Krisisse vorm deel van almal se lewens, maar hoekom het dit só ’n geweldige uitwerking op mense en veral op huwelikspaartjies?

Promosie

Ek glo dat ’n krisis die meeste van die kere wanneer dit opduik, die ontvangers daarvan onkant betrap. As dit nie só was nie, sou dit nie as ’n krisis beskou word nie. Dit is gewoonlik die dinge in die lewe waarvoor jy jouself nie voorberei nie, daardie dinge wat jou onverhoeds betrap.

Die uitwerking van krisisse kan baie negatiewe en verrykende gevolge hê. Daar is drie basiese metodes hoe paartjies en mense krisisse hanteer:

  • Vlug.
  • Vries.
  • Veg.

Wanneer na die eerste scenario gekyk word, dui dit daarop dat mense weghardloop van die situasie af. Dit is wanneer die partye ervaar dat die krisis só groot is dat hulle as’t ware bang raak daarvoor en daarvan wegvlug.

Promosie

Die gevolg is totale diskonneksie. Die persone of paartjies hardloop weg van mekaar, maar wel na ander plekke waar hulle veiligheid ervaar. Dit kan ander plekke óf mense wees. Hierdie wegvlug het gewoonlik die gevolg dat die paartjie se verhouding versleg.

Die krisis word wel bespreek, maar nie met mekaar nie. Die gesprekke oor die krisis word buite die verhouding gevoer met vriende, vriendinne of vertrouelinge. In hierdie proses word die paartjie al meer vervreemd van mekaar.

In die vlug-metode ervaar die paartjie dikwels dat die krisis te groot is om te hanteer en stap hulle dan weg van mekaar. Hierdie “uitstap” hoef nie altyd fisies te wees nie, dit kan emosioneel ook wees.

Let daarop dat die vlug-metode nie veroorsaak dat die krisis nie bespreek word nie, dit word net nie in die verhouding bespreek nie. Jaloesie, onveiligheid en die bekommernis dat ’n mens se maat jou nie vertrou en kies nie, vorm deel van dié paartjie. Dit het dan ook baie destruktiewe gevolge as dit nie hanteer word nie.

Die tweede manier is om te vries. Om te vries, beteken eenvoudig om doodstil te gaan sit of staan en niks te doen nie. Die klem lê hier op die woord “niks”.

Baie mense en paartjies ervaar dat die krisis sal verbygaan as hulle lank genoeg stilsit en maak asof niks gebeur het nie. Die gevolg is egter dat die krisis nooit hanteer word nie. Mense wat krisisse op die vries-metode hanteer, praat ook gewoonlik nie oor die krisis nie. Die krisis word met niks en niemand bespreek nie.

Die waarheid is egter dat die krisis bly en baie keer soos ’n kanker vreet aan die verhouding en die lewe van die paartjie of persoon. Die gevolge van vries is baie keer meer destruktief omdat daar ’n opbou-tydperk is waar emosies en gedagtes onderdruk word. Dit word ook dikwels toegegooi met ’n “geloofsdoekie” en die intensiteit van die krisis word ontken.

Krisisse kan nie op hierdie manier hanteer word nie. Die waarheid is dat dit op hierdie manier eintlik glad nie hanteer word nie. Die krisis sal bly groei.

Verder bestaan daar ook die moontlikheid dat die Here juis hierdie krisis oor die pad van die paartjie of persoon gestuur het om die paartjie of persoon te laat groei na die volgende vlak van konneksie en intimiteit.

Die vries-metode moet baie bewustelik hanteer word. As persone en paartjies weet dat dit gewoonlik die manier is hoe hulle krisisse hanteer, moet hulle bewustelik kies om dit op ’n gesonder manier te hanteer.

Om jou gesig weg te draai van ’n situasie, het nog nooit die situasie verander nie. Dit het wel die gevolg dat die verantwoordelikheid vir die oplossing aan iets of iemand anders oorgegee word. Talle mense in die geskiedenis van hierdie wêreld het al hulle fisiese lewens verloor omdat iemand met die vries-metode besluit het om niks te doen nie. Onthou, krisisse moet hanteer word.

Die derde manier, naamlik die veg-metode, is die beste manier om krisisse te hanteer. Om te veg, beteken om die krisis in die oë te kyk, die probleem by die horings te pak en dit nie toe te laat om verder verwoesting te saai nie.

Wat paartjies egter baie duidelik moet besef in hierdie manier van krisisse hanteer, is dat die krisis nie teenoor mekaar hanteer moet word nie. Die krisis moet gesien word as iets wat die paartjie wil verwoes. Die krisis lê buite die paartjie. Staan op as ’n span en besef dat die krisis die krag het om op te breek en te vernietig. Moet dus nie die geveg met mekaar hê nie, maar pak die geveg saam as ’n span aan.

Om die veg-metode te laat werk, moet daar doeltreffende kommunikasie wees. Daar moet ook veiligheid en deursigtigheid wees. As hierdie dinge nie teenwoordig is nie, sal die paartjie dit baie moeilik vind om as ’n span saam te werk. Dit is daarom ook belangrik om te kan sê dat hierdie dinge nie in krisistye verkry kan word nie. Dit moet dan reeds teenwoordig wees.

Dit werk soos ’n bankrekening, die huweliksbankrekening. Deposito’s word in die goeie tye in hierdie bankrekening gemaak. Dus is die balans in die groen en die oomblik as ’n krisis kom, kan daar onttrekkings plaasvind. Die krisisse kan dan net beter hanteer word en die paartjie is gemakliker om as ’n span saam die krisis aan te pak, en met ander oë na mekaar en die krisis te kyk.

Die veg-metode is ook die plek waar partye en persone besef wat vir hulle belangrik is. Dinge wat regtig waarde en prioriteit het, word ontdek en ook voor geveg. Persone en partye wat die veg-metode reg hanteer, kom gewoonlik baie sterker as ’n paartjie aan die ander kant uit. Hulle is ook die mense wat hoop skep vir ander wat deur dieselfde krisisse werk.

Kies dus om krisisse só te hanteer dat dit ’n trappie raak in die huweliks- en lewensreis om só saam groter hoogtes te kan bereik.

Ek sluit af met die volgende anonieme aanhaling: “Marriage does not guarantee you will be together forever. It’s only paper. It takes love, respect, trust, understanding, friendship and faith in your relationship to make it last.”

Artikel deur Kobus Pauw

Kobus en Linda Pauw
Verhoudingskonsultante en -Afrigters

www.connectionimpact.co.za