Sedert die ontstaan van INTIEM het ons verskeie lesersbriewe gekry van vroue wat beweer dat hulle nog nooit ’n orgasme gehad het nie. Is daar witbroodjies sover dit orgasme aangaan? En is dit werklik so belangrik?

Toe Bernice en Jaco ’n jaar na hul ontmoeting trou, het sy die seksuele teleurstelling op haar wittebrood toegeskryf aan ’n tekort aan ervaring, maar ná etlike maande se getroude lewe (en báie moeite en geduld van Jaco se kant af) het Bernice begin wonder of sy ooit sou voel hoe dit voel om ’n orgasme te hê.

Dit het later ’n obsessie by haar geword, tot só ’n mate dat sy en Jaco huweliksprobleme begin ontwikkel het as gevolg daarvan . . . seks was dan veronderstel om aardskuddend te wees.

Wat is “normaal” as dit kom by orgasmes?

Promosie

In haar boek The elusive orgasm: A woman’s guide to why she can’t and how she can orgasm, skryf Vivienne Cass dat die woord “normaal” haar ongemaklik maak as dit kom by sprake van orgasme, omdat daar – volgens haar mening – soveel verskillende maniere is waarop ’n mens ’n orgasme kan bereik en seksueel kan voel. En dat dit nie soseer belangrik is of jy ’n orgasme kry en hoe gereeld nie, maar wat wel belangrik is, is hoe jy daaroor voel.

Dit gaan beslis eerder oor gehalte as hoeveelheid en syfers is allermins ’n maatstaf vir ’n gesonde en goeie sekslewe, verduidelik INTIEM-medewerker en seksuoloog, Elmari Craig, en Bybelkenner Hennie Stander in hul boek A-Z van Seks. “Dit is veel belangriker om op mekaar se behoeftes ingestel te wees, gekoester te voel, aangeraak te word en in die ware sin van die woord bemin te word.”

Daar is egter baie druk op die samelewing om buitensporige orgasmes (in uitsonderlike vorme) te bereik. Multi-orgasmes, G-kol orgasmes en gelyktydige orgasmes laat talle vroue voel asof hulle net nie die paal in die slaapkamer kan haal nie!

In haar boek, The Dot Spot, skryf Dorothy Black: “Dit wil vir my voorkom asof ons nie ruimte laat vir die wye verskeidenheid orgasmes wat beskikbaar is nie. As daar een ding is wat ek vir iemand sal vertel wat nog nooit vantevore ’n orgasme bereik het nie, sal dit wees dat nie alle orgasmes wilde ontploffings in die lug is nie. Nie almal los jou laggend, huilend of skreeuend nie.

“Orgasmes kan net so teleurstellend wees as wat dit ongelooflik kan wees, en net so vervelig as wat dit lewensveranderend kan wees. Dit kan opbou en jou los in ’n klein poeletjie van ‘Is dit nou dít?’, of dit kan vanaf nêrens kom en jou op die serviks tref soos ’n weerligstraal van Zeus.”

Is ’n orgasme ’n gegewe?

In ’n 2015-studie deur die navorsingsmaatskappy GfK Research het sowat 40% vroue gerapporteer dat hulle klitorale stimulasie nodig het om ’n orgasme gedurende seks te bereik. Sowat 20% vroue het gerapporteer dat hulle deur vaginale penetrasie alleenlik ’n orgasme kan bereik. Die res van die vroue het gesê dat hulle glad nie ’n orgasme deur seks kan bereik nie (of hulle het alternatiewe metodes beskryf vir hoe om ’n orgasme te bereik).

Ja, daar is wel vroue wat rapporteer dat hulle nog nooit ’n orgasme gehad het nie. (Dan is daar ook diegene wat wel al orgasmes gehad het, maar dit om die een of ander rede nie so gereeld kan bereik soos hulle graag sou wou nie.)

