In dié artikel gee ons jou elke maand tien goeie wenke om die vonke in die slaapkamer te laat spat!
- Seks hoef nie áltyd emosioneel te wees nie. Soms is ’n bietjie witwarm, ongeïnhibeerde, lyflike seks aan die orde van die dag! Daardie rou passie wat nie noodwendig met voorspel gepaard gaan nie en waarvoor soene en mekaar diep in die oë kyk nie ’n voorvereiste is nie.
- Moenie jou kegeloefeninge vergeet nie. Jy weet seker al teen dié tyd hoe om dit te doen? Knyp jou bekkenspiere saam asof jy die vloei van uriene keer. Doen dit ’n paar keer per dag (sommer voor jou lessenaar – niemand sal jou sien nie) en dit sal help dat jy makliker ’n orgasme bereik – en dat jou orgasmes meer intens is.
- Rek soms die plesier uit! Dit gaan wel baie selfbeheersing verg, maar die beloning is groot. Wanneer julle volgende keer in die hitte van die oomblik goed opgewerk en gereed vir ’n orgasme is, stop summier. Staan op, gaan maak koffie en begin van voor af. Uitgestelde orgasme skep spanning, wat uiteindelik op ’n ongelooflike orgasme kan uitloop!
- Wat van vroegoggend-seks? ’n Man se testosteroonvlakke is op hul hoogste tussen 01:00 en 08:00, meen kenners. Wanneer jy hom dus in dié tyd teiken deur seks te inisieer, sal hy sy geluk nie kan glo nie!
- Julle mag maar dan en wan ’n breuk vat! Al ooit in die middel van seks gewens jy kan gou badkamer toe glip omdat jy al ’n halfuur lank knyp, om jou tande te borsel of om jou neus te blaas? Hou dinge gemaklik. Natuurlik kan jy! Daar is niks fout mee om in die middel van seks te stop, jouself gou te verskoon en terug te kom om dinge te hervat nie.
- Is dit weke sedert jul laaste keer en benodig jy moed om dinge te inisieer? ’n Glas wyn kan jou laat ontspan en bydra tot ’n sexy bui, maar maak seker dat jy stop ná een glas – só nie kan dit jou planne lelik laat boemerang. Dit steel jou energie en kan jou vaak maak.
- Hou jou broekie aan! Ook dit kan loutere marteling wees vir beide van julle, maar om daardie “grens” van materiaal daar te stel, kan ook bydra tot die spanning wat julle nodig het om uiteindelik (wanneer die klere wél afgeruk word) vuurwerke te kry!
- Verwissel van spoed. Seks kan maklik eentonig raak, tensy jy bedag is daarop en seker maak daar is genoeg variasie. Een manier om verveling te voorkom, is om die lengte van die seksdaad af te wissel. Daar is iets soos vinnige quickies en daar is iets soos uitgerekte marathon-seks. Albei soorte is onontbeerlik, so maak seker jy werk hulle in!
- Sukkel jy met selfvertroue? Een van die heel beste wenke wat die meeste voorkomskonsultante met jou sal deel vir hoe om ’n paar kilo’s binne oomblikke te verloor, is om jou postuur te verander. Trek iets sexy aan, trek jou skouers terug, jou maag in, jou boudjies uit en siedaar – jy voel goed en jy lyk fantasties.
- Verras liefie met ’n nuwe haarstyl elke nou en dan – suidlangs! Laat waks so nou en dan álles af, of los net die voorletter van sy naam. Jy kan ’n bietjie bedazzle deur aanplak-steentjies te gebruik of selfs ’n tydelike tatoeëermerk onder jou bikinilyn aanbring. Moet dit nooit vooraf aankondig nie – laat hom toe om self die verrassing te ontdek!
Deur Annelize Steyn