Jy kan elke liewe truuk in die boek probeer, as al die toerusting werk . . . maar as jy een of ander “geit” in die suidelike area het, kan jou planne lelik boemerang!
Urienweginfeksies en gisinfeksies is twee van daardie lastighede wat jou sekslewe in die wiele kan ry. As ’n normale, jong vrou is die kanse goed dat jy een of albei hiervan minstens een keer in jou lewe sal kry!
Jip, dis ’n ongemaklike storie wat met ’n gejeuk, ’n gebrand en pyn gepaardgaan, en jy sal óf aan jou dokter se deur moet klop óf ’n roompie of salfie by Mevrou die Apteker moet gaan haal. Een van die eerste tekens van ’n urienweginfeksie is die drang om heeltyd toilet toe te gaan. Maar sodra jy gaan sit . . . uhm . . . wil niks gebeur nie! Dit is ’n aaklige gevoel. Jou uriene kan selfs dof of bloederig wees!
Jy kan ook ’n dowwe pyn in jou lae rug ervaar (die regterkantste gedeelte, waar jou urienweg en niere bymekaar kom). As jy hierdie pyn ervaar, maak dadelik ’n afspraak by jou dokter. As jy dit onbehandeld laat, kan jy ’n ernstige, lewensbedreigende nierinfeksie ontwikkel. Kouekoors en naarheid is verdere simptome van ’n blaasinfeksie.
Wittebroodsiekte en broodjie-in-die-oond kwaal
Urienweginfeksie word dikwels wittebroodsiekte genoem omdat jong bruide en hul vars bruidegomme dit oordoen op eksotiese eilande . . . en menige onbekende dokters moes al besoekende bruide hiervoor behandel! “Begeesterde” seks kan die uretra of blaas kneus (veral in die sendelingposisie!). Dit kan ’n groot teleurstelling vir ’n optimistiese paartjie op wittebrood wees . . .
Sommige vroue ervaar urienweginfeksies wanneer hulle swanger is en dit kom algemeen voor vroeg in die swangerskap, wanneer die uretra ontspan en infeksies makliker versprei. Dit kan ook later voorkom as die druk van die vergrote uterus ’n klein hoeveelheid uriene terughou.
Sommige vroue is ook meer geneig tot blaasinfeksie as ander en onlangse navorsing toon selfs dat dit verband kan hou met jou bloedgroep.
As dit met jou gebeur, weet egter dat dit baie algemeen is. Terwyl sommige vroue dit egter een keer in ’n leeftyd kry, kan dit vir ander ’n langtermyn-toestand wees wat goed beheer moet word. Die geheim is om ’n urienweginfeksie vinnig op te spoor.
Hoekom gebeur dit?
Omdat vroue se uretra soveel korter is as mans s’n, is ons meer geneig om slagoffers te wees. Dit word veroorsaak deur die E.coli-bakterie, wat woonagtig is in die ingewande. Dit word uitgeskei saam met stoelgang en kom voor rondom die anus. Omdat dit so ’n kort paadjie het van die anus tot by die uretra, ontstaan infeksie maklik. Omdat bakterieë dikwels die oorsaak van urienweginfeksies is, is die kanse goed dat jou dokter antibiotika sal voorskryf. En jy kan ’n paar dae se siekverlof score! (As manlief óók in die bed moet bly, maak seker julle span ’n kondoom in, want medikasie kan die doeltreffendheid van jou voorbehoedpil verlaag.)
Ongelukkig is dit só dat antibiotika dikwels álle bakterieë (insluitende die goeie mikrobes wat jou vaginale en inwendige gesondheid beskerm) vernietig. En daarom is daar soms ’n skakel tussen urienweginfeksies en gisinfeksies! Ja, net sodra jy klaar is met die een lastigheid, kom die volgende een voor . . .