“Ten spyte van veranderende houdings teenoor die seksuele en ’n oorvloed wetenskaplike literatuur, is daar steeds vroue wat ’n onvermoë ervaar om orgasme te bereik,” skryf Elmari en Hennie. “Vroue is dikwels skaam hieroor en voel hulle kan nie seksueel ‘normaal’ funksioneer nie, en bly eerder stil as om hul mans moontlik ontoereikend te laat voel.”

Baie vroue soek ’n mediese of hormonale oorsaak vir hul uitdagings, hoewel die meeste oorsake sielkundige en leefstylkwessies behels.

Volgens independant.co.uk toon navorsing dat 43% van vroue ’n mate van probleme gedurende seks ervaar en 12% skryf hul seksuele uitdagings toe aan persoonlike stres. Ander faktore wat orgasme kan bemoeilik, is die gebruik van medisyne of te veel alkohol, vrese of bekommernisse oor seks, ’n tekort aan selfvertroue, hormonale veranderinge, lae testosteroonvlakke, vaginale droogheid, verhoudingsprobleme, anatomie (die afstand tussen die klitoris en vagina) en emosionele of verhoudingspanning.

Laasgenoemde sluit in ’n maat wat onsensitief is, premature ejakulasie en ’n tekort aan kennis van die vroulike liggaam. Ontwikkelingskwessies en persepsies wat gedurende die grootwordjare gevorm word, kan ook ’n uitwerking hê op ’n vrou se vermoë om ’n orgasme te bereik.

Wanneer ’n terapeut anorgasmia behandel, sal gekyk word na gesondheid, medikasie, diepgewortelde idees en vrese en ook tegnieke. As jy dus probleme ervaar om ’n orgasme te bereik en dit veroorsaak spanning in jul sekslewe, oorweeg dit sterk om by ’n terapeut aan te klop.

Maar as jy nie 100% tevrede met joune is nie . . .

Moet jou egter nie laat meesleur deur die mediasirkus se vertoning van seksualiteit nie. As jou sogenaamde G-kol “wegkruip”, as jy en manlief om die dood nie gelyktydig ’n orgasme kan bereik nie, as jy nie tien orgasmes per sessie op jou vingers kan tel nie . . . maak dit jou sekslewe allermins minderwaardig.

Dorothy skryf: “Waar ook al en hoe ook al jy orgasme beleef, is 100% okei.” En ook: “Dit is genoeg om sensuele genot en watter orgasme ook al waarmee jou liggaam jou toevertrou, te beleef. My oortuiging is dat daar verskillende paaie is wat tot orgasme vir vroue lei, waarvan nie een beter of swakker is as die ander nie. Hoe ook al en waar ook al daardie orgasme moontlik is, is regtig irrelevant tot jou persoonlike reis met genot en seks.”

Kommunikeer, ontspan en fokus op dit wat jy wél ervaar, sonder om klem te lê op dít wat jy (dink jy) misloop. “Hoe meer gespanne ’n mens is oor die feit dat jy nie ’n orgasme bereik nie, hoe moeiliker gaan dit wees,” gee Elmari en Hennie raad.

“Probeer ook alternatiewe wyses van stimulasie, soos orale seks en stimulasie met die hand. Voorspel in ’n rustige, intieme en romantiese atmosfeer, tesame met die feit dat vroue hulle liggame moet leer ken en gemaklik moet raak met hulle lywe en hulle seksualiteit, is dus die oplossing.

“Orgasme op sigself behoort egter nie die uitsluitlike doel van intimiteit te wees nie. Gesels dus met jou huweliksmaat oor jou behoeftes, sorg dat die voorspel lank genoeg duur, ten minste 20 minute tot ’n halfuur, en sorg dat jou belangrikste seksorgaan, jou brein, aktief betrokke is by wat met jou en jou liggaam gebeur.

“Onthou, die reis is belangriker as die eindbestemming. Die emosionele intimiteit, nabyheid en koestering wat ervaar word tydens seksuele omgang behoort belangriker as enige orgasme te wees.”

 

Deur Annelize Steyn