat julle na mekaar toe aangetrek het.
    • Die lekkerste seks wat julle met mekaar gehad het.
    • Dinge wat julle van mekaar waardeer.
  • Beplan lekker seks – beraam planne oor maniere van seks hê wat vir julle lekker is en voer dit uit. (Stuur byvoorbeeld vir jou maat al deur die dag ’n boodskap wat sê: “Ek is lus vir seks.” Maak vroeg kos, bly weg van die TV af, bad saam, sit saam en drink ’n glas wyn, gesels – konnekteer. Verlei jou maat met woorde, raak aan mekaar, fluister sexy woorde vir mekaar en eet mekaar stukkie vir stukkie op.)
  • Maak beurte en beplan een keer per maand vir jou maat ’n erotiese verrassing. (Dit moet iets wees wat hy/sy nie verwag nie en buite die stagnante roetine val waaraan julle al gewoond geraak het.) Soos:
  • Stap uit die badkamer uit met net ’n das om jou nek.
  • Wag jou maat in sonder klere op die bed.
  • Kyk of jy jou maat vir 20 minute lank net kan soen.
  • Beplan om nou en dan saam weg te gaan na ’n lekker naweek-wegbreekplekkie – net vir saamwees en spontane seks.
  • Doen dinge saam wat sensueel en fisies intiem is, maar wat nie noodwendig seks is nie. Byvoorbeeld:
  • Lê saam in mekaar se skote in die bad.
  • Vryf mekaar se hande, voete of rûe met room.
  • Sit en gesels met mekaar terwyl julle mekaar se voete masseer.
  • Deel met mekaar julle seksuele fantasieë – per SMS, WhatsApp of in mekaar se ore. Gebruik fyn, sensuele detail . . .
  • Beplan saam om seksspeelgoed aan te skaf. Kry iets waaroor julle albei kan glimlag en waaroor albei opgewonde is (selfs al is dit net ’n veer)!
  • Wees kreatief – probeer iets ander as normaalweg. Dit hoef nie noodwendig ’n ander posisie te wees nie, maar dit kan langer of korter wees as normaalweg of in ’n ander bed (byvoorbeeld die spaarkamer s’n!).

Herinner mekaar gereeld daaraan dat jul verhouding saam ’n reis vol avonture is. Niks langs die pad is ’n aankondiging van die bereik van julle bestemming nie (beslis ook nie ’n swangerskap nie). Dit bly ’n avontuur met draaie, verrassings, uitdagings en kinkels. Herinner mekaar daaraan dat julle kies om dit saam met mekaar te ontdek en te ervaar.

 

Deur Wilme Steenekamp