Gisinfeksies is ’n ander storie. Pyn en ’n gejeuk aan die vaginale area en labia is algemene simptome. Jy kan selfs ’n dik, onwelriekende afskeiding beleef, soortgelyk aan maaskaas . . . jip, nie ’n lekker gedagte nie! Hiervoor hoef jy egter nie jou dokter in die oë te staar nie, aangesien gisinfeksies sommer in ’n japtrap met medikasie behandel kan word (jy het nie ’n voorskrif nodig nie, maar die skakel tussen gisinfeksies en urienweginfeksies is so algemeen dat jou dokter by voorbaat ’n antifungus-room kan voorskryf).
So, hoe maak jy om hierdie siektes te voorkom?
- Hou jou blaas en uriene gesond deur genoeg water te drink sodat skadelike bakterieë nie vatplek kry nie.
- As jy hou van gefermenteerde kossoorte soos sauerkraut, kan dit jou ook bevoordeel!
- Vermy versoeters (nog ’n goeie rede om suiker uit te skakel!) en as dit herhaaldelik met jou gebeur, oorweeg of jy nie dalk allergies is vir sekere kossoorte nie. Hou ’n kosdagboek om uit te vind!
- Jy is natuurlik ook van jongs af geleer om van voor na agter af te vee as jy klaar geürineer het. Onthou dit, daar is baie waarde hierin!
- Maak seker jy piepie behoorlik! Urineer dadelik en maak seker jy ledig jou blaas behoorlik. Jou uriene moet altyd die kleur van ligte strooi wees.
- Dit is handig om cranberry-sap byderhand te hou (mits dit onversoet en 100% suiwer is!).
- Wat nookie aanbetref . . . dit is ’n goeie gewoonte om direk vóór en ná seksuele kontak te urineer.
- As jy urineer net na seks en baie min uriene word uitgeskei, het jy die “deur” van die blaas oopgemaak sonder om dit behoorlik uit te spoel. Drink ’n groot glas water sodat jy volgende keer behoorlik kan “uitspoel”.
- Ly jy aan kroniese urienweginfeksies? Die rede mag dalk lê agter manlief se . . . eh . . . avontuurlike seksposisies! Deur van posisie te verander, kan jy die wrywing op jou uretra verlig. Eksperimenteer en kyk watter posisies verlig jou infeksie.
- Sekere gegeurde produkte kan ’n urienweginfeksie veroorsaak. As jy agterkom jy is sensitief hiervoor, vermy maar eerder die gegeurde badolies.
- Dra katoen-onderklere of minstens onderklere met ’n katoen-invoegsel. Sintetiese stowwe raak vogtig en skep ’n broeiplek vir slegte bakterieë.
- Hou op met rook. Enough said!
- Los die styfpassende leerbroeke vir die jonger generasie . . . koel, ligte klere sal jou help om “droog” en “lugtig” te bly!
- As jy gaan gym of swem het, trek dadelik jou klam klere uit en trek droë klere aan.
- A jy diabetes het, beheer jou bloedsuikervlakke om jou risiko vir gisinfeksies te verlaag. Hoë bloedsuikervlakke as gevolg van onbeheerde diabetes word ook met allerhande infeksies verbind.
- Herontdek die wondere van jogurt! In die eerste plek is dit ’n wonderlike bestanddeel om in jou yskas te hou wat jy nét so kan eet of mee kan eksperimenteer in disse! Jogurt bevat lewende kulture, oftewel vriendelike bakterieë, wat gisinfeksies kan help voorkom.
- As jy geneig is daartoe om gisinfeksies te kry na ’n kursus antibiotika, gesels met jou dokter oor voorkomende terapie as jy antibiotika kry en maak jou yskas by voorbaat vol jogurt!
- Probeer ’n gebalanseerde, gesonde dieet volg en beheer jou stresvlakke. Nie net hou dit lastige urienweginfeksies en gisinfeksies onder beheer nie, maar dit help om jou imuunstelsel gesond te hou en só allerhande ander infeksies te bekamp.
Deur Annelize Steyn
Addisionele bronne: www.empowher.com/urinary-tract-infection/content/utis-and-yeast-infections-how-know-difference, www.drdeborahmd.com/solutions-urinary-tract-infections, www.webmd.com/women/guide/10-ways-to-prevent-yeast-infections.